Thursday, 31 January 2013

Week 2 - Australia Day 2013

(25-31 Januarie 2013)
Die nuwe ouers leer baie! Elke doekruil vat 4 minute en 3 doeke(voor jy die nuwe een aan het, dan tjorts hy in hom, die volgende 'nuwe' een gebruik jy as 'n skild/sambreel en die derde een kry jy vas.) Dis salf en poeier en...

Ons het ons bekendstelling aan winde gehad. Ek word Vrydag wakker na 'n lekker nagrus en skrik amper toe ek Jeanelle sien. Sy lyk of sy die hele aand waggehou het. Ek bied toe aan om kante te ruil en aan Divvie se kant te lê, want wat kan tog so erg wees?
Na net 'n uur voel ek of my hele nagrus ongedaan gemaak is, want elke 5 minute gee Divvie 'n kreun. Ek het die res van die dag die tweetjies in afsondering probeer hou, sodat hulle nie mekaar wakker hou nie.

Ek was die hele week nog op kraamverlof :-) en Maandag 28 Januarie was ook 'n vakansiedag (een van die min): Australië-dag. Hier is 'n video boodskap van die Lambassedeur van Australia: Sam Kekovich.


29 Januarie was my eerste dag weer terug by die werk na die 'vakansie' (Watter vakansie?) Ek was nou nie juis uitgerus nie. Met een van die oproepe wat ek ontvang, hoeka met my bestuurder wat inluister op die oproep, vra ek toe vir 'n die kliënt wat haar sagteware se 'virgin' nommer is. Daar was so effense stilte, maar toe gaan ons aan asof niks gebeur het nie. :-)

Woensdag het Divvie en sy ma die strate in gevaar. Sy ouers leer nog hoe om hom in en uit die stootwaentjie en karstoeltjie in te laai. Hy het lekker keel opgesit toe sy ma hom by die winkel uitlaai en al die pad tot in die moederskamer, bloumoord geskreeu, totdat sy ma die deur van die privaatkamertjie toe gemaak het, toe is hy stroopsoet.
Ek het 'n paar week terug vertel van die winskopie van ons karstoeltjie, waar ons 'n $100 geskenkbewys gekry het. Jeanelle het nog gedink sy gaan gou inkopies doen, toe laat hulle weet dat hulle daardie oggend onder administrasie geplaas is en dat geskenkbewyse nie meer geldig is nie. :-|
As jy nie 'n sukses kan maak van 'n winkel waar daar elke dag 'n nuwe kliënt gebore word nie, dan doen jy iets verkeerd!

Baie Liefde en Groete

Johann

Thursday, 24 January 2013

Een week in

(18-24 Januarie) Sovêr oorleef ons. Na een week by die huis, was daar nog geen onbeheerware en ontroosbare gehuil nie. Met klein Divvie gaan dit ook goed.
Die yskas en vrieskas was byna leeg. Van die verlepte spanasie en varsprodukte wat ons Saterdag oggend gekoop het en op die kas vergeet het tot die Maandag na sy geboorte, kon ek darem meeste red en ek het gou hope kos gemaak vir die vrieskas (lamstjops, gebraaide hoender, stroganoff, spanasietert...), sodat etes een minder ding is waaroor ons, ons moes bekommer. Dis nou kos vir ons, Divvie eet sommer aan sy ma.

Behalwe babanuus is daar min wat hierdie week gebeur het, so wees gewaarsku...

Die nuwe ouers is op 'n styl leerkurwe, wat seker sal voortduur vir die volgende 18, 21 of (soos deesdae die norrem is) 30 jaar sal duur. Borsvoeding gaan goed en daar is op hierdie stadium min wat ek in die aand tussen 00:00 en 06:00 kan doen. Ek slaap hoofsaaklik deur, met voedings was elke 2-3 ure/24/7. Jeanelle is ingestel om deur enige geraas te kan slaap, maar as Divvie die sagste geluidjie maak, is sy wakker (Ek noem dit die ma-dar). Dit was ook die rede dat ek uitgerus wakker word vanoggend en uitvind dat hy elke 5 minute die vorige aand 'n kreun gegee het, oor 'n wind wat vassit. Dit het die hele dag gevat vir hulle twee om uit te rus. :-)

