Monday, 23 January 2012

Net nie nog sjokolade nie asseblief...

Ek kan nooit help om kinders jammer te kry wanneer ek sien dat winkels op Oukersdag reeds "Back to school" advertensies begin uit stuur nie. Dink maar net hoe depressief mens sou raak as daar 'n "back to work sale" net na Kersfees was?
Paaseiers op die winkelrakke in Januarie.
Dit gesê is daar al sedert Oukersdag reeds in sommige winkels Australiëdag en Valenteinsdag produkte op die rakke gesit en al het die skole nog nie eers begin nie, ek het vanmiddag in ons plaaslike Sydney-Woolworths gesien dat daar reeds paaseiers op die rak is!?
Hierdie was maar 'n lang week. Net soos wanneer 'n hond oor sy eienaar treur wanneer dìe weggaan, kry ek myself vreeslik jammer as Jeanelle so lank van die huis af moet weggaan en hierdie week was dit besonders lank, Dinsdag tot Vrydag. Anders as 'n hond, hou ek nie op met eet nie, ek begin vreet. Ek was iewers hierdie week gou in die winkels om voorraad te koop toe ek hot-cross buns op 'n uitverkoping kry. Ek koop toe 'n pakkie om saam met koffie te eet, maar dit was eers by die tweede 'bun' dat ek besef daar is iets verkeerd. Die 'buns' smaak net nie so lekker soos ek onthou nie!? Dis toe dat ek agter kom dis die rosyntjies wat kort en hot-cross buns sonder rosyntjies = kaneel-buns. En toe kry ek myself éérs jammer.
By die werk was dit moeilik om gemotiveerd te bly, omdat ek nog net 3 werksdae het in hierdie maand, moet iemand nou koop, of wag tot ek terug is.
Ons het hierdie naweek 'n plekkie gesoek om koek en koffie te eet, maar dit was 'n stryd. Omdat ons uit bak-families uit kom, is ons lankal gewoond aan teleurstelling as dit kom by enige koek wat nie deur ons ma's gebak is nie. Na 'n lang soektog het ons by 'n sjokolade restaurant uitgekom wat lekker gelyk het. In 'n oomblik van swakheid, bestel ons mos toe meer as wat ons kon eet. Ek moes seker moeilikheid gesien kom het toe die kelnerin met die eerste bord (Brownie met gesmelte sjokolade) vra wie s'n dit is...
Toe sy die derde bord bring (wafel met gesmelte sjokolade), het ons altwee afgekyk, terwyl sy dit saggies op die tafel se verste punt neergesit het en toe alles reeds by ons tafel was, het sy hoflik gevra: "Would that be all for today?" ...Ons antwoord toe soos een man "Yes, please, thank you!"  Sy vat die tafelnommer en ons het haar nooit weer gesien nie. As ons nooit nie gou weer sjokolade sien nie, sal dit oraait wees.

Ons het al begin pak en sien julle binnekort! (Australië dag kom later hierdie week, kyk uit vir die video-link)

Liefde en Groete

Johann







No comments:

Post a Comment