Friday, 19 August 2011

'n Naweek saam in Adelaide

Dit was 'n stil en alleen week met Jeanelle in Adelaide van Dinsdag af.
Nog geen nuus van die 'recruitment' mense af nie. Ek moet nou eers bietjie tyd aan my studies spandeer, maar die soektog gaan voort. By die werk gaan dinge beter met die nuwe ou wat Dinsdag begin het. Binnekort sal ek kan ophou met die krisusbestuur en weer begin uitblink.
Ons Dopper/Presbyterian dominee wil hierdie week kom tee drink, :-| .

Jeanelle moet hierdie week en volgende week in Adelaide wees en haar werk het ingestem om eerder hotelverblyf vir twee te betaal, vir hierdie naweek, as om retoer vliegtuig kaartjies vir haar te kry om in Sydney te kuier.

Ek het Donderdag sommer my tas saam werk toe gevat, sodat ek direk lughawe toe kon gaan. Ek het 'n voucher gehad vir die Qantas lounge en het díe optimaal gebruik. Al het ek net 30 minue gehad, het ek kaas, brood-stokkies, koolslaai (Ai!), sop, nog kaas met vye blokkies, 'n bier, lemoensap en 'n sjokolade brownie gehad.
Die vlug was met een van Australië se lae koste lugdienste, Jetstar, en ek was vir twee ure, in die voorste ry, tussen twee mans in ge'wedge' (daar is nie 'n Afrikaanse woord wat dit beter beskryf nie). Die een aan my linker kant was 'n regte brat. Hy het my aan Shane Warne laat dink. Eers het hy alles op die spyskaart bestel (hy kon seker nie in die Qantas lounge ingaan nie) en toe 'n vertraagde speletjie, wat vir 'n iPhone gemaak is, op sy iPad gespeel, terwyl ons op Adelaide lughawe getaxi het. Asof die lugwaardin net met die ander mense gepraat het, toe sy gevra het dat almal hulle elektroniese toerusting asseblief moet af skakel totdat die vliegtuig tot stilstand kom.
Aan my regterkant was daar 'n pliggie met 'n laptop en 'n aandag tekort wat aangebied het om die ander passasiers se handbagasie in sy ekstra been spasie te hou. Dis nadat die lugwaardin verduidelik het dat ons, wat by die nooduitgang sit, geen bagasie by ons mag hê nie. Ek was onseker of die seun die nooduitgang instruksies sou kon verstaan en het solank vir my tweede-naaste uitgang begin soek. Ek het toe maar my neus vir 2 ure in die nuutste iPad uitgawe van PC&Tech Authority begrawe, terwyl ek en Shane vir die armlening stoei.

Ons het vandag die onmiddelike area en strand verken, en later die trem deur die middestad geneem. Môre gaan ons op 'n wyntoer na die Barossa wyn gebied. Ons bly op die see in die Stamford Grand hotel.

Ek sien dat al die vriende wat op vakansie was ook weer bietjie terugkeer, van die Karoo en Parys, na Pretoria om 'n bietjie te werk.
Sterkte aan nig Nadia, geniet Boston!

Hoop dit gaan goed met almal.
Liefde en groete,

Johann

1 comment:

  1. Hi Joe,

    Is bly om te hoor jy blink uit, nie net by die werk nie, maar ook in die Quantas lounge! Die bier, lemoensap en brownie kombinasie klink of dit 'n interessante smaak in die mond kan laat!

    Die mense wat nie op vakansie was nie is inderdaad nog steeds nie op vakansie nie en werk nog die hele tyd! Klink of julle darem elke nou en dan wegkom vir kort vakansies, sommer jaloers!

    Groetnis,

    Lafras

    ReplyDelete