Thursday, 25 October 2012

In die sweet van jou aangesig

Ek het die Saterdag soos 'n bediende gewerk. Daar is mos nie bediendes in Australië nie. Ons was, stryk, stofsuig, vou op, stof af en mop self. Dit was die laaste naweek voor Ma Annalie kom kuier en daar is behoorlik skoon gemaak. (Ligskerms is nou binne en buite skoon en die mat is bo en onder gestofsuig!) Die woonstel is nou baie skoon en netjies (soos altyd :-) ). Ons was Saterdag middag 16:00 nog in ons nagklere, besig om vloere te skrop en nuwe slope oor die kussings te trek.

 Na die lang dag se sloof, het ons 'n fliek gaan kyk,"The Intouchables". Ek sou dit nie genoem het as dit nie 'n besonderse fliek was nie. Die onderskrifte het nie gepla nie en dit is nie 'n tranetrekker nie. Dis 'n ware goed-voel-fliek waarin jy nie vooraf reeds weet wat gaan gebeur nie en ontspanne, met 'n glimlag, uit die teater stap.



Dis geen geheim dat ek 'n relatiewe konserwatiewe kerk verkies nie. (Nou nie heel Dopper nie, maar niks meer liberaal as die liedboek met orrelspel nie.) Dis ook dan dié dat my vrou vir my 'n kalmeerpilletjie oorweeg het toe sy hoor ons is genooi na vriende se doop (van hul babaseun, nie hulself nie) by die 'Hillsong' kerk. (Dis glo moontlik om dit op dstv te kyk, maar moenie wakkerbly om ons te probeer sien nie, want die kamera is gewoonlik net op die mense met hulle hande in die lug....maar ek gaan myself nou vooruit.)
Dit het soos net voor 'n rugbywedstryd gelyk. Daar is 'n springkasteel vir die kinders, koffiestalletjies, spookasemstalletjies, (amper soos in 'n temapark) verskeie verversing stalletjies. Jy kan t-hemde en kepse koop en dvds en boeke...
Noag-se-ark-springkasteel

30 minute voor die diens

Die konsert
Ongeveer 21000 mense woon die dienste elke naweek by.
Die diens bestaan basies uit drie dele: 'n paar energiebelaaide liedjies gelei deur die 'entertainers' om almal in 'n redelike trans in te werk, 'n pastoor wat 'n paar stories vertel met aanhalings uit die bybel en dan weer die 'entertainers' wat seker is dat almal, na 'n liedjie of twee, in goeie stemming verdaag. Die entertainers sluit 8 of 10 sangers, saam met 'n koor, en 'n hele klomp instrumente; 'n viool, kitare en minstens twee dromstelle in. Die doop is ook vervang deur 'n dedication, wat ek nie heel gesnap het nie, maar dit kom glo op dieselfde neer (glo net minder konserwatief volgens die pastoor!?).
Die hele opset het my 'n bietjie aan die "Apple-store" laat dink. Jy kan sien dat hier baie mense saam werk. (of die persoon op die verhoog wat spontaan begin huil het vooraf beplan was sal ons nooit weet nie.) Hierdie kerk is nie sommer sonder baie beplanning begin nie. Daar is verskillende afdelings vir verskillende ouderdomsgroepe en honderde mense wat help om die hele organisasie te laat werk, seker minstens 4-6 kamera manne, mense vir die beligting en die klank, mense wat na die tyd bybels uitdeel, mense wat al die stalletjies en 'kiosks' beman, mense wat na die kinders in die verskillende kinderkerke kyk van 0 jaar tot 25 ....
(Different strokes for different folks) Tien uit tien vir hulle, dat hulle mense na die kerk toe lok en 'n goeie boodskap verkondig. Ek kan sien hoe hulle nuwe mense lok/'convert' met hulle metodes en ek is baie bly vir hulle. Ek persoonlik verkies 'n rustiger atmosfeer en 'n dieper boodskap, maar ek sal erken dat dit werklik 'n belewenis was en dat ons kerk (wat sukkel om 2 naweke in 'n ry meer as 6 mense te trek) baie by Hillsong kan leer. Alles hoef nie altyd net doom en gloom te wees nie, daar is ook plek vir 'n blye boodskap!

