Thursday, 7 February 2013

Moesh en rys

(1 - 7 Februarie 2013)
Skielik is ons baie suinig met naweke. Dis die twee dae waar ons al drie by die huis is. Ek was Saterdag gou Vrugte- en Groentemark toe want Sondag was die dag vir kosmaak vir die week!

'n Storie wat ek iewers gesien het:
Ma sê vir haar seuntjie wat nie sy pampoen wil eet nie: "Wag maar, vannag kom die duiwel jou haal!"
Daardie nag begin dit vreeslik reën.
Die donderweer dreun en weerligstrale klief deur die lug.
Ma raak bekommerd en wil by haar seuntjie gaan sit tot die weer opklaar.
Tot haar verbasing is hy nie in sy kamer nie. Sy kry hom voor ‘n oop yskasdeur besig om pampoen te eet.
Kort-kort prewel hy: "So ‘n flippen lawaai, en dit alles oor ‘n bietjie pampoen!"
Ek moes plek maak in die vrieskas vir die nuwe bevrore etes en daar was onderandere gevrieste pampoen (saam met die twee vars botterskorsie-pampoene wat ek by die mark gekry het). Ek het onder andere pampoen sop, soet pampoen en 'week-in-oënskou' en rys gemaak met die pampoen, sowel as boontjies, spanasietert en Thai groen kerrie(hoender) gemaak. Die week-in-oënskou het 'n hele rits bestandele gehad waaroor ek nie wil uitbrei nie, maar dit was bedoel om amper soos kerrie en rys te wees. Ongelukkig het die pampoen dit so 'n geel kleur gegee (amper identies aan baba-bollie) en ons het daarna verwys as 'moesh en rys'. (Dis nie baie mooi nie, so dit moet gesond wees.)

Heel van die noot af: Ek het ontdek dat AppleTv nou ook Suid Afrikaanse het.

Die verrassing van die week was toe ek Maandag oggend opstaan en heel deur die slaap kombuis toe loop om koffie te maak en toe ek na my foon kyk om te sien wat het in die wêreld gebeur terwyl ons geslaap het. Vir 'n verandering het ek 'n sms en nie net een nie! Divvie het die aand 'n nuwe niggie gekry, Madeleine!

By ons gaan die doek ruil al beter, een doek per ruil in net 4 minute. (As jy 'n gesoute ouer is, kan jy glo 'n nuwe doek aan 'n kleintjie sit terwyl hy verby hardloop, maar ons is nog nie daar nie.) Die winde ding gaan beter, omdat ons seker maak dat Divvie se winde gedurende en na die voedings ekstra goed uitgedryf word! Divvie word vinnig groot en sal binnekort 'n nommer 11 skoen kan dra.

Ons het 'n Mac Book (Apple Laptop) bestel en dié is afgelaai, ongelukkig was daar maar min tyd om daarmee te speel, met verlede jaar se belastingopgawes wat ook in die ry wag vir aandag.

By die werk het daar iemand van 'n maand lange vakansie af terug gekom en die ou het 'n hoër prioriteid op die foonsisteem, wat tot gevolg het dat hy al die inkomende oproepe kry. Teen 10 uur die oggend het ek nog net een kliënt gehelp wat wou weet waar haar 'version' nommer is. :-)

Om bietjie tyd te spaar in ons naweek, het ons besluit om gou na my werk winkels toe te gaan en gebruik te maak van Donderdagaande se laat-aand inkopies (winkels in Australië is Donderdae tot 21:00 oop) om gou 'n sak vir die Mac Book, 'n Swaddle (om Divvie in toe te draai/gespe) en Divvie se paspoort foto's te laat maak. Die paspoort foto's het Jeanelle vroeër die week wou laat neem, maar by die betrokke winkel moes jy 'n wit kombers bring vir agtergrond en syne het toe beertjies op en sy oë wou elkgeval net toeval.
Ek kan nie glo hulle verwag dat 'n 3 weke oue babatjie reguit na die kamera moet kyk sonder om te glimlag, en sonder 'n skaduwee nie!? $15 se Photoshop later het ons ons fotos en almal is gelukkig.
Die 'swaddle'. Hierdie eem is vir 3-12 maande en nog so bietjie groot, daarom die pennetjie(as die 'swaddle' nie styf genoeg is nie, dan werk dit nie)

Ons probeer paspoort fotos neem.

50 fotos en $15 later.
Die geld vir Divvie se Australiese NSW-registrasie is van die rekening af en ons verwag dit eersdaags. Dan kan ons aansoek doen vir sy Suid Afrikaanse geboortesertifikaat en paspoort en dan kan ons kom kuier!

Liefde en Groete
Johann

No comments:

Post a Comment