Monday, 30 July 2012

Slaap, Werk, Tert en die Queen

Oppad terug van die berge af, was ons lus vir appeltert. Ons was in die appel area in naby Sydney, maar dit kon ook dalk die reuse 3m deursnee appeltert op die ou Bedford trok langs die winkel gewees het.
Die toneel het ons selfs oorreed om 5km na die naaste kitsbank te ry (want ons gebruik mos nie kontant nie). Na al daai moeite was ons verwagting seker te hoog. Die appeltert het soos warm appel tussen twee snye brood gesmaak. Die plek se deeg is alles behalwe lekker. Dis klip hard, en smaakloos met heeltemal teveel fyn skywe  appel binne in die tert. Die koffie was nie te sleg nie. Terwyl ons daar gesit en staar het ne die een muur met die Elvis uitstalling en die ander met die stowwerige Meksikaanse hoede en die ou kersboom, het daar seker nog 6 karre gestop, want niemand kan verby daai trok met die tert ry nie. Meeste van die mense het maar net wegneem koffie bestel en 'n tert, waarna ek hulle sou kon waarborg dat hulle later teleurgesteldsou wees. Dalk is ons net beter tuisgebak/tert gewoond.

Die fokus het dalk verskuif van Suid Afrika, maar ek twyfel of ek nog baie kan leer waar ek nou werk. Talentvolle verkoopsmense verlaat die maatskappy met 'n tempo om by ander plekke te gaan werk vir beter salarisse, sekuriteit en voordele met minder verwagting, druk en stres dat jou werk altyd op die spel is. Naas iemand wat 4 maande voor my begin het, is ek nou die mees ervare lid van ons span. lol.
Om een of ander rede stroom die aanbiedinge nog nie in nie, maar 'watch this space'. Dis seker tyd dat ek my 'Linkedln' update.

Ons het Woensdag ons 4de huweliks herdenking gehad en toe die restaurant waar ons wou gaan eet sê dat ons net een en 'n halwe uur het om te eet, voordat die restaurant (op 'n woensdag aand) vol bespreek is, het ons twee 'full-rack ribs and chips take-away' bestel en by die huis gaan eet. Ons nog een en 'n halwe etes daaruit gekry en baie sleg geslaap as gevolg van al die vleis.

Ons het ook tot die besef gekom dat al al die vroeg opstaan en laat gaan slaap hulle tol begin eis het. Dit help nie om net-net 7 ure slaap in te kry en dan nog onrustig slaap (as jy bv. opstaan in die aand, want jy moet 'n draai loop, want jy is swanger of iets) nie. Al die minute wat jy te min slaap hoop op!

Ons het van Donderdagaand af hard probeer om vroeër te gaan slaap om van die verlore slaap in te haal en ons kan al 'n verskil voel. :-)

Saterdagoggend het ons 6uur opgestaan om na die Olimpiese spele se opening seremonie op die televisie te kyk. Ons het al te lekker gelag toe die Queen daar aankom. Die Britte het GROOT gegaan!


Die blog is nou amper op datum. Ek hoop dit gaan goed met almal. Pas mekaar mooi op.

Baie Liefde en Groete

Johann




Monday, 23 July 2012

Herdenking(inni bos)

...(16-22 Julie)...
Na 'n Sondag middag waar ons lekker met al die familie op skype en foon gekuier het, was die verlange so erg dat ek later die week nie geblog het nie, maar al die tyd voor die rekenaar spandeer het om werk in Suid Afrika te soek. Goeie besluite word selde na nege in die aand geneem, maar dit was eers teen Dinsdag dat ons weer besef het dat dit nou sal dom wees om dadelik terug SA toe te gaan (behalwe as ek dalk 'n werksaanbod kry waarvoor ek nie kan nee sê nie). Weet net ons verlang baie!

Dit was 'n kort wekie vir ons. Ek het op een of ander manier dit reg gekry om een dag verlof te kry 'n paar weke terug, nadat ons, ons toer van die hospitaal, ons 12 weke scan by genikoloog en ons huweliks herdenking alles geskuif het sodat ek net een dag verlof hoef te vat. (Dis moontlik wat my onderbewussein so gekrap het/krap.)

