Thursday, 31 January 2013

Week 2 - Australia Day 2013

(25-31 Januarie 2013)
Die nuwe ouers leer baie! Elke doekruil vat 4 minute en 3 doeke(voor jy die nuwe een aan het, dan tjorts hy in hom, die volgende 'nuwe' een gebruik jy as 'n skild/sambreel en die derde een kry jy vas.) Dis salf en poeier en...

Ons het ons bekendstelling aan winde gehad. Ek word Vrydag wakker na 'n lekker nagrus en skrik amper toe ek Jeanelle sien. Sy lyk of sy die hele aand waggehou het. Ek bied toe aan om kante te ruil en aan Divvie se kant te lê, want wat kan tog so erg wees?
Na net 'n uur voel ek of my hele nagrus ongedaan gemaak is, want elke 5 minute gee Divvie 'n kreun. Ek het die res van die dag die tweetjies in afsondering probeer hou, sodat hulle nie mekaar wakker hou nie.

Ek was die hele week nog op kraamverlof :-) en Maandag 28 Januarie was ook 'n vakansiedag (een van die min): Australië-dag. Hier is 'n video boodskap van die Lambassedeur van Australia: Sam Kekovich.


29 Januarie was my eerste dag weer terug by die werk na die 'vakansie' (Watter vakansie?) Ek was nou nie juis uitgerus nie. Met een van die oproepe wat ek ontvang, hoeka met my bestuurder wat inluister op die oproep, vra ek toe vir 'n die kliënt wat haar sagteware se 'virgin' nommer is. Daar was so effense stilte, maar toe gaan ons aan asof niks gebeur het nie. :-)

Woensdag het Divvie en sy ma die strate in gevaar. Sy ouers leer nog hoe om hom in en uit die stootwaentjie en karstoeltjie in te laai. Hy het lekker keel opgesit toe sy ma hom by die winkel uitlaai en al die pad tot in die moederskamer, bloumoord geskreeu, totdat sy ma die deur van die privaatkamertjie toe gemaak het, toe is hy stroopsoet.
Ek het 'n paar week terug vertel van die winskopie van ons karstoeltjie, waar ons 'n $100 geskenkbewys gekry het. Jeanelle het nog gedink sy gaan gou inkopies doen, toe laat hulle weet dat hulle daardie oggend onder administrasie geplaas is en dat geskenkbewyse nie meer geldig is nie. :-|
As jy nie 'n sukses kan maak van 'n winkel waar daar elke dag 'n nuwe kliënt gebore word nie, dan doen jy iets verkeerd!

Baie Liefde en Groete

Johann

No comments:

Post a Comment