By die werk het ek die vorige week gewonder hoe om my dagboek te vul. My bestuurder stel toe voor: "Make a few appointments!" lol. (Dit maak seker sin.) Ons moes altyd Maandag, Dinsdag en Donderdag oggende op die foon wees. Die middae, sowel as Woensdae en Vrydae was vir afsprake en (veral in die ander kantoor) 'n tyd om jou skaars te hou. Die reëls het hierdie week so bietjie verander, omdat die groot-baas dink dat mense in koffie winkels uithang en dan net die middae gou weer aanmeld. Nou is die idee dat ons elke oggend op die foon is en dan afsprake in middae maak tot middae vol is, waarna jy jou oggende kan gebruik. 'n Sjinese sakevrou het onlangs vir my gesê: "You are very persistent." Sy het nog nie die ander mense in die kantoor ontmoet nie. Ek leer nog.
Bygesê: ek dink ek was al byna by al die besighede langs in my area, al wat ek nog kan doen is plakkate.
Ek weet nie wat verander het nie, maar skielik het almal ingestem vir afsprake en vroeg die week was my dagboek al vol. Nog selfs niks hierdie maand verkoop nie, maar ek het baie geleenthede geidentifiseer. Ek het 15 kwotasies om te doen, maar nog nie tyd gekry tussen al die afsprake nie.
Die groot-baas het maandag al laat val dat die restaurant waar die 'sales-lunch' die vorige jaar was, die 'Waterfront Restaurant' slegte waarde vir geld was. Seker nie eiets daarmee te doen dat die +/- 45 verkoopsmanne die rekening na $15000-$17000 opgejaag het nie. Hy het eers Sjinees voorgestel, maar gelukkig later daarvan afgesien. Gelukkig, want hier is Sjinees lankal nie meer net 'sweet-and-sour pork" nie! Daar is uiteindelik besluit op "Wildfire", 'n restaurant met 'n $35 per persoon spesiale aanbod op weeklikse middagetes. Dis 'n Brasiliaanse restaurant waar jy soveel vleis kan eet as wat jy wil/kan. Drie gang, met 'antipastes' vir voorgereg en 'n dadelpoeding vir nagereg. Die nagereg was bedoel om te deel, maar ek het niemand gekry om mee te deel nie. lol.
Ek het Vrydagaand so skuins na agt van my 'lunch' af gekom en toe eers uitgevind dat ek my eksamen geslaag het! (Dit sou 'n goeie rede gewees het om dit behoorlik te vier, maar na my 'lunch' het dit gevoel of ek dit reeds gevier het.) Uiteindelik het ek iets om te wys vir byna 11 jaar se studies. Dink ek sal voortaan daarop moet aandring om Dr. Johann genoem te word.
Iets wat ek geëet het het knoffel in gehad en na byna een hele pakkie Fisherman's Friend pepermente het Jeanelle Sondagmiddag nog gesê ek ryk na knoffel (48uur later). Knoffel en naarheid gaan blykbaar nie saam nie...
Baba nuus: Ons het Saterdagoggend ons ondersoek na stootwaentjies en ander baba-goed voortgesit. Ons was baie rustiger, nadat ons besef het dat hoewel alles duur is, hier 'n baie groter verskeidenheid is en meeste goed dieselfde of goedkoper is as in Suid Afrika. Terug by dieselfde winkel as verlede naweek, het Jeanelle gou vir die verkoopsmeisie verduidelik dat ons hard vir ons geld werk en dit nie alles daar wil spandeer nie, ons 'n baie klein karretjie het en eintlik nét kyk. Ons loop toe deur die hele sentrum (waar die 'Apple'-winkel waar ek gewerk het ook is) met twee leë stootkarretjies na die kar om te kyk watter een die beste pas. 'n Yaris se boot is maar knap. Ons het nog nie 'n stootkarretjie nie, maar ons het wel ons eerste 'groot'-baba-ding gekoop; 'n bors pomp! Ja, ons begin nou ons pryse ken en weet wanneer ons 'n winskopie sien.
Stootwaentjies te kies en te keur |
Dit lyk gevaarlik. |
Hoop julle het 'n heerlike week!
Liefde en Groete
Johann
Johann, staan weg van die borspomp af, ons gaan jou nie Dr. Johann noem tot jy besef die borspomp is ekslusief vir vrouens bedoel nie! Jy kyk nou seker weer of daar prentjies is wat wys hoe die ding gebruik moet word!
ReplyDeleteGeluk met die uitslae, nou kan jy aandring op 'n verhoging ;-)