Woensdag was ek vir 'n onderhoud. Ek stap toe sommer uit die onderhoud uit en in 'n onbeplande afspraak (wat ek op my dagboek gesit het om my roete te regverdig) en verkoop 'n masjien. ;-)  Ons wag nog vir terugvoer en moontlike uitnodigings na opvolg onderhoude.
Die agent wat moet help met ons PR aansoek is besig om dinge te oorkompliseer en daar is so bietjie twis tussen Jeanelle se maatskappy en die agent. Dit lyk tans of hulle voorlopig vir nuwe 457 visums gaan aansoek doen terwyl hulle met 'n ander agent onderhandel. (Ai!) Met 'n 457 visum word jy, in sommige situasies, amper soos 'n 'asylum seeker' behandel. lol
Goeie nuus is dat die nuwe agent glo meer as die helfte goedkoper gaan wees.

My graad het in die pos gekom en net 'n foto op Jeanelle se 'facebook' het 22'Likes' en 11'Comments' gehad na 2 dae. Dit verbaas my soms dat ek die einaardigste foto kan publiseer en geen reaksie op 'facebook' kry nie, maar dat ander mense dan honderde 'likes' en 'comments' kan kry nadat hulle iets breindood 'post' soos "Ek wonder oor mense"(Regtig, jy ook? Kom oor dit en beweeg aan!) "nie weer nie" (unfriend...'click') of net "sug..." (wtf!?)

My 2 dae verlof vir volgende week is met 'n groot gesug en lang gesigte goedgekeer (net-net te min om te bedank), maar hulle sal nog my ander 3 dae vir die week daarop bespreek. ("Maak so! En laat my sommer weet as dit nie reg is nie!" Verlof is mos 'n moerse guns in my maatskappy. Een van die dae gaan hulle dit elkgeval aan my moet uitbetaal.)
Alles is gereed vir Ma Annalie se kuier. Die kar is gewas en gestofsuig. Ons hoop net hulle laat haar op die vliegtuig toe met al die bagasie. :-) Gelukkig kan die Yaris se sitplekke platslaan.

Liefde en Groete

Johann

Quietly milking the system

(13-19 Oktober) Ons het al ons wintersklere en die klere wat nie meer pas (want ons is swanger) ge-'vacuum-pack'. Daar is nou sommer baie meer plek in ons kaste. Sondag het ons gou 'n 'brunch' ingepas saam met ons Afrikaanse vriende (wat ampertjies 'n goeie vriendskap opgevoeter het deur my alleen na die Engelse kerkdiens te laat gaan. Jeanelle moes gou nog 'n paar laaste-minuut-goed doen en het my alleen laat gaan. Die vriende het gelukkig (10 minute laat, maar wel) opgedaag. Eerder laat as nooit.) Na 'brunch' by Kitchen-by-Mike is Jeanelle vir die tweede-laaste keer, voor klein Diffie se geboorte, Auckland toe.

Dinsdag was dit D-Dag vir salarisse en (reg vir baklei) het ek dadelik toe ek by die kantoor aankom, op my internet bankdiens ingeteken. Ons maatskappy sal nooit 'n prysverhoging vergeet nie en dit het al gebeur dat 'n maatskappy al hulle eerste rekening kry, voordat hulle, hulle masjien ontvang het. En daar is dit; die geld in my rekening, verhoging en al. Die wind was so uit my seile gehaal dat ek amper iets anders gesoek het om oor te baklei. Dalk moes ek sommer toe vir verlof gevra het. :-)

Die week het gevoel of dit in "slow-motion" verby gaan.
Ek het 3 telefoon onderhoude gehad (die eerste sommer Maandag uit Kanada) en twee in persoon. Ek het baie skuldig gevoel om in werkstyd vir onderhoude te gaan en ek het gewoonlik die res van die dag soos 'n besetende gewerk sodat ek iets kon wys ingeval my bestuurder vra waar ek was.

Ek sal in die volgende blog meer vertel van ons 'doop' by die Hillsong kerk, maar nou eers 'n kykie na van die 'gadgets' wat ons op die internet bestel het.
Nappy Champ: Ja, doeke het glo hulle eie asblik nodig. Anders as meeste ander doek-asblikke op die mark, kan jy hierdie een saam met enige sakke gebruik en daar is glo plek vir 'n week se doeke. :-) (Baie van die ander vervaardigers vereis dat jy hulle spesiale sakke koop, wat glo 'n duur storie raak.)  Dankie vir die goeie raad, Naomi! 