Met die baba-'gadgets': (Die hospitaal het eintlik vir ons bewys dat babas niks van die gedgets regtig nodig het nie, dis alles vir die ouers. Hulle is tevrede as hulle skoon, warm en vol is. :-) )
Die karstoeltjie werk lekker. Met die hospitaal net 1km van die huis af, het dit langer gevat om hom in en uit die stoeltjie te kry, as die rit self.
Die bad is heeltemal te klein vir 'n 4kg babatjie. So ook die badkamer wasbak. Ek tap nou maar die groot bad vol om hom te bad. (Dalk was dit die min slaap, maar ek het eers net-nou van die wastrog onthou, so ons sal vanaand dié probeer.)
Sy stootwaentjie werk lekker. Ons was vir ons eerste uitstappie tot by die koffiewinkel op die hoek van die straat.
Die beste 'gadget' moet die doekasblik wees. Die ding hou verbasend al die klank binne. Ons vul hom nogals vinnig. Ek het nie besef hoe vinnig ons deur doeke gaan nie. Gelukkig het ons 'n paar pakke geskenk gekry (van mense wat duidelik iets van babas geweet het). Ek raak al hoe beter met die doekomruil. Ek sal wel sê dat van die tonele reguit uit die film 'Slumdog Millionaire' kom (sien video hier onder).

Die week was stil, maar altwee die kerk se dominees het Donderdagmiddag kom kuier. Terwyl die een dominee uit die bybel lees en sy vrou vir Divvie vashou, het hy (Divvie) sy hardste poep nog gegee. Ek en Jeanelle het so hard as moontlik probeer om nie te lag nie en oogkontak met mekaar te vermy, maar ons kan nie een die einde van die dominee se boodskap onthou nie.

Ons mis al ons vriende en familie ekstra baie gedurende hierdie tyd en is hard besig om 'n geboortesertifikaat en paspoort te organiseer sodat ons drie kan kom kuier.

Baie Liefde en Groete,

Johann

Thursday, 17 January 2013

Hallo World


(11 - 17 Januarie) Donderdag aand het Jeanelle tot 01:30 gewerk en Vrydag het dit gevoel of daar skuurpapier aan die binnekant van my ooglede was. Ek het oudergewoonte op Vrydag met 'n denim gaan werk as deel van die weeklikse 'casual'-dag, maar dit val my toe (eers by die werk) by dat my bestuurder gesê het dat die direkteur nie daarmee sal saamstem nie. Om by my lessenaar, langs die direkteur se kantoor, te kom moet ek verby almal loop en het ek opgemerk dat almal meer formeel as ek aangetrek is. Ek rol toe my stoel diep onder my lessenaar in en kyk of ek genoeg water het om my tot huistoegaantyd te hou. En daar kom die direkteur uit sy kantoor gestap en hy het ook sy denim aan. Sjoe!
Ek het die week op 'n paar oproepe ingeluister en as gevolg van die min slaap amper op die vrou, na wie se oproepe ek luister, se lessenaar aan die slaap geraak. Bier-uur kon nie gou genoeg kom nie, maar is weereens net deur die bestuur benuttig.
Jeanelle het 21:00 Vrydagaand eers tuis gekom na 'n laaste dag van malligheid by die werk. (Geen genade vir 'n swanger vrou nie.) Ons het nog 'n fliek ingewerk om bietjie engelse uitsprake van sekere name te hoor en was baie laat eers bed toe.
Ek was ook nie baie genadig nie; ons het Saterdag oggend 06:30 opgestaan om gou groentemark toe te gaan voor haar Sydney-babatee - 'n piekniek in een van Noord Sydney se pragtige parke saam met 'n groepie vriendinne. Die goeie nuus was dat dit nie gereën het nie; slegte nuus was dat dit 38ºC buite was. Die vriendinne (en hulle mans) het baie moeite gedoen en heerlike eetgoed gemaak! Ons het die middag saam met vriende gekuier en aan die einde van die dag op die bank neergeval. Ons was besig om Sondag te beplan; ons het beplan om NIKS te doen nie en net bietjie te rus. Toe hoor ek Jeanelle roep uit die badkamer: "Bokkie!..." Dis nooit 'n goeie teken nie. Laas keer toe dit gebeur het, was die swangerskap toets positief. "...ek dink my water het gebreuk." Dit was 22:30.
23:30 is ons by die hospitaal. Baie opwinding! Hulle neem Jeanelle op, koppel 'n monitor en beveel aan dat ons slaap!? lol
'n Slaappil later het ons van 03:00 tot 06:00 ongemaklik geslaap.
Met 'n kort onderbreking om 'n akkedissie te vang het ek nog nooit so baie geblaas en gedruk nie. Ek het halfpad deur myself moes stop uit vrees dat ek dalk self 'n aar (of dalk erger, 'n 'hernia') kan bars. Ek het myself ook goed gedra met die bloed en dinge. Het net bietjie vlou gevoel toe die kraamsuster die drip in Jeanelle se arm sit, maar verder moes ek sterk wees. :-)
Lang storie kort; byna 24 uur na die water gebreek het, het ons 20:38 'n pragtige seuntjie ryker geword.
Knip van die naelstring.
Sondagaand was maar kort en ek het darem 5ure slaap by die huis gekry. Jeanelle moes halfpad deur die aand opstaan vir borsvoeding. Geen genade vir 'n nuwe ma nie.
Ek het Maandag verlof gevat. Almal by die werk het verstaan, maar ek glo nie ek is geregtig om slaaptekort as 'n geldige rede in die toekoms te gebruik vir verlof nie. (Dis glo iets waaraan ouers gewoond moet raak. lol)

