Thursday, 4 April 2013

Paasfees, koekfees

(29 Maart - 4 April 2013)

Dit was die begin van Paasnaweek. (Dis een van baie min langnaweke in Australië.)
Ons kerk het Donderdagaand reeds nagmaal gehad, ‘n ‘Maude’-diens wat die laaste avondmaal voorstel.
Laaste Avondmaal - Leonardo da Vinci

Ons sou teen Woensdagaand al 3 dienste in 5 dae bygewoon het, so ons het die Donderdagaand diens oorgeslaan. Vrydagoggend het ons die Goeie Vrydagdiens bygewoon. Dit was 'n pragtige diens waarin die dominee ‘n video gespeel het van die kruisiging wat nogals sal maak dat enige iemand heeltemal van die paashaas en die 20 weggesteekte sjokolade paaseiers in die woonstel sal vergeet en so bietjie nadink waaroor paasfees regtig gaan.
'n Geskenk van die Koreaanse Kerk (wat in ons kerk se gebou vergader)
Gekookte eiers met 'n boodskap/prentjie om ge'shrink-wrap'
Divvie raak al hoe grooter onder ons oë. Sy doeke het so bietjie verander en is nou groen van kleur met ‘n reuk wat al hoe meer na bloukaas ruik.
Saterdag het Jeanelle ‘High Tea’ saam met ‘n vriendin gaan drink, terwyl Divvie aan sy pa se genade oorgelaat is. Ek was vanplan om hom te laat slaap terwyl ek bietjie tyd spandeer aan my stokperdjies (web ontwerp en blog, om maar ‘n paar te noem). (Verrasing!) Ons (ek en Divvie) het Jeanelle gaan aflaai voordat ek ‘n paar inkopies wou gaan doen.

Nadat ons by die eerste plek parkering gekry het en uit die karstoeltjie gekom het, was Divvie nie meer so gelukkig nie. (Ons moet tog ‘n afslaankap ry met ons volgende kind. Dit sal die proses om in en uit die karstoeltjie te kom, baie makliker maak.) Terug in die kar is ons na die Suid-Afrikaanse slaghuis 25 minute verder. Dit het ongelukkig met 10 minute met Divvie se voeding oorvleul en hy was glad nie gelukkig daarmee nie. Na ‘n voeding en doekruil in die parkeerteryn van die slaghuis, het ons gou ‘n paar produkte gaan koop wat ons mis uit Suid Afrika (onderandere Royal Bakpoeier, Pro Nutro, Biltong, Windhoek, Lemon Creams…).

Ek het ook geleer dat as mense ‘n man sien met ‘n baba in die arm, dan wil almal jou help met deure oopmaak en pakkies dra, ens. Tuis, in die motorhuis het ek gelukkig eers vir Jeanelle gebel om te hoor of sy amper klaar is, voordat ons die proses begin het om uit te klim, want sy was reg om opgelaai te word. (En so is my oggend verby, sonder enige stokperdjie tyd.)

Hierdie pizza's word deur Domino's verkoop teen $4 vir 4.
Dis 4 verskillende tipes, maar daar is te min bestandele op om hulle te identifiseer.
Toe is daar met erns gebak by ons woonstel. 50+ Wortelkoek ‘cupcakes’ en ‘n oondpan Sjokolade Koek. Sondagoggend na kerk was 'n fees! Ons het saam met griende die koek-en-tee behartig en daar is verseker niemand honger huistoe nie. Dit was so lekker dat hulle ons sommer weer gevra het om koek te bak vir die dominee se inwyding die Woensdagaand.
Dinsdagaand het ons weer tot laat koek gebak. Nadat ek die 1kg wortles deur die voedselverwerker gesit het om dit te rasper, vir die wortelkoek, het ons agtergekom dat ek perongeluk die rasperlem onderstebo gehad het en dat ek sopas 1kg wortles in skyfies gesny het. Ons het gelukkig nog genoeg wortles gehad, maar wat moet 2 mense met ‘n kilogram wortel skywe maak? (Pennie Slaai?) (Die versapper het die hele spul net so deurgegooi, sonder om dit te versap, want die skywe het deur die put-gleuf gepas.)
Koek. (Wortel & Sjokolade)

Ek het myself voorheen belowe om nooit weer na enige vorm van inlywing/intree rede/preek toe te gaan nie, as gevolg van een wat ek 'n paar jare gelede in Pretoria bygewoon het; daar was drie dominees wat almal gedink het hulle moet ‘n preek voorberei (dit was daardie dag ‘n 2.5 ure preek), maar die dominee wou graag hê ons moes daar wees en het my verseker daar sal net een preek wees. Die inlywing was toe eintlik baie lekker met nog ‘n goeie preek deur 'n doktor van die teologie kollege. Dit het 20:00 eers begin en die mense was blykbaar nie so honger na die diens soos op Sondag oggend nie en ons is met 2 halwe oondpan koeke huistoe.

Jeanelle het ‘n spier in haar nek/rug seergemaak gedurende 'n voeding die nag en ek is Donderdag middagete al huis toe om die gesin te gaan versorg. Hulle was in die woonstel vasgekeer, omdat nie een van hulle die stootkarretjie kon opslaan en by die trappe kon af kry om apteek toe te gaan nie. Ek kon gelukkig vir haar Voltaren kry om weer te kan beweeg. Divvie raak nogals 'n gewiggie. Teen 7.2kg is hy nie die ligste dingetjie om vas te hou nie en 'n mens kan maklik jou rug seermaak (dis nou tyd dat hy begin loop). Hy slaap ook nie meer die heeltyd tussen voedings nie; ek het gedink Donderdagmiddag sal 'n vakansie wees. (Toe nie.) Hy hou 'n mens nogals besig!

Ons het Donderdag na elke ete en soms tussen etes(/voedings) ook, koek geniet. Teen Donderdagaand was ons amper uitgeet aan koek. (Amper).

Liefde en Groete

Johann

No comments:

Post a Comment