'n Puj badjie: Gemaak van 'n tipe sagte-rubber wat in meeste wasbakke pas. Die beste deel is dat wasbakke gewoonlik 'n gemaklike hoogte is en dat jy nie na die tyd met 'n bekertjie die water uit 'n groot bad, wat te swaar is om op te tel, hoef te skep nie.

Die Puj badjie vou ook plat op en absorbeer geen water nie, so die badjie kan na gebruik afgevee en gestoor word.

'n Infra-rooi termometer: Kan temperatuur oombliklik neem, sonder aanraking. (Nee, die mat is nie 36.6ºC nie.)

Tommee Tippee/Closer to Nature babamonitor: Om die outjie te sien en te hoor. Die monitor sluit 'n afstandbeheerde kamera, kamer termometer, bewegings/asemhalings monitor vir onder die matras en 'n nagliggie in.

Die Nuwe Quinny Zapp Xtra - (With Folding Seat): Stoor gemaklik
in sy eie dra-sak.

iPhone...by die stootwaentjie: net om te wys hoe klein die waentjie opvou. Ja, hierdie waentjie pas selfs in die Yaris se kattebak.

In 3 maklike stappe is die waentjie opgeslaan en reg vir ry. Ons oefen nog om die waentjie vinnig en sonder moeite op en af te slaan, soos dit nuwe ouers betaam.
Die blog is 'n bietjie agterstallig as gevolg van die bedrywige naweek, maar ek hoop julle het 'n lekker week gehad. Die volgende blog is ook alreeds oppad.

Liefde en Groete

Johann





Saturday, 13 October 2012

'n Gejaag na wind 2

Verlede Saterdag het Jeanelle 'n High Tea by Sydney se Park Hyatt hotel gehad.
Uitsig vanaf die Sydney Park Hyatt se restaurant.
(Dit is nie Photoshop nie)
Terwyl die vrouens besig was met koek en tee, het ek saam met 'n vriend gaan bier drink by die "Heritage Belgian Beer Cafe" en die aand was heeltemal te gou verby.
Heritage Belgian Beer Cafe
Die uitstappies het ons gehelp om van die vorige week te vergeet en bietjie te ontspan. Sondag was ek bietjie ongewild want ek het hoofsaaklik aan my nuwe CV gewerk (met al die veranderings, weglatings, insluitings en korreksies soos aanbeveel). Dit vat nogals 'n ruk om alles wat mens wil sê te kondenseer in 'n paar sinne, eerder as die klein 'font' en volledige gebruik van papier, kolomme en 'text-boxes' in my vorige weergawe. Dit het nie gehelp dat die horlosies met 'n uur vorentoe gestel word nie. (Nou 9ure verskil met SA.)

Maandag oggend moes Jeanelle vroeg by die lughawe wees.
Dinsdag oggend moes die kar vroeg ingevat word voor werk.
Woensdag oggend moes ons vroeg ry want Jeanelle moes by die kantoor afgelaai word voor ek gaan werk.
Donderdag oggend moes ek ekstra vroeg by die kantoor wees vir 'training'.
Vrydag was bietjie rustiger met Jeanelle wat my by die werk afgelaai het want sy het die kar nodig gehad, maar oggende was propvol hierdie week. ('n Naweek, om te herlaai, is reeds kort en dit het nie gehelp dat verlede naweek nog 'n uur korter was nie).

Ons doeke-asblik het opgedaag, saam met 'n paar wipes wat op 'n spesiale aanbod was. (Nou nie juis iets wat ons kan uittoets voor die tyd nie.)
Ons laai ons klein pakkie op by '24 Hour Parcel Pick Up'
Jeffrey (die Yaris) moes Dinsdag ingaan vir 'n diens (hier moet jy jou kar elke 10000km of 6 maande diens). Die kar is nog onder waarborg en ons dienste is ge-'cap' op $160, maar dit was nie 5minute na ek by Toyota weg is nie toe kry ek 'n oproep: Wil ek nie die injectors en cylinder-heads laat skoonmaak nie? Dis net $99 ekstra. "Hoekom, is daar iets fout?" vra ek. "Nee, hulle stel voor dat jy dit glo elke 10000km doen."(Regtig?) "Hoekom?" "Nee, dit keer dat daar build-up in die enjin vorm en dit verlaag brandstof verbruik." (Regtig. Seun, die kar is 1 jaar oud met 20000km en dis boonop 'n Yaris. Hoe laag wil jy die brandstof verbruik hê?) Ek kan dalk nou nie self 'n kar se enjin bou nie (hoewel ek seker is dat ek dit 'n goeie 'go' kan/sal gee) maar ek weet genoeg om te weet as ek vir 'n 'ride' gevat word! Hulle het dit toe nie gedoen nie en ook nie eens my kar gewas nie. (Ek wag dat iemand my email/bel om te hoor of ek tevrede was.)