Dit is 'n ongelooflike hospitaal. Bedkassies bedek meeste van die pype en mediesetoerusting om die geboorte en herstel-kamers meer van 'n huislike atmosfeer te gee. As jou baba in die voormiddag gebore word, gaan jy na 3 aande huistoe en in die namiddag na 4 aande. Die nuwe ouers is welkom om verskeie klasse by te woon om meer te leer oor bad, borsvoeding ens. gedurende die hospitaalverblyf.
Sy pa (wat meer in die badklas moes opgelet het) het die deurskynende plastiek van die bad misgeskat en perongeluk sy kop elke keer gestamp terwyl hy deur sie water swaai.
Die hospitaal het ook vir Divvie 'n beertjie en mussie gegee en vir sy ma 'n geskenkpak met so bietjie bederf (Kamerjas, Sjampanje en Crabtree & Evelyn badprodukte) . Ek het Dinsdag en Woensdag weer gaan werk en is (teen my logika) op die fone toegelaat. Daar was min wat ek by die hospitaal kon doen, maar ek het seker gemaak dat ek elke oggend vroeg gou inloer. So bietjie vakerig van die minimum slaap, het ek die finale fase van opleiding by my werk regtig geniet. Gelukkig was die hospitaal net 900m opdraand van my werk af en oor middagete het ek, gou gehardloop om te gaan inloer.
High tea by die hospitaal vir Ouers (en familie)

Nie sleg vir hospitaal kos nie, 'n 3-gang maal. Ek het sommer ook bestel.

Dinsdag is ek verras deur 'n geskenk van die mense in my kantoor. 'n Geskenkpak kompleet met doeke, baba afvee-lappies en vopspene wat in die donker gloei. 'n Mens kan glo nooit genoeg doeke hê nie.
Gepraat van doeke; die Suster in die hospitaal het daai eerste oggend na die doek gekyk en gesê: "Dis sy eerste vuil doek, wil jy dit omruil?"
Lol. Nee! Wys my maar hoe.
Die outjie en sy ma het goed aangesterk en ek kon hulle Donderdag huistoe vat. Ek het 'n week of wat verlof gekry, om bietjie te help met die oorgangsfase. Omdat ek nie moes werk Donderdag nie, het ek bietjie laat gekuier by die hospitaal Woensdagaand. Dit het my so bietjie ingehaal toe ons Donderdag tuis kom. Al wat ek wou hê was 'n 2 ure middagslapie, maar klein Divvie het die groot dors gehad en was skielik glad nie meer so slaperig soos in die hospitaal nie.



(Vir baie was hierdie ou nuus, maar ek werk hard daaraan om op datum te kom. Baie onderbrekings op die oomblik. :-))

Baie liefde en groete

Johann

Thursday, 10 January 2013

Stilte voor die storm?

