Thursday, 25 October 2012

In die sweet van jou aangesig

Ek het die Saterdag soos 'n bediende gewerk. Daar is mos nie bediendes in Australië nie. Ons was, stryk, stofsuig, vou op, stof af en mop self. Dit was die laaste naweek voor Ma Annalie kom kuier en daar is behoorlik skoon gemaak. (Ligskerms is nou binne en buite skoon en die mat is bo en onder gestofsuig!) Die woonstel is nou baie skoon en netjies (soos altyd :-) ). Ons was Saterdag middag 16:00 nog in ons nagklere, besig om vloere te skrop en nuwe slope oor die kussings te trek.

 Na die lang dag se sloof, het ons 'n fliek gaan kyk,"The Intouchables". Ek sou dit nie genoem het as dit nie 'n besonderse fliek was nie. Die onderskrifte het nie gepla nie en dit is nie 'n tranetrekker nie. Dis 'n ware goed-voel-fliek waarin jy nie vooraf reeds weet wat gaan gebeur nie en ontspanne, met 'n glimlag, uit die teater stap.



Dis geen geheim dat ek 'n relatiewe konserwatiewe kerk verkies nie. (Nou nie heel Dopper nie, maar niks meer liberaal as die liedboek met orrelspel nie.) Dis ook dan dié dat my vrou vir my 'n kalmeerpilletjie oorweeg het toe sy hoor ons is genooi na vriende se doop (van hul babaseun, nie hulself nie) by die 'Hillsong' kerk. (Dis glo moontlik om dit op dstv te kyk, maar moenie wakkerbly om ons te probeer sien nie, want die kamera is gewoonlik net op die mense met hulle hande in die lug....maar ek gaan myself nou vooruit.)
Dit het soos net voor 'n rugbywedstryd gelyk. Daar is 'n springkasteel vir die kinders, koffiestalletjies, spookasemstalletjies, (amper soos in 'n temapark) verskeie verversing stalletjies. Jy kan t-hemde en kepse koop en dvds en boeke...
Noag-se-ark-springkasteel

30 minute voor die diens

Die konsert
Ongeveer 21000 mense woon die dienste elke naweek by.
Die diens bestaan basies uit drie dele: 'n paar energiebelaaide liedjies gelei deur die 'entertainers' om almal in 'n redelike trans in te werk, 'n pastoor wat 'n paar stories vertel met aanhalings uit die bybel en dan weer die 'entertainers' wat seker is dat almal, na 'n liedjie of twee, in goeie stemming verdaag. Die entertainers sluit 8 of 10 sangers, saam met 'n koor, en 'n hele klomp instrumente; 'n viool, kitare en minstens twee dromstelle in. Die doop is ook vervang deur 'n dedication, wat ek nie heel gesnap het nie, maar dit kom glo op dieselfde neer (glo net minder konserwatief volgens die pastoor!?).
Die hele opset het my 'n bietjie aan die "Apple-store" laat dink. Jy kan sien dat hier baie mense saam werk. (of die persoon op die verhoog wat spontaan begin huil het vooraf beplan was sal ons nooit weet nie.) Hierdie kerk is nie sommer sonder baie beplanning begin nie. Daar is verskillende afdelings vir verskillende ouderdomsgroepe en honderde mense wat help om die hele organisasie te laat werk, seker minstens 4-6 kamera manne, mense vir die beligting en die klank, mense wat na die tyd bybels uitdeel, mense wat al die stalletjies en 'kiosks' beman, mense wat na die kinders in die verskillende kinderkerke kyk van 0 jaar tot 25 ....
(Different strokes for different folks) Tien uit tien vir hulle, dat hulle mense na die kerk toe lok en 'n goeie boodskap verkondig. Ek kan sien hoe hulle nuwe mense lok/'convert' met hulle metodes en ek is baie bly vir hulle. Ek persoonlik verkies 'n rustiger atmosfeer en 'n dieper boodskap, maar ek sal erken dat dit werklik 'n belewenis was en dat ons kerk (wat sukkel om 2 naweke in 'n ry meer as 6 mense te trek) baie by Hillsong kan leer. Alles hoef nie altyd net doom en gloom te wees nie, daar is ook plek vir 'n blye boodskap!

Woensdag was ek vir 'n onderhoud. Ek stap toe sommer uit die onderhoud uit en in 'n onbeplande afspraak (wat ek op my dagboek gesit het om my roete te regverdig) en verkoop 'n masjien. ;-)  Ons wag nog vir terugvoer en moontlike uitnodigings na opvolg onderhoude.
Die agent wat moet help met ons PR aansoek is besig om dinge te oorkompliseer en daar is so bietjie twis tussen Jeanelle se maatskappy en die agent. Dit lyk tans of hulle voorlopig vir nuwe 457 visums gaan aansoek doen terwyl hulle met 'n ander agent onderhandel. (Ai!) Met 'n 457 visum word jy, in sommige situasies, amper soos 'n 'asylum seeker' behandel. lol
Goeie nuus is dat die nuwe agent glo meer as die helfte goedkoper gaan wees.

My graad het in die pos gekom en net 'n foto op Jeanelle se 'facebook' het 22'Likes' en 11'Comments' gehad na 2 dae. Dit verbaas my soms dat ek die einaardigste foto kan publiseer en geen reaksie op 'facebook' kry nie, maar dat ander mense dan honderde 'likes' en 'comments' kan kry nadat hulle iets breindood 'post' soos "Ek wonder oor mense"(Regtig, jy ook? Kom oor dit en beweeg aan!) "nie weer nie" (unfriend...'click') of net "sug..." (wtf!?)

My 2 dae verlof vir volgende week is met 'n groot gesug en lang gesigte goedgekeer (net-net te min om te bedank), maar hulle sal nog my ander 3 dae vir die week daarop bespreek. ("Maak so! En laat my sommer weet as dit nie reg is nie!" Verlof is mos 'n moerse guns in my maatskappy. Een van die dae gaan hulle dit elkgeval aan my moet uitbetaal.)
Alles is gereed vir Ma Annalie se kuier. Die kar is gewas en gestofsuig. Ons hoop net hulle laat haar op die vliegtuig toe met al die bagasie. :-) Gelukkig kan die Yaris se sitplekke platslaan.

Liefde en Groete

Johann

No comments:

Post a Comment