Thursday, 24 January 2013

Een week in

(18-24 Januarie) Sovêr oorleef ons. Na een week by die huis, was daar nog geen onbeheerware en ontroosbare gehuil nie. Met klein Divvie gaan dit ook goed.
Die yskas en vrieskas was byna leeg. Van die verlepte spanasie en varsprodukte wat ons Saterdag oggend gekoop het en op die kas vergeet het tot die Maandag na sy geboorte, kon ek darem meeste red en ek het gou hope kos gemaak vir die vrieskas (lamstjops, gebraaide hoender, stroganoff, spanasietert...), sodat etes een minder ding is waaroor ons, ons moes bekommer. Dis nou kos vir ons, Divvie eet sommer aan sy ma.

Behalwe babanuus is daar min wat hierdie week gebeur het, so wees gewaarsku...

Die nuwe ouers is op 'n styl leerkurwe, wat seker sal voortduur vir die volgende 18, 21 of (soos deesdae die norrem is) 30 jaar sal duur. Borsvoeding gaan goed en daar is op hierdie stadium min wat ek in die aand tussen 00:00 en 06:00 kan doen. Ek slaap hoofsaaklik deur, met voedings was elke 2-3 ure/24/7. Jeanelle is ingestel om deur enige geraas te kan slaap, maar as Divvie die sagste geluidjie maak, is sy wakker (Ek noem dit die ma-dar). Dit was ook die rede dat ek uitgerus wakker word vanoggend en uitvind dat hy elke 5 minute die vorige aand 'n kreun gegee het, oor 'n wind wat vassit. Dit het die hele dag gevat vir hulle twee om uit te rus. :-)

Met die baba-'gadgets': (Die hospitaal het eintlik vir ons bewys dat babas niks van die gedgets regtig nodig het nie, dis alles vir die ouers. Hulle is tevrede as hulle skoon, warm en vol is. :-) )
Die karstoeltjie werk lekker. Met die hospitaal net 1km van die huis af, het dit langer gevat om hom in en uit die stoeltjie te kry, as die rit self.
Die bad is heeltemal te klein vir 'n 4kg babatjie. So ook die badkamer wasbak. Ek tap nou maar die groot bad vol om hom te bad. (Dalk was dit die min slaap, maar ek het eers net-nou van die wastrog onthou, so ons sal vanaand dié probeer.)
Sy stootwaentjie werk lekker. Ons was vir ons eerste uitstappie tot by die koffiewinkel op die hoek van die straat.
Die beste 'gadget' moet die doekasblik wees. Die ding hou verbasend al die klank binne. Ons vul hom nogals vinnig. Ek het nie besef hoe vinnig ons deur doeke gaan nie. Gelukkig het ons 'n paar pakke geskenk gekry (van mense wat duidelik iets van babas geweet het). Ek raak al hoe beter met die doekomruil. Ek sal wel sê dat van die tonele reguit uit die film 'Slumdog Millionaire' kom (sien video hier onder).

Die week was stil, maar altwee die kerk se dominees het Donderdagmiddag kom kuier. Terwyl die een dominee uit die bybel lees en sy vrou vir Divvie vashou, het hy (Divvie) sy hardste poep nog gegee. Ek en Jeanelle het so hard as moontlik probeer om nie te lag nie en oogkontak met mekaar te vermy, maar ons kan nie een die einde van die dominee se boodskap onthou nie.

Ons mis al ons vriende en familie ekstra baie gedurende hierdie tyd en is hard besig om 'n geboortesertifikaat en paspoort te organiseer sodat ons drie kan kom kuier.

Baie Liefde en Groete,

Johann

No comments:

Post a Comment