Thursday, 14 February 2013

Slaap-armoede

(8 - 14 Februarie 2013)
Dis was die eerste week nadat ek terug is by die werk en dit het bietjie lank geraak. By die huis het ek 'n vrou, 'n kind en 'n mac waarmee ek eerder sou wou tyd spandeer. Ons (Ek) besef nou stadig dat die gesinnetjie nou 3 mense is.

Ek was nie mark toe nie en moes $8/kg boontjies betaal, teenoor die $4/kg by die mark of $1/kg as jy by die mark se boere afdeling koop (dan moet jy ongelukkig grootmaat bv. minimum 5kg boontjies koop).

Ons het die naweek tyd gekry om bietjie te ontspan en om saam met vriende wat 3 seuntjies het (1, 3 en 5 jaar) te gaan piekniek hou. Ons mag nooit weer kla dat ons moeg is nie!
Dieselfde dag was ons vir ontbyt by Blues Point (by die Sydney Harbour Bridge), winkel toe, huistoe, piekniek toe en weer huistoe en elke keer is Divvie in en uit die karstoeltjie en die stootkarretjie. Teen die einde van die dag was hy nie baie gelukkig nie, maar ons kan sê dat ons nou presies weet hoe die karstoeltjie en die stootkarretjie werk.

Heeltemal oorgretig hardloop ek Maandag 08:30 om betyds te wees vir werk en toe ek gaan sit sê my bestuurder: "Jy is vroeg! Moet jy nie 9:00 tot 17:30 vandag werk nie?" Ek het vergeet van die nuwe skedules en self my naweek met 30 minute verkort. Ai!
Dinsdag het ek eers gesien dat my baas my die vorige middag reeds genooi het na 'n evaluasie, om te sien wat ek alles al geleer het. Ek weet nie of ek goed gedoen het nie, maar ek het nog werk. :-)

Woensdag was Divvie 1 maand oud! Hy en Jeanelle het al die pad na my werk gestap en ek is nie seker wat die aand gebeur het nie, maar toe ons in die bed klim was dit reeds 00:00. 'n Tekort aan slaap is die grootste probleem vir nuwe ouers. Alles is moeiliker om te verwerk met min rus. Ek het nog bietjie meer as Jeanelle gerus, want sy moes haar nagrussie onderbreek om vir Divvie te voed. Die oggend toe sien ek die borspomp (wat nog in sy verpakking is) staan op die kas. Mamma is nou moeg!

Oppad terug van die werk af gaan ek gou by die apteek aan vir medisyne vir Divvie. "Wat is wrong?" vra die apteker, "does he have wind, constipation, cramps or reflux?" En ek glimlag terwyl ek dink: "All of the above!" (Het julle dalk 'n mengsel?). Hy makeer eintlik niks nie, hy slaap salig by die huis, maar ek is net bang iets voorkom dat dit so aanhou. :-) Ek het geglimlag en besef ek soek eintlik net geblikte slaap.

14 Februarie 2013 was die stilste Valenteinsdag ooit (ons het vooraf ooreengekom dat ons niks sou doen nie, geen geskenke, geen kaartjies, geen blomme, niks nie) (ek het 'n klein sjokolade hartjie tydens midagete gekry wat iemand uitgedeel het, terwyl ek geloop het om 'n nuwe buskaartjie te gaan koop. Ek het vir 'n oomblik oorweeg om darem dit saam huistoe te vat, maar ek het die energie self nodig gehad). 21:00 was ons in die bed. (Om te slaap.)


Liefde en Groete
Johann

No comments:

Post a Comment