Ons moes Saterdag eers gou so bietjie admin doen voor ons die strate kon invaar; Jeffrey (die kar) se registrasie het Vrydag verval en ons moes dit vir die eerste keer self hernu. Elke versekeringsmaatskappy waar ons oorspronklik kwotasies aangevra het, het vir ons instruksies gestuur en vorms om dit deur hulle te doen. Met internet en 'n kredietkaart was dit 'n duur maar vinnige uitstappie. Die 'rego'(lisensieskyfie) kom vooraf in die pos en is geldig sodra jy die registrasie gelde betaal het, maar om dit te kan doen moet jy eers 'CTP(Compulsary Third Party Insurance)' betaal. Die kar is nog nuut, so gelukkig was daar geen inspeksie vereistes nie.
Die versekering rol ook outomaties oor en ek sien toe dat jy 5% afslag kan kry as jy jou CTP deur dieselfde versekering uitneem. Ek bel om te hoor of dit ingereken is en hulle sê "Nee, maar as ek huisinhoud ook verseker, dan is dit 10% af". Goeies!
Wil ek iets spesifiseer? OK, dan is dit $10/jaar meer.
Is dit verseker terwyl ek 'travel'?...O Nee, dis $10/jaar meer.
Goed dis nou teen Fire, Theft and Damage? ...O Nee, 'damage' is $10/jaar meer.
Dis toe dat ek ophou vra.
Saterdag in die strate :-) |
- Ons het hierdie pak MEGA Marshmallows gekry, met marshmallows so groot soos appels. As jy een eet, dan is jy vol.
- Die Cream Soda is bruin en dit smaak meer soos marshmallows.
- Dit was mooiweer en warm en almal het hulle kortste somersklere gedra wat verlede somer gepas het. (LW: die regter been word nog deur 'n voorskoot toe gehou, 2"-3" langer as die denim.)
Maandag by die werk, na 3 'closed-door meetings' deur die bestuurders, sales-baas en groot-baas die afgelope paar weke, het die boodskap 180° verander. Ons moenie worry oor 18 verkope vir die maand nie, 40 is ook goed!? Ons doen eintlik goed!? (Laat ek hierdie eerder kort knip, ek gaan net lelik wees.)
Twee weke vroeër as verwag is ons iPhone5's ook Maandag oggend afgelaai! (Ek moes gou vir middagete huis toe gaan. :-))
iPhone5 |
(Jammer dat ek hierdie blog so dagsgewys doen, maar daar het nogals baie gebeur)
Ons was Dinsdagaand by 'n kerkvergadering. Ons het gedink daar gaan 'n stem wees vir 'n nuwe dominee, aangesien die engelse dominee aftree, maar die vergadering was slegs om 'n kommitee te kies wat later 'n voorstel kan maak. Ons het nie besef hoe lief die engelse lidmate is vir ds. Corrie is nie. Hulle wou hom eers dadelik verkies, maar volgens een of ander reël, moet die pos vakant wees, maar ou engelse dominee is nog op 'long-service' verlof tot November. Toe dit tyd is vir nominasies was daar net die een vir ds. Corrie en toe die voorsitter vra of enige iemand die besluit wou teenstaan, kon jy 'n speld hoor val. Dieselfde ding toe hy vra vir enige ander voorstelle. Nou moet hulle net hoop hy kan nog 3 maande wag vir die pos.
Teen 21:00 het ek begin siek voel en teen 1:30 was ons hospitaal toe omdat ek nie meer vloeistof inhou nie. :-| Ek wil nie te veel uitbrei daaroor nie, maar kom ek sê maar net dat as ek by die toilet moes kniel, sou ons die handoeke teen die muur moes weggooi.
Ons moes 3 ure wag, omdat ons dit nie life threatening was nie en hulle besig was om 'n pasiënt met 'n binneaarse 'tube' te soek wat vroeër met bebloede klere en palmblare in sy sakke eers moes gaan rook, terwyl hulle vir hom steke ingesit het. Hulle het hom later telefonies in die hande gekry. Hy was besig on deur die begrafplaas te wandel. (04:30 in die oggend!?)
Daar was ook 'n ander geval van 'n man wat nie kon slaap nie oor 'n hoes. (Flatering eye movement as jy my vra.) Hy wou eintlik net hê dat die dokter sy werk bel en sê hy is in die hospitaal. Toe hulle 'n bors X-straal van hom wou neem, het hy voorgestel dat hy eers kyk of dit nie beter raak nie, anders sou hy 'n ander dag weer terug kom.
Teen 08:30 en twee liter binne-aarse vloeistof later, is ek ontslaan.
Ek het later uitgevind dat die helfte van die kantoor dieselfde kiem onderlede het en dat dit nie voedsel vergiftiging is nie. (Dankie tog, want ons was vroeër die aand by ons gunsteling 'burger'-plek)
Ons eie dokter het my later die dag ondersoek en het gesê dat ek teen Vrydag beter behoort te voel, maar wou weet of ek sommer Vrydag ook afgeboek wou wees. :-) ('n Mens kry 15 dae betaalde siekverlof in Australië en as jy nie mag gewone verlof kry nie, dan kyk jy nie 'n gegewe perd in die bek nie. PS. Ek het Vrydag nog so bietjie wankelrig gevoel.)
Ek het gelukkig genoeg krag gehad om 1 km stasie toe en terug te stap en 1 uur trein te ry na 'n winkel wat bereid was om vir ons simkaarte (nano-sims) te gee. Ons kan nog nie met die fone bel nie, omdat ons nommers nie na die simkaarte oorgedra kon word nie, maar kon darem die fone aansit. lol.
Ons simkaarte is in die pos en behoort later die week hier te wees.
Die langnaweek was redelik bedrywig, maar meer daaroor in hierdie week se blog.
(Maandag was 'n vakansiedag in NSW en die blogger was bietjie siek, dié dat die blog so laat is.)
'n Lekker week vir julle!
Liefde en Groete
Johann
No comments:
Post a Comment