Monday, 16 January 2012

'n Week 'in transit', met verkope sukses

Die jaar het begin met baie besighede wat eers op Maandag 16 Januarie oop maak. Ek weet ook nie hoe hulle 'n bestaan maak met so 'n laat begin nie. Ons kan seker nie te veel vinger wys nie, want sodra alles net lekker aan die gang is, glip ons uit na 'n vinnige Suid Afrika besoekkie. 
Dis baie lekker hier, maar ons het nou 'n bietjie van 'n lang 'stretch' gehad. Ons was 8 maande laas by die huis. Klink dalk nie so lank nie, maar dit voel vir ons nou al baie lank. Ons moet nou net eers 'n bietjie by ons eie mense gaan 'herlaai'. Dis nog net een vol week en 4 dae, waarvan een, gelukkig, vir ons 'n vakansiedag is!

Ek het na 'n lang en plat leerkurwe, my eerste masjien verkoop. Die onderhandelings het vir twee ure aan gehou op die eerste dag en nog twee op die volgende. Ek het die sjinees later so deurmekaar gepraat dat ek self nie meer geweet het wat ek belowe het nie. Die ys is nou gebreek en ek hoop dis die begin van nog baie suksesvolle onderhandelings. 

Jeanelle was Maandag oggend tot Woensdag middag in NewZealand en Vrydag gou in Brisbane. Ek kon darem 'n goeie ontbyt saam met haar geniet in die 'lounge', maar het daarvoor betaal toe die parkering $22 kos, lol.

Ons tweede huis in Sydney, die 'Qantas Lounge' .

Hierdie week is sy weer Dinsdag tot Vrydag in Adelaide. 
Die naweek was daar 'n vinnige draai in die winkels, maar niks besienswaardig nie. Het wel hierdie oulike foto geneem terwyl ons vir Simoné iets kleins gesoek het. 

... uit die kwaliteit van die foto, het die volgende plakkaat begin sin maak:
GetARealCamera.com
Ek het ook weer moed vir hierdie week se verkope en onderhandelings uit ons inkopies gekry; veral nadat 'n meisie my, sonder om te bloos, $4.20 vir 'n koffie gevra het, wat eintlik $2 kos wanneer jy jou inkopie-strokie wys. Ek het niks gesê nie, hoewel ek eintlik verwag het dat sy om verskoning sal vra wanneer ek betaal. Sy het seker gemaak dat almal wat hierdie week iets by my wil koop en oor die prys onderhandel, dit gaan ontvang! (en met 'dit' bedoel ek nie afslag nie.)

Kyk gerus volgende naweek uit vir my spesiale "Australiëdag" blog!

Liefde en Groete,

Johann

No comments:

Post a Comment