Jeanelle het Woensdag opgestaan met 'n migraine wat net erger geword het. Met ons 'juggle' van die kar, het sy my gedurende middagete gou na 'n vergadering gevat, sodat sy met die kar kon ry. Sy bestuur al hoe meer gereeld, om die kans uit te skakel dat sy naar word as gevolg van 'motion-sickness in opposed to morning-sickness'. Ek was nogals beindruk met haar vermoë om naar te wees terwyl sy bestuur.
Dit was egter minder snaaks toe sy begin ontwater agv. die naarheid agv. die pyn agv. die ontwatering en die naar-pille nie eers wou onder bly nie. Teen 1 uur Donderdag-oggend was ons in die kar oppad hospitaal toe. Ons besoek toe eers die hospitaal waar ons beplan om ons bevalling in Januarie te hê. Toe ons daar aankom staan daar 'n vrou met 'n handoek tussen haar bene, saam met haar man voor die hospitaal se toe deur. Ons besef dat dit ons oor 'n paar maande kan wees.
Daai hospitaal het nie 'n noodgevalle nie en as jy in die laaste stadium van jou swangerskap is, dan gee hulle vir jou die nommer om te skakel, sodat iemand vir jou die deur kom oop maak. (Nee, hulle gee nie vir jou 'n sleutel nie.)

Gelukkig het die Royal North Shore (waarby ons oorspronklik verby gery het) 'n noodgevalle. Wanneer jy daar sit en wag en al die ander mense sien, dan wonder jy soms of jy siek genoeg is.
Daar was 'n vrou wat se kind nie wou slaap nie en jy kon sien sy is 'sleep-deprived', maar die kind het niks makeer nie, net te veel energie het dit vir my gelyk, toe hy rond hardloop met die pa agterna.
Ons is vinnig gehelp, (want ons het 'n grootter noodgeval as sy gehad) en na 'n drip en 'n half en medikasie, is ons weer huistoe. Jeanelle was 90% beter en toe ons 05:42 in die bed klim, was dit 3 minute voor die wekker afgaan. (Ek het 'n halwe dag siek verlof gevat om slaap in te haal, maar het maar midagete kantoor toe gegaan om te wys dat dit nie ipikonders is nie.)
Die genikoloog het ons Vrydag afspraak na Donderdag middag geskuif en ek het gou na werk deur gejaag om die scan by te woon. 12 Weke. Alles lyk reg! Ons is baie bly en opgewonde!
Week 12 
'n Bietjie uitgeput na so 'n dag het ons darem nog genoeg krag gehad om Batman te gaan kyk by die fliek. Dit was al 8 ure na die middernag vertoning, maar 'n baie goeie fliek en lekker ontspanning voor ons naweek.
Vrydagoggend  het ons gou vir 'n toer van die hospitaal gegaan waar ons die klien de Villiers'ie gaan verwelkom. Dit voel soos 'n hotel. Elke nuweling kry 'n beertjie by die hospitaal, daar is klasse vir nuwe ma's (alles van borsvoed tot bad) en alles word voorsien gedurende die verblyf. Daar is twee keer per week 'high-tea' vir familie en die hospitaal kyk ook op aand 3 na die kind sodat die ouers (vir oulaas) 'n aandjie alleen kan geniet. In die geval van 'n keisersnee, het die ma 'n uur om te herstel, terwyl die pa met die baba wag, voordat sy moet kom melk gee. (ook geen genade vir die ma nie). 
Dis 'n pragtige hospitaal. (Nie die een waarheen ons eendag ons tiener dogter gaan vat om bang te maak vir swangerskap nie.)

Na die toer is ons vir die naweek na 'GhostHill Road' in die Blue Mountains, om so bietjie van die stad en werk te vergeet. Dit was net 'n uur buite die stad, maar vêr genoeg van enige pad, dat 'n mens geen karre kon hoor nie. Dit was net voëltjies en rustigheid. Koue is verdryf deur die kaggel en daar was 'n spa-bad wat soveel skuim gemaak het, dat ons mekaar nie in die badkamer kon sien nie. (Ek moes dalk maar by die aanwysings van 5-10ml 'bubble bath' gebly het.)
Full Moon Cabin @ GhostHill Road
... word vervolg ...

