Tuesday, 7 August 2012

Silwer is die nuwe goud!

So het ek nie 'n enkele masjien verkoop in Julie nie. Dit het seker bygedra tot die feit dat ek solank 'n paar CV's uitgestuur het. lol. Dis nie dat ek slap gelê het nie, ek het net met grootter maatskappye gewerk wat nie sommer oorhaastige besluite maak nie. (verskonings...verskonings...Seker die Aussie wat aan my afsmeer) Daar is baie verkope in die pyplyn, maar niks het in Julie verkoop nie. Woensdag (1 Augustus) kon nie gou genoeg kom nie. Die bord is skoon gevee en almal was weer op nul. Augustus lyk sommer baie meer belowend, aangesien ek sommer op 2 Augustus reeds twee masjiene verkoop het. En nou amper voel of ek hard genoeg vir hierdie maand gewerk het. (ook baie gevaarlik)

Tuis was Jeanelle hard besig om te konkel vir my verjaarsdag geskenk. Dié kom glo van Amerika af en sy kon dit net daar kry!?
In 'n brokkie tegnologie nuus; Baie webwerwe wat produkte verkoop, lewer net in Amerika af. Om hierdie struikelblok te oorkom, het ons 'n Bongo US adres gekry, naby New York. Dis 'n 'mail forwarding' adres en laat ons nou toe om enige pos, produkte of pakkies te ontvang, te groepeer en na enige ander adres aan te stuur.

Jeanelle het my geskenk Maandag bestel en die geskenk was reeds Vrydag oppad na Sydney. Ek probeer baie hard om nie uit te vind wat dit is nie. :-)

Ek het my LinkedIn opgedateer en soek hard na wat almal soek: 'n 'big break'! (minder werk & meer geld)

Verder was die week gevul met die vermaaklikheid van die olimpiesespele en in Australië is silwer nou die nuwe goud. Hulle vas heel blasé nadat hulle in die vorige olimpiese spele, 19 goue medaljes net in die swem gewen het.
Die atleet is nog nie op die baan of in die swembad nie, dan praat hulle al oor wie tweede (na hom/haar) gaan wees. Dis 'the missile', 'the kookaburras', 'the silver fox'..., ek weet nooit na wie daar verwys word nie. Al Australië se atlete verwag mos om goud te wen en is baie verbaas en teleurgesteld as hulle dit nie kry nie. (So bietjie donker humor: Dis baie meer vermaaklik as Australië verloor, want hulle vat dit nie goed nie. Dit sou seker lelik gewees het om dit te sê as hulle nie so windg@t was voor die spele nie. Hier is 'n smakie van wat ons moet verduur.) Die komentaar gedurende 'n gebeurtenis is ook skreeu snaaks; "Hulle het vinnigste gekwalifiseer...die grootste kompetisie sal die span van Britanje/VSA/xxx wees...hulle vat dit rustig vir die begin...hulle is net 'n kort kop agter...die laaste 500/100/50m is die belangrikste...hulle moet nou begin inhaal...(lol. lyk my hulle vat dit nogsteeds rustig)...dis nog moontlik as hulle...hulle het dit net net net nie gemaak nie... hulle kan trots wees dat hulle in 'n goeie tyd klaargemaak het, al het hulle laaste/tweede/derde laaste geeindig." Na die tyd, dan begin die analise oor wat verkeerd gegaan het. Het die ander span gekroek? Sou die tyd genoeg gewees het vir goud in 'n vorige olimpiese spele? Hoe klein was die gaping regtig? Een honderdste van 'n sekonde!?!? Was daar iemand wat slegter as Australië geeindig het?

As die olimpiese spele nie net twee weke lank was nie, sou ek lankal 'Foxtel' (Australië se weergawe van DStv) gekry het, net vir neutrale sport komentaar.

Dis 'n stil week wat voorlê, behalwe dat ek eerskomende Saterdag verjaar. ;-)

Geniet julle week.

Liefde en groete

Johann

PS. My geskenk het Maandag oggend hier aangekom. Ek weet nog nie wat dit is nie. :-) Ek weet hoeveel moeite Jeanelle gedoen het, so ek gaan nie eers probeer uitvind wat dit is nie. Aangesien baie van julle saam gekonkel het, gaan ek liewers geen uitlatings maak oor wat ek dink dit is nie.
Ek weet: 1.Dit kom van Amerika af. 2.Dis nie hier beskikbaar nie.

No comments:

Post a Comment