Ek het blykbaar nie die hele Donderdag gecover nie, dus die rede vir die effense overlap (3 - 10 Januarie 2013)
Na geen hoofpyn gedurende die vakansie nie en net 2 dae terug by die werk het Jeanelle toe al 2 migrains oorleef (ek dink ek het nou die oorsaak gevind). Terwyl ons op die medies is; sy jeuk nie meer nie, dit was 'n newe-effek van 'n aanvulling. (Nota vir 2013: Aanvullings is gif, of dit nou vir yster of hare is.) Ek moes Donderdag vir 'n 'Wooping-cough' inenting gaan (pynloos) en die dokter sê my hare groei mooi terug. (Ek sal volgende keer 'n foto van Riaan Kruywagen vir my haarkapper kan wys en sê sny. :-))

Net voordat die Australië grense toegemaak het, het Jeanelle so 'n paar dae gevat om 'n boks uit Suid Afrika deur 'Customs' te kry. Die boks (kom al die pad van die huis af, spesiaal vir die 11000km-van-die-huis-af babatee, Saterdag 10:00 GMT+2) (19:00 Sydney tyd.) Om reg te maak daarvoor het ek die vryetyd by die werk as gevolg van die oombliklike tekort aan leiding tot my voordeel gebruik om ondersoek te doen na hoe om die 11000km te verminder. (Kwaliteit = NB!) Ek deel my top4 opsies:
1. FaceTime:
(Voordele: Goeie beeld kwaliteit, Min/geen 'lag', werk oor wifi [en 3G met nuutste sagteware], werk al is program nie oop nie)
(Nadele: Net vir Apple produkte, geen groep-video)
2. Fring:
(Voordele: Goeie Beeld, Gratis groep-video, werk oor wifi en 3G)
(Nadele: Almal het dit nie, moet ingeteken wees om te kan skakel)
3. Skype:
(Voordele: Almal het dit, werk oor wifi en 3G, groep-video vir 'n fooi)
(Nadele: Geen groep-Video oor foon, bedenklike beeld/klank kwaliteit)
4. Viber:
(Voordele: Uitstekende klank kwaliteit oor 3G en Wifi, werk al is program nie oop nie)
(Nadele: Geen video beeld)

Saterdagoggend vroeg (dis naweek, so 9:00 is nog vroeg) is ons oppad...om klaar te maak...om oppad te wees na 'n rekenaar winkel 30 minute se ry anderkant die groentemark vir 'n nuwe moederbord. Dis die enigste plek was ek op google kon kry wat oop is en voorraad het, sodat ek die rekenaar kan regkry, sodat almal gelyk mekaar kan hoor en sien met 'n groep-video. My Indiegogo Projek doen nie goed genoeg nie, so die ou rekenaar moet reg.
'n bietjie uit oefening uit, maar ek kan nog 'n rekenaar reg maak.
Moederbord in die hand (maar effens uit oefening uit met die terme) is ons groentemark toe en huis se kant toe. So 3 blokke van die huis af stop ons gou vir 'n 15:00 middagete, toe ons vir die eerste keer die  'open' rekenaar winkeltjie, oorkant die straat, sien. (...en ek wonder wat ek met die ekstra uur in my Saterdag sou kon doen.)

17:00 Werk die rekenaar nog nie. Ons is besig om toetsoproepe na Kaapstad, Pretoria en Durban/Balitto te maak om te toets wat die beste werk oor wat ons het en dis tyd vir krisisbestuur. Gelukkig kon ek nog 'n iPad by 'n Apple-vriend leen en met die ma's op die iphones en die vriendinne oor die iPad het dit relatief/baie goed gewerk. Die vriendinne het versierings en Suid Afrikaanse verversings in die boks gepak wat ek voor die tyd moes reg kry. En daar hou ons baba-tee 11000km van die huis af!
Duidelike instruksies in die boks wat in lagies gepak was.
 Baie dankie aan almal wat gehelp het, inge'log' het en 'n bydrae gelewer het om dit so 'n spesiale geleentheid te maak.
Babatee oor Facetime, Skype en Fring
Note to self: Om groot pakkies te stuur (en as dit net een boks is); vergelyk altyd die prys van gewone lugpos. 'Freight forwarders soos Pasiwa is baie goed indien jy meer as een boks wil stuur en self ook die roete vlieg, aangesien die eerste boks +/- R2400 kos en die tweede/derde net +/- R300 to R500 ekstra en dit dan net as additional luggage tel. (Vergelyk ook die kostes van ekstra tasse of gewig met die lugredery.) 

