Friday, 26 August 2011

It takes two to tango

Verlede naweek was heerlik. Dalk 'n bietjie gejaag/vinnig verby om dit die moeite werd te maak, maar baie lekker.

Ons het Saterdag op 'n wyn toer van die Barossa wyn- gebied gegaan. Om 08h30 het John, ons toergids ons by die hotel gekry. Dit was nogals lekker om die gas te wees en ons het lekker aan YCT gedink. John het ons eers opgelaai en nog 8 ander mense moes opgelaai word, so toe kry ons sommer 'n bietjie van 'n stad toer ook. Adelaide is min of meer dieselfde groote as Pretoria (+/- 1.1 miljoen mense), met 'n bree groengordel wat reg om die middestad gaan. 

Teen 10h00 het ons gedink John kan ons nou maar by die hotel gaan aflaai, want ons het klaar genoeg inligting gekry. Die man het teen daardie stadium nog glad nie opgehou praat nie. Hy het een skoot deur gepraat en gegids, totdat hy ons 18h30 weer afgelaai het. Soos meeste wyntoere seker maar is, was dit baie lekker en jolig. Ons het baie wyn geproe. Meeste heel drinkbaar. Hulle het nogals baie ander variëteite druiwe in Australie. En as ons vir 10 ure aanmekaar kon konsentreer sou ons nou self ook kon wyn maak. Die hoogtepunt was die kans om wyn wat van 'n 168 jaar oue wingerd gemaak is te proe. Dit was heerlik (soos al die ander, maar baie sag op die tong). Volgens die gids, is dit al hoe makliker om goeie wyn te maak, hoe ouer die wingerdstok. In daardie geval behoort hulle sommer net die druiwesap te bottel vir hierdie een.

Baie geluk aan Ard Matthews. Ek sluit hier 'n video in waarna ek verwys en sommer die regte woorde vir die volkslied ook in. Hy het seker gemaak dat niemand ooit weer 'n wit Afrikaner gaan vra om die volkslied te sing nie. As hy maar net gemaak het of hy die Afrikaanse deel ook vergeet, dan kon hy 'tydelike onbewusheid' gepleit het.

Ek het toe sommer gister die Dominee gebel, (eintlik om die tee uit te stel, want die woonstel was toe nie , volgens Jeanelle, so skoon soos ek gedink het hy is nie), toe hy vra of ons nog by dié kerkie is. Wel, kom ons sê maar net daar is nie meer rede vir tee nie. Hy was bietjie teleurgesteld, omdat hy gedink het dat, aangesien ons die enigste lede onder die ouderdom van 70 is, ons die kerkie sal kan herbevolk. 
Dit sal dalk makliker wees as ons ons nou en dan in die selfde stad is. Goeie nuus is dat Jeanelle vir eers bietjie tuis is. 
Gepraat van herbevolking, dit lyk vir my of die mense in Pretoria hard besig om nasie te bou. Baie sterkte aan Wian en (veral)Leoné, ons hoor ons word Maandag oom en tannie. :-)

Ek het ook weer bietjie begin oefen hierdie week, selfs verder as net Maandag. Dink die oefening maak sommer goeie hormone los, wat mens sommer meer energie gee en beter laat voel. Ek het ook met selfde sukses die studies hervat. Aanhou wen.

Ek het hierdie week darm so bietjie komiese verligting ontdek, na aanleiding van Nataniël se stuk in die nuutste Sarie. Hy het glo 'n insetsel op Radio Sonder Mense, oor etiket. Dit het ons, hierdie week, klip hard op die trein laat sit en lag. Let wel, as jy dit op die webwerf soek, RSG noem dit Potgooie!? Hier is 'n 'Link' na die nuutste potgooi oor "Heisbak Etiket", meer potgooie is hier beskikbaar, op die RSG webwerf.

Hoop dat almal die naweek geniet.

Liefde en Groete

Johann

No comments:

Post a Comment