My CV is deur al die proeflees en veranderings eers teen Woensdag reg gewees vir uitstuur. Ek was baie trots op die verbetering. (Selfde loopbaan, net 'n ander verpakking.) Dit is eers toe ek die 'Word' weergawe vir my Afrikaanse vriend (wat in 'recruitment' is) stuur dat hy my daarop wys dat daar nog van Jeanelle se 'comments' en track changes in is. (Oeps/Fail) Gelukkig het ek die 'Word'-weergawe nog net vir hom gestuur. (Dis nou reg/weg.)

Ek het reeds 'n paar byte gekry met my nuwe CV. (Watch this space.) Ek is by my aanstelling 'n automatiese verhoging belowe na 1 jaar se diens en wag in spanning om te sien of dit realiseer. Ek het ook  al 'n paar navrae van ander mense gekry by die werk wat wou weet of dit gebeur het, want volgens hulle is dit al rede waarom hulle daar bly. Ek wag nog vir hierdie week se salarisstrokie.

Iewers in die gejaagde week het Jeanelle 'n migraine gehad en haar 'wafers' vir naarheid was op en pille wou nie af bly nie. Ons het nooit die tydelike-genikoloog gevra vir 'n voorskrif nie, want ons was te verwonderd met sy tekort van kennis aangaande die 'scan masjien'. (Ons wonder nou nog of hy regtig 'n dokter was.) Met 'n vinnige(lol) besoek aan die 'Emergency Room' het hulle gelukkig vir ons 'n 'wafer' kon gee terwyl ons saam met 'n lang ry mens vir aandag sit en wag het.
Die mense kan baie bly wees ek is nie 'n 'triage-nurse' nie. Babas word eerste gehelp. Een vrou daag daar op met haar baba omdat hy glo 'irritated' is. (Regtig? Het jy die hele dag gewag totdat al die dokters toe is? Die kind lyk elkgeval vir my baie vriendelik en gesond. Sy soek sommer aandag!) Ek is lekker vinnig om te praat, maar daar was ten minste 2 ander 'couples' waar die man, na 'n lang dag se werk, by die huis aankom om sy vrou met kringe onder die oë te kry met 'n lang lys van moontlike kwale en redes waarom die kind stout is en dan gaan die hele gesinnetjie moedeloos vir 'n uitstappie hospitaal toe om te hoor of daar iets fout is met hulle kind, wat vrolik rondhardloop in die wagkamer. Ek was onder die indruk dat noodgevalle daar is vir mense met kwale/toestande wat nie tot môre kan wag nie. Een vrou sit al vir 5 ure en wag vir 'n bed, want sy dink sy het appendicitis!? (Jy moes na 'n dokter toe gegaan het 15:00!) As ek die 'triage'-verpleegster was, sou ek eerste die mense met die tweeling gehelp het (want volgens my het sulke mense al die hulp nodig wat hulle kan kry) en daarna die ou oom sonder bene wat daar is vir 'n seer keel of iets (hy het ook al genoeg gelei). Ek sal die hele aand daar kan sit en na die mense kyk. Een vrou sit so 'n voorskootjie aan en ek wonder nog wat gaan sy nou bak, toe is dit net 'n voedings lappie om die bors toe te hou. Sy was nog nie op 'n vlug in Suid Afrika met borsvoedende ma's nie. lol.
Na so 'n uur se wag het ons gesien dat ons nooit gehelp gaan word nie. Die wafer het gewerk en ons is huistoe waar Jeanelle haarself sommer gou reg gedokter het met hoofpynpille wat sy nou kon inhou. :-)

Dit het skielik Vrydag oggend hier begin sneeu op die Blue Mountains (so 150km buite Sydney) en dit is snerpend koud hier (in kontras met sommige dae wat hierdie week al by 35º gedraai het).