Nietemin: Vraggeld $240, kwarentein vir skyfies en sjokolade $49, invoerbelasting vir wyn $48, doeane agent $105, Quantas hanterings fooi $92, familie en vriende wat 'n boks met 17kg geskenke vul en 'n Baba-tee 11000km van die huis af reel: 'PRICELESS!'
Na 'n heerlike babatee. Vreeslik Dankie!
Daardie volgende oggend teen 02:00 was die rekenaar uiteindelik weer reg. :-)
Sondag, na 'n slapie, het ek hoofsaaklik blogge ingehaal, want hier het weer niks gebeur tydens die vakansie nie. :-)

Die groot vraag wat by die babatee opgeduik het is: Wat gaan ons die outjie noem? Wel, dit was minder van 'n geheim en meer 'n geval van sy ouers wat nog deur die lang-kortlys werk. Soveel name soveel betekenisse en hoe beinvloed dit sy toekoms? Op hierdie stadium is die bekendste De Villiers seker...
...Pieter de Villiers (voormalige Springbokrugbyafrigter)...
...en om eerlik te wees is hy nou nie juis die beste rolmodel nie.

By die werk was ons, sedert 'n maand voor my aanstelling, in 'n tydelike kantoor wat hulle gehuur het omdat die konstruksies aan weerskante van ons hoofkantoor soveel geraas het dat die maatskappy nie kliënte oor die foon kon hoor nie. Maandag (7 Januarie) was dit tyd om terug te trek. Toe ek natuurlik my rekenaar na die skuif in die netwerk inprop, toe veroorsaak ek 'n kortsluiting tussen die foon- en rekenaarnetwerk wat toe veroorsaak dat die hele hoofkantoor se fone en internet af is. Iemand het dit gelukkig uitgewerk terwyl ek met middagete was. Toe ek terug kom, na middagete, het my baas gesê hy is nou 6 maande agter met sy werk. Oeps.

Elke oproep wat ons maak na vriende of familie in Suid Afrika, verwag almal dat ons klein Divvie se geboorte wil aankondig, maar sy ma werk nog hard en daar is geen nuus op die baba front nie. :-) Jeanelle brand die kers op altwee punte om alles klaar te kry voordat sy Vrydag haar rekenaar terug gee en op (onbetaalde) kraamverlof gaan. Ons leef al op 6 ure slaap per nag vir die afgelope week.

Liefde en Groete

Johann




Thursday, 3 January 2013

Van sit en staan bly lê die lekkerste

(28 Desember - 3 Januarie)
'Customs' is gesluit vir pos tussen Kersfees en nuwejaar, maar ons is vriendelik verras deur 'n pakkie uit Kanada wat nog deur geglip het met beddegoed en versierings vir klein Divvie se kamer. Dit was dalk net die aanmoediging wat ons nodig gehad het om die kamer reg te kry. Iets wat ons nou al vir byna 7 maande uitstel. lol
Ons moes inderhaas 'n matras vir die kot kry. Die verkoopsdame was nog besig om rond te bel vir voorraad, toe koop ons sommer die een van die 'display'. Jeanelle se kantoor is opgepak en stadig maar seker het die kamer begin vorm kry.
Baba-laaikas

Dei instruksies. Laat my aan Lego dink.

Die kot

Wie lees en wie bou?

Reg vir aksie!
Met belaglike warm weer, het ons meeste aande krismisbed onder die lugversorger in die sitkamer gemaak. Die babakamer is aan die warm/son kant van die woonstel en ek dink ons gaan maar almal nou en dan, op warm aande, in die sitkamer slaap, maar sy kamer is reg vir gewone (matige) dae en nagte.

Die hawebrug (in agtergrond) vanaf Cockatoo Island.
Ons het Saterdag soveel vakansie probeer hou as moontlik, met 'n besoek aan die groentemark, middagete saam met vriende by Watson's Bay en baie ferry gery en sommer Cockatoo Eiland ook besoek, waar 'n mens kan 'glamp' (Amper soos 'camp' maar meer 'glamarous'. lol) Dit lyk na 'n rustige wegbreek so binne in die stad. Asof die ferry ry nie ontspannend genoeg is nie. (Dis nou mits jy nie 'n 'trainee skipper' kry wat 10 minute vat om die boot naby die kaai te kry nie.

