Uitgerus na 'n goeie nagrus het ons Vrydag aand opgemaak vir die treurige Valenteinsdag deur 'n pizza te bestel en Semi-Soet op AppleTV af te gelaai.
Ek het Saterdagoggend gou mark toe gegaan. Die 50 rooi rose wat ek by die blomme afdeling van die groentemark gekry het, het skaars opgemaak vir wat ek gedink het is die grootste winskopie; Ek het 'n $5 boks perskes gekry, 'n $5 boks ryp tamaties en net $2 vir 'n boks vol oor-ryp en gekneusde groen- en rooipepers met 'n paar vrot kolle en 2 blomkole wat so bruin kolle begin kry het (nou nie juis vars nie, maar goedkoop, pepers kos $4/kg by die winkels wat byna net een heel peper is, maar ek kon 4.5kg opgesnyde pepers uitkry, nadat al die slegte dele weggesny was).
Nog so bietjie ongewild het ek en 'n vriend gaan bier drink by Argyle's ('n restaurant wat in 'n ou tronk gebou is), terwyl Jeanelle saam met Sydney se Afrikaanse Vroue vereniging na die SangriLa hotel gegaan het vir sjokolade 'High-tea'.
Daar was nog te min uitgemelkte melk vir my om 'n Saterdagaand voeding oor te neem. Sondag was ons amper in trane toe dit lyk of die borsmelk suur geword het, maar ons het gelukkig gehoor dat die room en melk net skei en dat dit na 'n skud of twee weer 100% is. Sondagaand se voeding was nag; ek het Divvie in die een arm en my ander hand se pinkie in sy mond, want dit is al wat die ongeduldige outjie kalm hou, terwyl ek die bottel moet aanmekaar sit en warm kry sonder om dit in die mikrogolf te sit. Ek het hom later op die snybord gehad met my pinkie in sy mond, terwyl ek met die ander hand verder sukkel. Na die 1.5 uur lange voeding het dit nog 40 minute gevat om hom weer aan die slaap te kry en ek was so ontsteld dat ek self meer as 'n uur gesukkel het om te slaap.
Maandagaand was ek meer voorbereid en dit het net 2 ure gevat. Hy was so honger dat hy die bottel melk en al die ekstra melk in die yskas gedrink het. Dinsdagaand het hy die bottel en die ekstra melk gedrink sommer koud gedrink en toe moes ek sy ma wakker maak vir nog.
Die outjie weeg al 6kg! Woensdag was hy in 'n groei-fase en het hy aanmekaar gedrink. Daar was nie ekstra melk vir my om 'n voeding in die nag oor te vat nie.
Donderdag was dit Jeanelle se eerste 'Moedersgroep' byeenkoms. ('n Groepie ma's wie se kinders almal binne 3 weke van mekaar gebore is, almal van dieselfde area, wat weekliks bymekaar kom.) Daar het Jeanelle onder andere gehoor dat dit nie goed is dat ek elke aand dieselfde voeding oorneem nie en so is ek vir eers van my dienste onthef.
![]() |
Dis amper hoe my berg kwitansies gelyk het, voordat dit 'gefile' was. |
Ek het intussen, so tussen deur, ook uiteindelik my belasting vraelys voltooi, sodat die ouditeur sy toorkuns kan doen. Om dit te doen, moes ek 'n sak vol kwitansies op die rekenaar insleutel. Volgende finansiële jaar sal ek dit gouer inhandig. (Dis nou in Australië weer aan die einde van Junie. Oor 4 maande.)
Liefde en Groete
Johann
No comments:
Post a Comment