Ons groot pakkie/pakkaas het ook hier aangekom uit Amerika uit. Ons moes lughawe toe gaan om dit te gaan haal, omdat ons nie tuis was om dit te ontvang toe hulle dit probeer aflaai het nie.
Ons kry ons pakkie uit VSA uit.
Ons is baie opgewonde om al die 'gadgets' uit te probeer. Meer oor die inhoud van die pakkie in volgende week se blog. (Dis my advertensie! :-) )

Ek sien my vrou dra op al die fotos dieselfde jas, so ons gaan nou eers shop. :-)

Geniet die naweek!

Baie liefde en groete,
Johann


Friday, 12 October 2012

Een honderd persent!

'n Langnaweek kan seker amper as 'n vakansie bestempel word as dit deur 3 dae siekverlof voorafgaan, maar dis ook die naaste wat ek aan vakansie gaan kom...

Dit was 'n bedrywige naweek met; ons het ons eerste 1ste verjaarsdag bygewoon (wat ons kan onthou), gebraai by vriende (voorheen verkeerdelik net mede Suid-Afrikaners genoem :-) ) en ons was by 'n baba-skou saam met ander engelse Suid-Afrikaners wat saam met my werk.

Ons was effens teleurgesteld in die babaskou omdat baie van die bekende handelsmerke nie uitgestal is nie. Ek het gedink dat ons 'n paar winskopies sou kon losslaan, maar is oorval deur verkoopsmense wat jou probeer oorreed dat jy hulle produkte moet te koop deur een na die ander bangmaakstorie.
Daar was 'n goeie verskeidenheid 'designer' lapdoeke. As jy gaan stap om jou stootkarretjie (wat soveel soos 'n Toyota Yaris kos) vir die ander mense te wys, dan sal jy elke nou en dan moet stop en die kind optel, sodat die mense die kind se 'leopard-print' lapdoeke kan sien, wat natuurlik daagliks by jou huis opgelaai word om te droogskoonmaak.
Ek sukkel nog om oor die feit te kom dat hulle my net soveel vra om twee dasse te droogskoonmaak as 'n pak klere!?
Ek hoop nie my droogskoonmaker is betrokke by hierdie doeke ding nie.
Hier is 'n paar van die produkte wat uitgestal is by die skou:

Hierdie stootkarretjie was te koop
vir 'n skamele $3999 (+/-R35000)
Do not touch!
Hierdie moet die kleinste stootkarretjie in die wêreld wees.
 Let daarop dat die man dit voorstel as die tweede stootkarretjie, vir wanneer jy 'travel' want almal moet mos ten minste twee stootkarretjies hê, 'n wiegie, 'n kot, 'n 'capsule' vir die eerste 6 maande...

'Hands Free' - Borspomp Bra
Dis nou vir jou 'n handige ding...jy kan melk uitpomp terwyl jy koffie maak, werk, tuin natlei of met vriende kuier. lol (My gesig sou seker ook so gelyk het en die effek sou dieselfde gewees het aangesien die vrou in die advertensie duidelik nog nie kinders gehad as mens na haar maag en borste kyk nie).

Ons het toe baie minder spandeer as wat ons verwag het.  Die volgende oggend het ons op die internet rond gesoek en toevallig op 'n hele klomp winskopies afgekom. Ons spaar toe sommer gou $267. :-) 

Baba inkopies
Ongelukkig is alles van Amerikaanse winkels, maar dis geen probleem met ons BongoUS addres nie. :-)
Dit was bietjie swaar om die stootkarretjie te pos, daarom die hoë posgeld, maar ons het meestal nuwer produkte gekry as wat in Australië beskikbaar is. (Dink ons het amper al die gadgets. Ek sal hulle 'review' as hulle eers opdaag. :-) )

