Thursday, 17 January 2013

Hallo World


(11 - 17 Januarie) Donderdag aand het Jeanelle tot 01:30 gewerk en Vrydag het dit gevoel of daar skuurpapier aan die binnekant van my ooglede was. Ek het oudergewoonte op Vrydag met 'n denim gaan werk as deel van die weeklikse 'casual'-dag, maar dit val my toe (eers by die werk) by dat my bestuurder gesê het dat die direkteur nie daarmee sal saamstem nie. Om by my lessenaar, langs die direkteur se kantoor, te kom moet ek verby almal loop en het ek opgemerk dat almal meer formeel as ek aangetrek is. Ek rol toe my stoel diep onder my lessenaar in en kyk of ek genoeg water het om my tot huistoegaantyd te hou. En daar kom die direkteur uit sy kantoor gestap en hy het ook sy denim aan. Sjoe!
Ek het die week op 'n paar oproepe ingeluister en as gevolg van die min slaap amper op die vrou, na wie se oproepe ek luister, se lessenaar aan die slaap geraak. Bier-uur kon nie gou genoeg kom nie, maar is weereens net deur die bestuur benuttig.
Jeanelle het 21:00 Vrydagaand eers tuis gekom na 'n laaste dag van malligheid by die werk. (Geen genade vir 'n swanger vrou nie.) Ons het nog 'n fliek ingewerk om bietjie engelse uitsprake van sekere name te hoor en was baie laat eers bed toe.
Ek was ook nie baie genadig nie; ons het Saterdag oggend 06:30 opgestaan om gou groentemark toe te gaan voor haar Sydney-babatee - 'n piekniek in een van Noord Sydney se pragtige parke saam met 'n groepie vriendinne. Die goeie nuus was dat dit nie gereën het nie; slegte nuus was dat dit 38ºC buite was. Die vriendinne (en hulle mans) het baie moeite gedoen en heerlike eetgoed gemaak! Ons het die middag saam met vriende gekuier en aan die einde van die dag op die bank neergeval. Ons was besig om Sondag te beplan; ons het beplan om NIKS te doen nie en net bietjie te rus. Toe hoor ek Jeanelle roep uit die badkamer: "Bokkie!..." Dis nooit 'n goeie teken nie. Laas keer toe dit gebeur het, was die swangerskap toets positief. "...ek dink my water het gebreuk." Dit was 22:30.
23:30 is ons by die hospitaal. Baie opwinding! Hulle neem Jeanelle op, koppel 'n monitor en beveel aan dat ons slaap!? lol
'n Slaappil later het ons van 03:00 tot 06:00 ongemaklik geslaap.
Met 'n kort onderbreking om 'n akkedissie te vang het ek nog nooit so baie geblaas en gedruk nie. Ek het halfpad deur myself moes stop uit vrees dat ek dalk self 'n aar (of dalk erger, 'n 'hernia') kan bars. Ek het myself ook goed gedra met die bloed en dinge. Het net bietjie vlou gevoel toe die kraamsuster die drip in Jeanelle se arm sit, maar verder moes ek sterk wees. :-)
Lang storie kort; byna 24 uur na die water gebreek het, het ons 20:38 'n pragtige seuntjie ryker geword.
Knip van die naelstring.
Sondagaand was maar kort en ek het darem 5ure slaap by die huis gekry. Jeanelle moes halfpad deur die aand opstaan vir borsvoeding. Geen genade vir 'n nuwe ma nie.
Ek het Maandag verlof gevat. Almal by die werk het verstaan, maar ek glo nie ek is geregtig om slaaptekort as 'n geldige rede in die toekoms te gebruik vir verlof nie. (Dis glo iets waaraan ouers gewoond moet raak. lol)

Dit is 'n ongelooflike hospitaal. Bedkassies bedek meeste van die pype en mediesetoerusting om die geboorte en herstel-kamers meer van 'n huislike atmosfeer te gee. As jou baba in die voormiddag gebore word, gaan jy na 3 aande huistoe en in die namiddag na 4 aande. Die nuwe ouers is welkom om verskeie klasse by te woon om meer te leer oor bad, borsvoeding ens. gedurende die hospitaalverblyf.
Sy pa (wat meer in die badklas moes opgelet het) het die deurskynende plastiek van die bad misgeskat en perongeluk sy kop elke keer gestamp terwyl hy deur sie water swaai.
Die hospitaal het ook vir Divvie 'n beertjie en mussie gegee en vir sy ma 'n geskenkpak met so bietjie bederf (Kamerjas, Sjampanje en Crabtree & Evelyn badprodukte) . Ek het Dinsdag en Woensdag weer gaan werk en is (teen my logika) op die fone toegelaat. Daar was min wat ek by die hospitaal kon doen, maar ek het seker gemaak dat ek elke oggend vroeg gou inloer. So bietjie vakerig van die minimum slaap, het ek die finale fase van opleiding by my werk regtig geniet. Gelukkig was die hospitaal net 900m opdraand van my werk af en oor middagete het ek, gou gehardloop om te gaan inloer.
High tea by die hospitaal vir Ouers (en familie)

Nie sleg vir hospitaal kos nie, 'n 3-gang maal. Ek het sommer ook bestel.

Dinsdag is ek verras deur 'n geskenk van die mense in my kantoor. 'n Geskenkpak kompleet met doeke, baba afvee-lappies en vopspene wat in die donker gloei. 'n Mens kan glo nooit genoeg doeke hê nie.
Gepraat van doeke; die Suster in die hospitaal het daai eerste oggend na die doek gekyk en gesê: "Dis sy eerste vuil doek, wil jy dit omruil?"
Lol. Nee! Wys my maar hoe.
Die outjie en sy ma het goed aangesterk en ek kon hulle Donderdag huistoe vat. Ek het 'n week of wat verlof gekry, om bietjie te help met die oorgangsfase. Omdat ek nie moes werk Donderdag nie, het ek bietjie laat gekuier by die hospitaal Woensdagaand. Dit het my so bietjie ingehaal toe ons Donderdag tuis kom. Al wat ek wou hê was 'n 2 ure middagslapie, maar klein Divvie het die groot dors gehad en was skielik glad nie meer so slaperig soos in die hospitaal nie.



(Vir baie was hierdie ou nuus, maar ek werk hard daaraan om op datum te kom. Baie onderbrekings op die oomblik. :-))

Baie liefde en groete

Johann

No comments:

Post a Comment