Liefde en Groete

Johann

Monday, 16 July 2012

Die Sondagkoerant

Sonder om my eie beul te blaas sien ek dat mense nou al by die blog langs gekom het om te sien of hulle dalk uitgemis het op een. Ek neem aan dat ons mense ons net so mis soos ons vir julle.
Behalwe vir die paar besoekers van China wat seker net kyk of ek nie nog enige iets oor hulle kwyt geraak het nie.

Die blog is baie laat, maar dit (9-15 Julie) was oorspronklik 'n baie stil en oninteressante week in Australië.
Ons het darem fotos gekry van Josua se doop en was baie jaloers oor ons nie daar kon wees om saam met almal te kuier nie. Klink of dit 'n fees van epidemiese proporsies was.

Ons week het met ontbyt in die Qantas lounge begin.

'n 06:00 ontbyt in Qantas Business Lounge

Jeanelle was net vir een aandjie weg en ons week het al hoe minder werk-leef balans beoefen soos die tyd aangestap het. Vroër gaan werk, later gewerk, gewerk in die aand en dan gejaag om genoeg slaap in te kry om weer vroeg op te staan om te gaan werk.

Teen Woensdag het ons bevestiging van Unisa gekry dat ek aan al die vereistes vir my graad voldoen en 'n uitnodiging na die gradeplegtigheid.

Dit kan die wanbalans in ons leef-werk-balans wees, maar ons het soos die week verloop onsself al hoe jammerder gekry. Ons kan voel dat hierdie moegheid eintlik 'n vakansie nodig het.

By die werk is die verkope maar stadig, maar dis seker verstaanbaar aangesien almal verlede maand so hard gedruk het om 250 masjiene te verkoop. Soos die wind in die fliek 'Chocolat' 'n aanduiding is dat dit nou tyd is om aan te beweeg, so het ek ook tot dié skielike besef gekom... dis tyd vir 'n verandering!
Dalk omdat verandering nou goedkoper is as 'n vakansie en glo net so goed is. :-)

Ons het noudie dag met iemand gepraat wat in HR werk wat gesê het wat ons al lankal vermoed; verby is die dae toe mense vir een werkgewer gewerk het vir 20 jaar en die werkgewer jou lojaliteid hoog op prys gestel het. HR kyk na jou CV en as jy langer as 3 jaar vir dieselfde maatskappy werk, dan dink hulle jy sukkel met verandering en aanpassing.
In die huidige klimaat probeer baie maatskappye om eerder die bestaande werkers harder te laat werk vir dieselfde vergoeding of minder as wat hulle by ander plekke (met beter voordele) kan kry, as om oop poste te vul. In kontras daarmee is daar ook sekere maatskappye wat glo meer verkoopspersoneel is gelyk aan meer verkope.

Genoeg ge-'bitch' vir een blog (ek spaar so bietjie vir later).
Baba nuus: Ons het die naweek weer na stootkarretjies gaan kyk en kar stoeltjies. Vir 'n verandering hat die assistent wat ons gehelp het al reeds 4 kinders gehad en kon met verskeie gadgets vir ons raad gee oor waarna om te kyk.

Jeanelle se foon het iewers op die teer geval en haar skerem het gekraak en my foon se knoppie het geneuk so dit was tyd vir 'n 'Genius Bar' besoek by die Apple-winkel. Binne 5 minute is altwee ons fone geruil en met behulp van die iCloud, is al ons besonderhede, 'background pictures', sms'se, 'missed calls', 'call history', 'apps'...die hele toetie, op die nuwe fone gelaai. Dit werk soos 'n bom.

Liefde en Groete

Johann

(PS. Ek besef hierdie blog is 3 weke laat. Sorry)

Monday, 9 July 2012

Afsprake, etes en 'n mylpaal!

Die ekstra sekonde op 30 Junie het chaos veroorsaak in Australiaanse lughawens met Quantas wat slegter daarvan afgekom het as van die Y2K/Millenium Bug. News24The Australian.

