Thursday, 18 April 2013

Voorbereiding

(12-18 April) (Op tyd en alles!)

Oppad werk toe vanoggend het ek gewonder of daar darem iemand is wat nie kan wag om te sien wat in hierdie week se blog is nie. Om eerlik te wees: Ek kon self nie wag nie.

Jeanelle het solank begin uitkyk vir opsies vir Divvie wanneer sy moet terug gaan werk toe. Die een plek wat sy besoek het was soos 'n baba kennel waar kotte gedeel word in donker kamertjies en kinders  wat los kom reguit vir die deur naal. Daar is gelukkig plekke wat sy gesien het waar dit darem lyk of die mense van kinders hou en die kinders dit geniet.

Verlede Vrydag het ek verlof gevat om saam met vriende hulle nuwe Australiaanse Burgerskap te gaan vier. (Dis amper 'n vreemde gedagte om 5 vol dae aanmekaar te moet werk.) Ek vind dat ek nog so bietjie gril vir koek, maar ons het na ‘High Tea’ saam gaan pizza eet om die viering voort te sit. Ons is geseën met Divvie wat weereens (vir die 2de keer) deurgeslaap het tot 6 uur Saterdag-oggend. (Ons het soos nuwe mense gevoel.)

Jeanelle se baas (nuwe baas, want die vorige een is ook op kraamverlof. Daar is seker iets in die water.) het haar gebel om te hoor of sy, wanneer sy terug werk toe gaan, oor haar nuwe studies wil oplees en of sy eerder vir ‘n paar dae, in Mei, San Fransisco toe wil gaan vir die amptelike inligting sessie. Ons was effens stomgeslaan. Sy moes Maandag registreer as sy wou gaan.

Op Sondae kan gesinne (met ten minste een kind) vir slegs $2.50 (+/- R25) per volwassene, vir die hele dag enige publieke vervoer gebruik. (Gewoonlik kos dit +/-$3 per person vir ‘n eenrigting busrit en $10 per person vir ‘n enkelrigting-bootrit). Na die marathon blog sessies van die vorige week (om die 10 weke se nuus in te haal) was dit die ideale manier om bietjie uit die huis te kom. Ongelukkig weet almal met kinders in Sydney dit. Daar was amper meer stootkarretjies as mense op die boot na Manly se strand. Divvie het dit geniet om sy voetjies bietjie in die Tasmansee te druk, maar die bootrit terug was te veel vir hom en hy het dwarsdeur geslaap.
Uitsig van die boot af.
Bootrit vanaf Manly.
Divvie raak nou bewus van sy regterarm en dié beweeg hy tot groot vermaak op en af. Hy maak ook al hoe meer geluidjies. Hier is 'n oulike advertensie wat op die oomblik hier op die televisie is.

Onseker of dit ons(ek) is wat wil bewys ons(ek) dit kan oorleef, die geleentheid om 'n nuwe plek te sien, of die feit dat dit die lewe vir Jeanelle baie makliker maak as sy moet terug gaan werk toe, het ons(ek en Jeanelle) besluit sy gaan San Francisco toe!
Dit het ons met 'n paar struikelblokke gelos vir hierdie week: Wie gaan na Divvie kyk? Wat gaan hy eet? Hoe gaan ons in minder as 22 dae 'n Visum vir Jeanelle kry?
Hoe mis ons maar ons vriende en ouers wat bystand kan bied. (Ek gaan julle seker nog baie meer mis in daardie week.)

Jeanelle gaan vir 4 weeksdae weg wees. Ongelukkig sal ons haar aan 'n melkmasjien moet koppel as ons genoeg melk vir daardie week wil uitmelk terwyl Divvie ook wil hê. Ons moes die outjie stadig aan formule melk bekend stel, net om die borsmelk aan te vul terwyl sy ma weg is. Dit laat my nou skielik toe om ook voedings oor te neem wat nogals gerieflik is. Ons glo steeds aan die belangrikheid van borsmelk en sal hom so gou moontlik weer terug op die bors probeer kry wanneer sy ma terug kom.

Hy kry op die oomblik net een bottle formule per dag. (Toemaar, ek sal nou ophou oor borste praat...) Ons was wel vanoggend bekommerd dat hy dalk verstop het na 24 uur se skoon doeke, maar ons bekommernis was gou verby. Ons was al besig om 'n lys van mense te maak wat dalk na Divvie sou kon kyk, toe Jeanelle 'n pragtige plekkie kry, oppad na my werk toe, wat vir 'n paar dae na kinders omsien. Die mense is baie oulik en die bestuurder het pryse gewen vir haar bydraes tot vroeë kinder ontwikkeling (so Divvie is in goeie hande). Die plek se ure is ongelukkig kort en as ons hom laat oplaai, kos dit $15 vir elke 5minute wat jy laat is. Ek het gereël dat ek vir daai week korter ure werk.
Om op te maak vir die ure, werk ek nou elke dag 30 minute ekstra.

By die werk het ek skielik (na 3 maande) 'n nuutgevonde selfvertroue. Dis moontlik nadat ek agter gekom het dat my kollega, wat al 4 jaar by die plek werk, nie veel meer as ek weet hie. Die geheim: As iemand jou vra hoe om iets te doen en jy nie seker is nie; maak of jy seker is en wys hulle hoe.

Hierdie week was nogals lank. Vir die eerste keer in 'n lang tyd moet ek 5 dae aanmekaar werk.
Vandag was daar min om te doen, die fone was stil en die ure het soos dae gevoel. Middagete het Jeanelle en Divvie saam met my kom middagete eet (deels omdat ek perongeluk al die huis sleutels saam met my gevat het). Dit was die vinnigste etensuur van my lewe!

Intussen het Aldi, 'n kettingwinkel in Australië, ook begin om Suid Afrikaanse produkte teen billike pryse te verkoop. (Nuttelose inligting vir die week.) Dit het sommer 'n glimlag op my gesig gesit toe ek sien dat almal by die betaalpunt 'n arm vol Suid Afrikaanse Produkte (wat All Gold Tamatiesous, Simba Skyfies, Ouma Beskuite en ProNutro insluit) het.

Divvie se id-nommer is amper beskikbaar en dan behoort ons binne weke in SA te wees!

Baie Liefde en Groete

Johann



No comments:

Post a Comment