Friday, 26 April 2013

On-Vriend

Ek het begin om te skryf en na 2 bladsye besef dis al ‘n 1 uur lange preek, sonder om enige sang, aankondigings of gebede in te reken. In kort was die boodskap iets van kommunikasie. Hoe maklik dit is om die foon op te tel, maar hoe ons nie altyd die moeite doen nie. Dis makliker om iemand af te skryf, of nog makliker, te ‘Un-Friend’(Facebook). Dalk is ek net so bietjie suur want Jeanelle kan nie Vrydag saam met my middagete eet nie, want sy het ‘n ‘afspraak’ met ‘n vriendin wat haar net ge-‘un-friend’ het (toemaar dis in Australië en as jy nie Vrydag ‘n middagete afspraak met Jeanelle het nie, is jy veilig).

Jeanelle het met die Suid Afrikaanse Hoëkommisaris gepraat oor ons vakansie-planne en dat ons nie juis vir Divvie wil doop as hy groot is (hy is alreeds groot, maar al loop) nie. Ons wag vir sy ID-nommer om aansoek te kan doen vir ‘n tydelike paspoort, om hom op die Visum by te voeg, sodat ons Suid Afrika toe kan vlieg. Na vele oproepe gee hulle toe vir Jeanelle ‘n kontak nommer in Suid Afrika om self te probeer. Binnelandse Sake wou nie die nommer oor die telefoon gee nie maar stel toe voor dat ons iemand in Suid Afrika met ‘n brief na ‘n tak stuur. Hulle kon ook bevestig dat hy al ‘n regte paspoort het, maar dié word in die geheim na Australië toe gestuur en niemand mag sê wanneer nie. (Hoop dis binnekort.)
Ons stuur toe vir Ma (Ouma) Gerda. (Die oumas en oupas is nou al moeg gewag om vir Divvie te ontmoet.) Terwyl die dametjie vir haar baas gaan vra of sy die ID nommer mag uitgee, leun Ouma Gerda toe sommer oor die toonbank en skryf die nommer af. Die aansoek vir sy tydelike paspoort is nou in!

Verlede naweek was dit koud en nat in Sydney. Na so ‘n bietjie gesukkel om ‘n lekker restaurant te kry wat beskutting teen die elemente het (en diens), het ons saam met vriende ontbyt geëet. Sondag, na kerk, middagete by die pastorie en voor ons ons oë kon uitvee was die naweek verby!
Ons het almal so bietjie verkoue gehad hierdie week. Arme Divvie het maar gesukkel om asem te kry terwyl hy suig, maar hy is nou weer beter. Gepraat van Divvie;  hy begin nou sy arms onder beheer kry en hy het al 3 aande hierdie week deurgeslaap.

Woensdagaand was ons vir die eerste keer na ‘Lucky Tsotsi’, ‘n Suid Afrikaanse Restaurant in Sydney. Ons het soos baie slegte ouers gevoel toe ons 19:30, uit die koue uit, in die raserige restaurant inloop met Divvie in ‘n sy stootkarretjie. Vir ‘n verandering was ons nie die mense wat gesê/gedink het: “Wat maak hierdie mense so laat uit met die babatjie!” nie, ons wás die mense. Hulle spyskaart het onder andere pap en wors, ‘bunny chow’, Durban samoosas en ‘n biltongbord gehad en ons kon groen Cream Soda en Suid Afrikaanse bier geniet. Die dekor het ons effens aan ons eie sitkamer laat dink, met allerande Afrikakkies.

Hier is 'n video wat ons op ons piekniek geneem het (Donderdag was ANZAC dag, 'n Nasionale vakansiedag in Australië en ons kon bietjie rustig wees). Divvie lek alles wat naby kom, toe span ek hom in om te help.

Jeanelle se San Fransisco trip is bespreek en ek het nog 'n week om alles te leer wat nodig is.

Die volgende stop is Facebook om te kyk of ons nog vriende is…www.facebook.com :-)

Sien julle binnekort,

Baie Liefde en Groete

Johann

Thursday, 18 April 2013

Voorbereiding

(12-18 April) (Op tyd en alles!)

Oppad werk toe vanoggend het ek gewonder of daar darem iemand is wat nie kan wag om te sien wat in hierdie week se blog is nie. Om eerlik te wees: Ek kon self nie wag nie.