Ons AppleTV maak dit moontlik om flieks en 'series' te kyk met die druk van 'n knoppie, sonder om die bank te verlaat en het 'n groot deel van die ontspanning vir die naweek in verskaf.
AppleTv
Daar is min mense wie se werk hulle so 'n k@k gee. (En nou verwys ek nie net na verlede week se kantoor gastro-pandemie nie.) Na die eksodus van verkoops, IT en diens personeel die afgelope paar maande en die feit dat daar (sekerlik deels tedanke aan die pandemie) nie 'n enkele masjien verlede week verkoop is nie (hoewel die laaste week van die maand gewoonlik die beste vir verkope getalle is) het hulle besluit om die oorblywende verkoopsmense in my kantoor (Noord Sydney) te motiveer deur ons 'n see-vakansie te belowe as ons 100 masjiene verkoop (dis 10 meer as wat die kantoor nog ooit in een maand verkoop het met 15 ervare verkoopsmanne). Bygesê ek is nou die 3de mees ervare verkoopsman na 'n jaar in die maatskappy met 2de plek wat aan iemand gaan wat 6maande langer as ek daar is. (Sjoe, klaar gemoun.) 
(Amper klaar...) Dit was afgerond met een of ander 100%=100 masjiene praatjie. (Gepraat van 'the final push'.) (Nou die laaste...) Ek het reeds by 'n kolega (en vriend) gaan kuier een aand verlede week en ons het vir een en 'n half uur uit twee, net oor ons werk gekla. 
Ek het ook toevallig Vrydag 4 Oktober my 1 jaar by die maatskappy gevier!? (Ek wonder of dit net die "1 year itch" is.)
Ek was ook Vrydag by iemand wat my bietjie CV advies gegee het. (Man het dinge verander vandat ek op skool 'n CV geskryf het. Jy moet nou kyk hoe min jy kan sê, eerder as hoe baie.)

Jammer vir die wag, die blog is 'n week laat (dit was van 29 Sept - 5 Oktober), maar ek werk hard om die volgende een al te skryf.

Liefde en groete,

Johann





Wednesday, 3 October 2012

Hospitaal Stories

Jeanelle was Vrydag aand 20:00 eers terug in Sydney, na 'n baie laaang week. Daar was geen teken van die agent se inspeksie nie, maar ons het later 'n nuwe visitekaartjie op ons deurmekaar admin tafeltjie gekry van die agent. (Nog niks vermis gevind nie. lol) Ek kan met trots sê dat ons later die week 'n brief/verslag gekry het wat gesê het die woonstel was baie mooi skoon. (Vir 'n verandering was ek nie in die moeilikheid met Jeanelle se terugkoms nie. :-) )

Ons moes Saterdag eers gou so bietjie admin doen voor ons die strate kon invaar; Jeffrey (die kar) se registrasie het Vrydag verval en ons moes dit vir die eerste keer self hernu. Elke versekeringsmaatskappy waar ons oorspronklik kwotasies aangevra het, het vir ons instruksies gestuur en vorms om dit deur hulle te doen. Met internet en 'n kredietkaart was dit 'n duur maar vinnige uitstappie. Die 'rego'(lisensieskyfie) kom vooraf in die pos en is geldig sodra jy die registrasie gelde betaal het, maar om dit te kan doen moet jy eers 'CTP(Compulsary Third Party Insurance)' betaal. Die kar is nog nuut, so gelukkig was daar geen inspeksie vereistes nie.

Die versekering rol ook outomaties oor en ek sien toe dat jy 5% afslag kan kry as jy jou CTP deur dieselfde versekering uitneem. Ek bel om te hoor of dit ingereken is en hulle sê "Nee, maar as ek huisinhoud ook verseker, dan is dit 10% af". Goeies!
Wil ek iets spesifiseer? OK, dan is dit $10/jaar meer.
Is dit verseker terwyl ek 'travel'?...O Nee, dis $10/jaar meer.
Goed dis nou teen Fire, Theft and Damage? ...O Nee, 'damage' is $10/jaar meer.
Dis toe dat ek ophou vra.
Saterdag in die strate :-)
 Daar is 3 goed in die foto wat ek wil deel:

  1. Ons het hierdie pak MEGA Marshmallows gekry, met marshmallows so groot soos appels. As jy een eet, dan is jy vol.
  2. Die Cream Soda is bruin en dit smaak meer soos marshmallows.
  3. Dit was mooiweer en warm en almal het hulle kortste somersklere gedra wat verlede somer gepas het. (LW: die regter been word nog deur 'n voorskoot toe gehou, 2"-3" langer as die denim.)

Sondag was ons toe by die ou kerkie in North Sydney waar hulle 'n dekade gedenk het sedert die eerste sendelinge die Australiaanse binneland aangevat het. Die dominee het net weer bewys hoe sosiaal onaangepas/wanaangepas hy is deur by Jeanelle te kom hurk en te sê:"I believe congratulations are in order?". Jeanelle se nog "Yes. Thank you very much." ....en die man sit en gluur haar aan vir 15 sekondes se 'awkward' stilte, voordat ek inspring en die gesprek probeer red. By die afrikaanse kerk se aand-diens was die gereelde predikant op verlof en 'n ander afrikaanse dominee wat onlangs by die kerk 'ge-artikel' het, Corrie, het gepreek.

