Sunday, 27 May 2012

Nuus, Spies en Lotto

Nie nodig gehad om lank te wag nie! Johann! kom die gil uit die badkaner (noù, sy noem my nie gereeld dit nie)... Hier is twee strepies!...



Sy het 'n skype date later met Tanya gehad en kon nie, nie vertel nie. Daar is ook geen rede om goeie nuus stil te hou nie, maar ons kon werk aan die volgorde wat mense uitvind, so ons spandeur toe die volgende paar ure om ouers en broers te bel. Pa Braam en Ma Annalie sit op Kaapstad lughawe en huil van vreugde, Ma Gerda se reaksie het my laat terug dink aan toe ek haar vra of ek met Jeanelle kon trou; en sy eers gou die honde veearts toe moes vat voordat sy verder met my kon praat en Pa Anton het dit heel goed hanteer en geen noodlottige ongelukke veroorsaak nie.
23:30 spring ons in die bed en na 'n kort naggie met min slaap moes Jeanelle die volgende oggend reeds 06h00 op die lughawe wees! Ons het teen Woensdag middag nog net met mekaar oor die foon kon praat, maar ek was in elkgeval nie seker wat om te sê nie.

Lag nog soos iemand wat se huis afbrand. Nie seker of ons gereed is nie, ons wou nog ryk word, huis koop, PR kry, ....

Hulle het so 'n paar weke gelede 'n $70 000 000 Oz Lotto gehad. Nadat ons vergeet het om 'n kaartjie te koop, was daar so bietjie troos toe een of ander wiskunde professor op die TV sê dat:" Your chances of winning if you haven't bought a ticket is almost the same as when you have bought a ticket." (Ons het nie gewen nie.)

Om terug te kom by die eintlike storie; Ek dink nie 'n mens kan ooit 100% reg wees vir sulke nuus nie. Ons het gelukkig agt maande om voor te berei. lol. Emosies wipplank nog tussen paniek en vreugde.

Terug in Pretoria het 'The Spear' die nuus so oorgeneem, dat niemand eens agter kom dat hulle nou 30 minute langer soek na enige plek in 'n stad waar al die straatname verander het nie.

Vrydag aand was yskoud met 'n snerpende wind en al wou ons eerder net rustig by die huis wees, het ons 'n verjaarsdag partydjie in die Sydney middestad gehad. Daar aangekom bel ons om te hoor waar almal is, net om uit te vind, ons is een dag te vroeg.

[Persvryheid het so bietjie gesukkel in Australië die afbelope paar weke, dis die rede vir die delay.]

Baie Liefde en Groete,

Johann

No comments:

Post a Comment