Jeanelle het solank begin uitkyk vir opsies vir Divvie wanneer sy moet terug gaan werk toe. Die een plek wat sy besoek het was soos 'n baba kennel waar kotte gedeel word in donker kamertjies en kinders  wat los kom reguit vir die deur naal. Daar is gelukkig plekke wat sy gesien het waar dit darem lyk of die mense van kinders hou en die kinders dit geniet.

Verlede Vrydag het ek verlof gevat om saam met vriende hulle nuwe Australiaanse Burgerskap te gaan vier. (Dis amper 'n vreemde gedagte om 5 vol dae aanmekaar te moet werk.) Ek vind dat ek nog so bietjie gril vir koek, maar ons het na ‘High Tea’ saam gaan pizza eet om die viering voort te sit. Ons is geseën met Divvie wat weereens (vir die 2de keer) deurgeslaap het tot 6 uur Saterdag-oggend. (Ons het soos nuwe mense gevoel.)

Jeanelle se baas (nuwe baas, want die vorige een is ook op kraamverlof. Daar is seker iets in die water.) het haar gebel om te hoor of sy, wanneer sy terug werk toe gaan, oor haar nuwe studies wil oplees en of sy eerder vir ‘n paar dae, in Mei, San Fransisco toe wil gaan vir die amptelike inligting sessie. Ons was effens stomgeslaan. Sy moes Maandag registreer as sy wou gaan.

Op Sondae kan gesinne (met ten minste een kind) vir slegs $2.50 (+/- R25) per volwassene, vir die hele dag enige publieke vervoer gebruik. (Gewoonlik kos dit +/-$3 per person vir ‘n eenrigting busrit en $10 per person vir ‘n enkelrigting-bootrit). Na die marathon blog sessies van die vorige week (om die 10 weke se nuus in te haal) was dit die ideale manier om bietjie uit die huis te kom. Ongelukkig weet almal met kinders in Sydney dit. Daar was amper meer stootkarretjies as mense op die boot na Manly se strand. Divvie het dit geniet om sy voetjies bietjie in die Tasmansee te druk, maar die bootrit terug was te veel vir hom en hy het dwarsdeur geslaap.
Uitsig van die boot af.
Bootrit vanaf Manly.
Divvie raak nou bewus van sy regterarm en dié beweeg hy tot groot vermaak op en af. Hy maak ook al hoe meer geluidjies. Hier is 'n oulike advertensie wat op die oomblik hier op die televisie is.

Onseker of dit ons(ek) is wat wil bewys ons(ek) dit kan oorleef, die geleentheid om 'n nuwe plek te sien, of die feit dat dit die lewe vir Jeanelle baie makliker maak as sy moet terug gaan werk toe, het ons(ek en Jeanelle) besluit sy gaan San Francisco toe!
Dit het ons met 'n paar struikelblokke gelos vir hierdie week: Wie gaan na Divvie kyk? Wat gaan hy eet? Hoe gaan ons in minder as 22 dae 'n Visum vir Jeanelle kry?
Hoe mis ons maar ons vriende en ouers wat bystand kan bied. (Ek gaan julle seker nog baie meer mis in daardie week.)

Jeanelle gaan vir 4 weeksdae weg wees. Ongelukkig sal ons haar aan 'n melkmasjien moet koppel as ons genoeg melk vir daardie week wil uitmelk terwyl Divvie ook wil hê. Ons moes die outjie stadig aan formule melk bekend stel, net om die borsmelk aan te vul terwyl sy ma weg is. Dit laat my nou skielik toe om ook voedings oor te neem wat nogals gerieflik is. Ons glo steeds aan die belangrikheid van borsmelk en sal hom so gou moontlik weer terug op die bors probeer kry wanneer sy ma terug kom.

Hy kry op die oomblik net een bottle formule per dag. (Toemaar, ek sal nou ophou oor borste praat...) Ons was wel vanoggend bekommerd dat hy dalk verstop het na 24 uur se skoon doeke, maar ons bekommernis was gou verby. Ons was al besig om 'n lys van mense te maak wat dalk na Divvie sou kon kyk, toe Jeanelle 'n pragtige plekkie kry, oppad na my werk toe, wat vir 'n paar dae na kinders omsien. Die mense is baie oulik en die bestuurder het pryse gewen vir haar bydraes tot vroeë kinder ontwikkeling (so Divvie is in goeie hande). Die plek se ure is ongelukkig kort en as ons hom laat oplaai, kos dit $15 vir elke 5minute wat jy laat is. Ek het gereël dat ek vir daai week korter ure werk.
Om op te maak vir die ure, werk ek nou elke dag 30 minute ekstra.