Maandag by die werk, na 3 'closed-door meetings' deur die bestuurders, sales-baas en groot-baas die afgelope paar weke, het die boodskap 180° verander. Ons moenie worry oor 18 verkope vir die maand nie, 40 is ook goed!? Ons doen eintlik goed!? (Laat ek hierdie eerder kort knip, ek gaan net lelik wees.)

Twee weke vroeër as verwag is ons iPhone5's ook Maandag oggend afgelaai! (Ek moes gou vir middagete huis toe gaan. :-))
iPhone5
Ongelukkig het hulle nie ons nano-sims ingesluit by die pakkie nie. Dit is nou wat ek noem marteling! Dié kom nou eers middel volgende week as gevolg van 'n tekort. :-(

(Jammer dat ek hierdie blog so dagsgewys doen, maar daar het nogals baie gebeur)
Ons was Dinsdagaand by 'n kerkvergadering. Ons het gedink daar gaan 'n stem wees vir 'n nuwe dominee, aangesien die engelse dominee aftree, maar die vergadering was slegs om 'n kommitee te kies wat later 'n voorstel kan maak. Ons het nie besef hoe lief die engelse lidmate is vir ds. Corrie is nie. Hulle wou hom eers dadelik verkies, maar volgens een of ander reël, moet die pos vakant wees, maar ou engelse dominee is nog op 'long-service' verlof tot November. Toe dit tyd is vir nominasies was daar net die een vir ds. Corrie en toe die voorsitter vra of enige iemand die besluit wou teenstaan, kon jy 'n speld hoor val. Dieselfde ding toe hy vra vir enige ander voorstelle. Nou moet hulle net hoop hy kan nog 3 maande wag vir die pos.

Teen 21:00 het ek begin siek voel en teen 1:30 was ons hospitaal toe omdat ek nie meer vloeistof inhou nie. :-| Ek wil nie te veel uitbrei daaroor nie, maar kom ek sê maar net dat as ek by die toilet moes kniel, sou ons die handoeke teen die muur moes weggooi.
Ons moes 3 ure wag, omdat ons dit nie life threatening was nie en hulle besig was om 'n pasiënt met 'n binneaarse 'tube' te soek wat vroeër met bebloede klere en palmblare in sy sakke eers moes gaan rook, terwyl hulle vir hom steke ingesit het. Hulle het hom later telefonies in die hande gekry. Hy was besig on deur die begrafplaas te wandel. (04:30 in die oggend!?)
Daar was ook 'n ander geval van 'n man wat nie kon slaap nie oor 'n hoes. (Flatering eye movement as jy my vra.) Hy wou eintlik net hê dat die dokter sy werk bel en sê hy is in die hospitaal. Toe hulle 'n bors X-straal van hom wou neem, het hy voorgestel dat hy eers kyk of dit nie beter raak nie, anders sou hy 'n ander dag weer terug kom.
Teen 08:30 en twee liter binne-aarse vloeistof later, is ek ontslaan.
Ek het later uitgevind dat die helfte van die kantoor dieselfde kiem onderlede het en dat dit nie voedsel vergiftiging is nie. (Dankie tog, want ons was vroeër die aand by ons gunsteling 'burger'-plek)
Ons eie dokter het my later die dag ondersoek en het gesê dat ek teen Vrydag beter behoort te voel, maar wou weet of ek sommer Vrydag ook afgeboek wou wees. :-) ('n Mens kry 15 dae betaalde siekverlof in Australië en as jy nie mag gewone verlof kry nie, dan kyk jy nie 'n gegewe perd in die bek nie. PS. Ek het Vrydag nog so bietjie wankelrig gevoel.)
Ek het gelukkig genoeg krag gehad om 1 km stasie toe en terug te stap en 1 uur trein te ry na 'n winkel wat bereid was om vir ons simkaarte (nano-sims) te gee. Ons kan nog nie met die fone bel nie, omdat ons nommers nie na die simkaarte oorgedra kon word nie, maar kon darem die fone aansit. lol.
Ons simkaarte is in die pos en behoort later die week hier te wees.

Die langnaweek was redelik bedrywig, maar meer daaroor in hierdie week se blog.
(Maandag was 'n vakansiedag in NSW en die blogger was bietjie siek, dié dat die blog so laat is.)

'n Lekker week vir julle!

Liefde en Groete
Johann