Die nadeel van presente onder die boom sit voordat Kersvader dit bring, het ek geleer toe Jeanelle sê: " ek hoev nie meer soet te wees nie, ek het klaar presente."
Ons wou wag tot Kers-oggend om presente oop te maak, maar kon nie. :-)
Die vakansietjie het met 'n heerlike sonnige dag begin, maar ons was besig om 'supplies' te koop en teen die tyd dat ons kon strand toe gaan, was dit koud en bewolk. Ons kyk toe maar (byna) al die DVD's in die 'DVD-Vending Machine' gedurende die reënerige dae.
Ons het so bietjie vakansie 'inception' gehad (vakansie in vakansie); ons is gou vir twee aande na die Hunter-Vallei, Sydney se naaste wynlande, 1.5ure uit die stad uit.
Nadat ons, ons sleutels opgelaai het by die hotel, was ons net betyds om een wynplaas oop te kry. Hoewel die vrou wat ons gehelp het, nie gelyk het of sy meer van die wyn geweet het as wat op die etiket staan nie, het sy vir ons al die kaarte en aanwysings gegee na alles wat ons nie kon mis nie, onderandere die Hunter-Vallei Tuine wat met 1000'de liggies opgemaak is.
Ons was ook by 'n sjokolade en fudge winkel, 'n kaas winkel met heerlike feta-kaas en 'n wynplaas wat spesialiseer in vonkelwyn en alles wat borrels maak/in het. Die laaste wynplaas was ook die ideale plek om 'n bottel vonkelwyn vir oujaarsdagaand te kry. So hardseer soos dit is, het ons gisteraand in Sydney gesit en die asemrowende vuurwerke op die TV gekyk.
Aan die ander kant van die wêreld het die Bothmas hulle Nuwejaar in die hospitaal deur gebring, baie geluk met julle nuwe seun! Ons is seker hierdie gaan vir julle 'n jaar weer vol nuwe erfarings wees.
Ons het darem vandag so bietjie son gekry, na 'n dag op die strand. Waarna ons aangetrek het vir ons nuwejaars diens, 8pm volgens die kerk se webwerf. Daar aangekom was ons die enigste mense daar. Daar sit ons toe in die kar; 'All dressed up and nowhere to go.'
Ek wens vir julle almal 'n voorspoedige 2012!
Baie liefde en groete,
Johann