Na heerlike 'scones' wat my vrou vir ontbyt gemaak het is ons weer winkels toe op vir die beter deel van ons Sondag (ons kon net nie die 'after Christmas sales rush' misloop nie) want na al die ge-rond-'shop' om die beste waarde babastoeltjie te kry kon dié nie in ons kar pas nie. :-|
Ongelukkig vir Mothercare wat aanbied om enige prys te 'match' en 'n 'voucher' te gee vir die verskil, kry ons toe by David Jones (soos London se Harrods in Australië), na 'n lang dag, 'n stoeltjie wat pas, vir $100 minder as by Mothercare. $$-)

Ons spaar nog 'n verdere $40 deur die stoeltjie self te installeer, soos net twee handige, besorgde ouers kan. (Alternatiewelik kon ons iemand betaal om die instruksies te lees en dit dan vir ons te doen.)
Voordat julle die "Ai Johann, dit is verkeert om"-'comments' stuur:
die stoeltjie moet 'rearward facing' wees vir babas van 0 tot 6 maande.
(volgens die instruksies wat ek gelees het) ;-)
Na al die harde werk van die vakansie: kersinkopies, babakamer, baba-inkopies, ens. was dit tyd om bietjie in te haal met die ontspanning en ons was oujaarsdag op die strand, voordat ons die nuwejaar saam met vriende ingewag het. Ons het gesukkel met ons sonskerm in die 45km/h wind en moes die hele ding, met gebreekte veselglas penne en al in die asblik gooi.

Nuwejaar kon ons nie aan 'n beter manier dink om die laaste dag van vakansie te spandeer as weer die strand nie, gewapen met 'n nuwe sonskerm en 'n 'weather-app' wat bevestig dat die wind nie weer gaan opkom nie. (Ons is hoeka die witste mense daar. En ek bedoel dit nou uit 'n sonbrand oogpunt, 'or lack thereof').

Terug by die werk was dit heel rustig. Te rustig. Ek moes myself besig hou, want die meisie wat ons 'training' doen is te besig met voorbereiding vir haar werkswinkels om om te gee oor die nuwe mense. Daar was gelukkig 3 toetse wat ek kon doen, maar dit het my net vir 3 ure besig gehou. Niemand weet wanneer kom die ander mense of die bestuurders van verlof af nie en die fone lui, almal gaan gelyk op middagete, maar ek mag nog nie die fone optel nie. Ek kan maar net hoop dat daar binnekort 'n bestuurder van verlof af terug kom.

Met die einde/begin van die jaar wil ek net van die geleentheid gebruik maak om 'n paar goeie apps te noem wat ek in 2012 gebruik het:
Noemenswaardige Apps van 2012
GoogleMaps: 'n nuwe app met 'voice guidance', publieke vervoer, viets roetes en al.
DragonBox+: is 'n app/speletjie wat kinders/enige iemand leet hoe om algebra te doen. Baie interessant, maar teen $6 'n bietjie duur, veral as jy die hele spel kan klaarmaak in 20 minute. Nietemin, 'n goeie idee om kinders aan algebra bekend te stel.
He-Man: 'n ware 'classic'. Ek moes net. Nou spring daar elke paar dae 'n boorskap op my foon op dat ek dadelik die wereld moet kom red teen Skeletor. lol!
Pocket-Whip: Nie noodwendig 'n gebruiklike app nie, maar dit het vermaak verskaf; Ek kan nog onthou toe ek hierdie app gebruik het om vir my ma te wys hoe om iets eenvoudigs van die appstore af te laai met die iPhone en sy 'n paar dae later vir Wian vra: "Wat doen 'n mens met hierdie app?"
Couch-to-5k: Ek moet weer hierdie een begin gebruik as deel van my nuwejaarsvoornemings . lol
(Lees die sersant se uitroep) 
Ons het Woensdag, die 2de, gou stad toe gegaan om vir een van Jeanelle se vriendinne en haar familie wat vroeër die dag van Suid Afrika hier aangekom het, gou 'n paar kruideniers te vat. Dis toe ons voor die woonstel gebou (109 woonstelle) staan met twee pap selfone, dat ons besef ons het net die straatadres en niks anders nie. 'n Nuwe selfoonlaaier later, kon ons darem facebook raadpleeg vir 'n onlangse foto en dis net toe dat ons haar man, met kruideniers op die sypaadjie sien aankom. 

Ons 'juicer' word nog gereeld gebruik. Om die waarheid te sê, hy koel skaars af. Die nuutste is: ABC-sap: Appel, Beet en wortel-sap (Apple, Beetroot and Carrot). 

Ons klim nog heen en weer oor die 'babatee-in-'n-boks', maar meer daaroor in volgende week se blog.

Alles van die beste en 'n voorspoedige (en vir die vriende: vrugbare) 2013!

Liefde en groete,

Johann