By die werk het ek die vorige week gewonder hoe om my dagboek te vul. My bestuurder stel toe voor: "Make a few appointments!" lol. (Dit maak seker sin.) Ons moes altyd Maandag, Dinsdag en Donderdag oggende op die foon wees. Die middae, sowel as Woensdae en Vrydae was vir afsprake en (veral in die ander kantoor) 'n tyd om jou skaars te hou. Die reëls het hierdie week so bietjie verander, omdat die groot-baas dink dat mense in koffie winkels uithang en dan net die middae gou weer aanmeld. Nou is die idee dat ons elke oggend op die foon is en dan afsprake in middae maak tot middae vol is, waarna jy jou oggende kan gebruik. 'n Sjinese sakevrou het onlangs vir my gesê: "You are very persistent." Sy het nog nie die ander mense in die kantoor ontmoet nie. Ek leer nog.
Bygesê: ek dink ek was al byna by al die besighede langs in my area, al wat ek nog kan doen is plakkate.


Ek weet nie wat verander het nie, maar skielik het almal ingestem vir afsprake en vroeg die week was my dagboek al vol. Nog selfs niks hierdie maand verkoop nie, maar ek het baie geleenthede geidentifiseer. Ek het 15 kwotasies om te doen, maar nog nie tyd gekry tussen al die afsprake nie.  


Die groot-baas het maandag al laat val dat die restaurant waar die 'sales-lunch' die vorige jaar was, die 'Waterfront Restaurant' slegte waarde vir geld was. Seker nie eiets daarmee te doen dat die +/- 45 verkoopsmanne die rekening na $15000-$17000 opgejaag het nie. Hy het eers Sjinees voorgestel, maar gelukkig later daarvan afgesien. Gelukkig, want hier is Sjinees lankal nie meer net 'sweet-and-sour pork" nie! Daar is uiteindelik besluit op "Wildfire", 'n restaurant met 'n $35 per persoon spesiale aanbod op weeklikse middagetes. Dis 'n Brasiliaanse restaurant waar jy soveel vleis kan eet as wat jy wil/kan. Drie gang, met 'antipastes' vir voorgereg en 'n dadelpoeding vir nagereg. Die nagereg was bedoel om te deel, maar ek het niemand gekry om mee te deel nie. lol.


Ek het Vrydagaand so skuins na agt van my 'lunch' af gekom en toe eers uitgevind dat ek my eksamen geslaag het! (Dit sou 'n goeie rede gewees het om dit behoorlik te vier, maar na my 'lunch' het dit gevoel of ek dit reeds gevier het.) Uiteindelik het ek iets om te wys vir byna 11 jaar se studies. Dink ek sal voortaan daarop moet aandring om Dr. Johann genoem te word.
Iets wat ek geëet het het knoffel in gehad en na byna een hele pakkie Fisherman's Friend pepermente het Jeanelle Sondagmiddag nog gesê ek ryk na knoffel (48uur later).  Knoffel en naarheid gaan blykbaar nie saam nie...

Baba nuus: Ons het Saterdagoggend ons ondersoek na stootwaentjies en ander baba-goed voortgesit. Ons was baie rustiger, nadat ons besef het dat hoewel alles duur is, hier 'n baie groter verskeidenheid is en meeste goed dieselfde of goedkoper is as in Suid Afrika. Terug by dieselfde winkel as verlede naweek, het Jeanelle gou vir die verkoopsmeisie verduidelik dat ons hard vir ons geld werk en dit nie alles daar wil spandeer nie, ons 'n baie klein karretjie het en eintlik nét kyk. Ons loop toe deur die hele sentrum (waar die 'Apple'-winkel waar ek gewerk het ook is) met twee leë stootkarretjies na die kar om te kyk watter een die beste pas. 'n Yaris se boot is maar knap. Ons het nog nie 'n stootkarretjie nie, maar ons het wel ons eerste 'groot'-baba-ding gekoop; 'n bors pomp! Ja, ons begin nou ons pryse ken en weet wanneer ons 'n winskopie sien.
Stootwaentjies te kies en te keur

Dit lyk gevaarlik.


Hoop julle het 'n heerlike week!

Liefde en Groete

Johann


Monday, 2 July 2012

Vroeg, Gejaag, Verveeld, Verstom

Verlede Sondag is ons reeds vroeg lughawe toe, want Jeanelle was oppad na Auckland, NewZealand. Ek mag nie saam in die internationale lounge ingaan nie, so dit was vroeg terug na 'n stil huis vir my. Dit was so stil dat ek gestryk het en die skottelgoedwasser uit en in gepak het. So stil dat ek vir die eerste keer in jare tyd gekry het om 'n rekenaarspeletjie (Transport Tycoon, gratis beskikbaar en onderhou deur vryskut programmeerders) af te laai en te speel. (Ja, dis 'n groot mors van tyd, maar daar is mense wat gevaarliker goed doen vir tydverdryf/ontspanning. Ek onthou hoe die 'game' vir my en Wian vir dae lank besig gehou het toe ons nog ge-LAN het.


Ek was byna laat vir kerk. Ek was eintlik hopeloos laat en het 15minute laat agter in gesluip. Na 'n diens en met 'n warm koppie sop in die maag en nog een vir 'take-away' (ek ry nogals hierdie alleen by die huis ding en mense kry my al amper so jammer soos ek myself kry :-) ) het ek die koue terug huistoe trotseer.


Hulle (die kinders van dit) sê dat mens gemiddeld 10kg gewig aansit terwyl jy swanger is. Nege weke in en ek het al 3kg opgetel. Elke Maandag oggend is ek van voorneme om 05:00 op te staan en te begin oefen. (Het al die treadmill in die TV kamer, met die verwarmer wat outomaties 04:45 aan gaan om die vertrek warm te maak, so ek hoef nie te ry of koud te kry nie.) Ongelukkig het ek myself so jammer gekry dat ek eers 05:45 opgestaan het. Dit was dit ook net om vir Jeanelle in Aukland te bel voor sy moes gaan werk, maar 5:45 was die gesprek iets soos: "Môre my Bokkie." "Mmm. BOKKIE!, DIS NOU EERS KWART VOOR SES!" "Uhm, ok? Dis kwart-voor ses hier ook." "O SHIT....! Moenie vir my sê dis kwart voor agt nie!..."


Dank aan Malema en die ANC Jeugliga en ANC Kongres wat dit vir ons moontlik gemaak het om geld Sondag na SA te stuur teen R8.43/1AUS$. Dis jammer dat met al die 'red-tape' dit eers Vrydag in Suid Afrika aangekom het, met 'n wisselkoers van R8.20/1AUS$.

By die werk was daar die vorige week net 3 verkope in ons span (Oeps!), maar na Maandag was daar reeds 5. Teem vrydag het dinge baie beter gelyk en maatskappy wyd het ons toe 274 masjiene verkoop, wat die Middagete teiken oortref het teen Vrydag, 29 Junie. Middagete is eerskomende Vrydag 6 Junie. 



Met tennis oefening, wat nou klaar is tot volgende kwartaal, sukkel ons maar om Saterdag oggend uit die kooi te kom en ons durf toe 'n baba-winkel aan om te sien waarvoor ons onsself ingelaat het. Nadat ek heeltemal uitge'freak' was deur die meisie wat sê:"Just get this, it is only twelve ninety-nine, for this and this and..." en al wat ek dink is: "$1299 is jy nou heetlemal gef.....". Winkels sien jou van vêr af aankom as jy swanger is! Dit was eers teen Sondag middag toe ek mey Wian en Leoné 'skype' en 'n paar pryse vergelyk, dat ek weer rustig was en besef het daar is hoop en 'n mens het nie alles nodig nie.


Julle moet asseblief ook die fliek: 'What to expect when you're expecting' gaan kyk en asseblief vir my sê DIS NIE SO ERG NIE! (Ai. Ek mis die Albasters)


Albasters 2013?
Dit klink ook of ons heeltyd by die kerk is. (Maar nie regtig nie. Dis die weke wat so kort is) Ek moet dit net noem omdat ek na Ds. Van Rooyen se inhuldigings preek myself belowe het dat ek nie weer na so 'n preek hoef te gaan nie, was ons by nog een. Hierdie keer vir 'n Afrikaanse predikant in 'n Engelse kerk. In Engels. Whoesaa.


Baie geluk aan Kobus wat sy laaste vak geslaag het. Wel gedaan! Ek weet hoe dit voel. (Om so lank te studeer.) (Ten tye van hierdie blog is die uitslag van my laaste vak nog uitstaande.)


Liefde en Groete


Johann