By die werk het ek skielik (na 3 maande) 'n nuutgevonde selfvertroue. Dis moontlik nadat ek agter gekom het dat my kollega, wat al 4 jaar by die plek werk, nie veel meer as ek weet hie. Die geheim: As iemand jou vra hoe om iets te doen en jy nie seker is nie; maak of jy seker is en wys hulle hoe.

Hierdie week was nogals lank. Vir die eerste keer in 'n lang tyd moet ek 5 dae aanmekaar werk.
Vandag was daar min om te doen, die fone was stil en die ure het soos dae gevoel. Middagete het Jeanelle en Divvie saam met my kom middagete eet (deels omdat ek perongeluk al die huis sleutels saam met my gevat het). Dit was die vinnigste etensuur van my lewe!

Intussen het Aldi, 'n kettingwinkel in Australië, ook begin om Suid Afrikaanse produkte teen billike pryse te verkoop. (Nuttelose inligting vir die week.) Dit het sommer 'n glimlag op my gesig gesit toe ek sien dat almal by die betaalpunt 'n arm vol Suid Afrikaanse Produkte (wat All Gold Tamatiesous, Simba Skyfies, Ouma Beskuite en ProNutro insluit) het.

Divvie se id-nommer is amper beskikbaar en dan behoort ons binne weke in SA te wees!

Baie Liefde en Groete

Johann



Thursday, 11 April 2013

Alles is 'ok'

(5 - 11 April)

Ons het uiteindelik Vrydag die koek opgeeet! Betyds sodat ons(royal plural) na daylight saving weer kan begin om gesonder te leef. Ek het voorlopig ook enige oefening uitgestel tot na die verandering, om eers seker te maak oor die effek op sonlig in die oggende en middae (so asof ek nie ‘n lig bo die treadmill het nie).

Dit was duidelik hoeveel Jeanelle eintlik doen terwyl sy by die huis is met Divvie. Na een dag wat sy buite aksie was as gevolg van die skouer-nek-vlerkie-spier-ding, kon ek sien dat daar ‘n paar goed is wat ophoop. Jeanelle was nog nie 100% nie, maar sy het Voltaren gehad en kon weer self regkom sodat ek Vrydag weer kom gaan werk. Om net te bewys dat ek nie heeltemal van die idee van werk toe stap afgesien het nie, het ek Vrydagoggend in net 25minute werk toe gestap.

‘n Mylpaal: Hierdie is die 100ste Blog! Ek weet daar is ‘n paar onlangse gapings gewees. Die goeie nuus (vir die wat regtig wil sien hoe dit gegaan het ‘n paar weke terug) is dat die blogs amper ook klaar is en binnekort beskikbaar sal wees. (Dis ‘n teken dat ons nou al hoe beter raak met die ouers-wees-ding.)

Ons was Saterdag rustig by die huis. Dit het gereën, wat ons planne bietjie omvergewerp het. Ons het net 2 eiers in die yskas gehad en die brood was op, so toe maak ons pannekoek. Ons het ook so bietjie familie fotos probeer neem. Ons het die kamera op 'n driepoot ingestel dat daar  'n rits van 10 fotos geneem word na 10 sekondes. Ons kon nooit voorspel wat Divvie se uitdrukking gaan wees nie. Hy is soos hierdie gogga uit "A Bug's Life" (Sodra ons die lig aansit, dan kyk hy net op.)

Hier is een van ‘n rits van 10 fotos waar sy ouers hom al reeds op die ouderdom van 12 weke in die verleentheid stel.


Ons het by vriende gaan kuier tot laat (vir nuwe ouers) Saterdagaand en was eers 01:00 by huis. Ons kon darem die horlosies met ‘n uur terug draai en ‘n ekstra bietjie slaap as gevolg van ‘daylight saving’. 

Sondag, na kerk, het ek aan die kerk se webblad gewerk en dié is so halfpad klaar. Die ou webblad is so gebruikers onvriendelik, dat dit jou tot trane kan dryf.

Dis sommer koud na die ‘daylight saving’ verandering. 
Dinsdagoggend was koud (18ºC) met motreën terwyl ek vir die bus staan en wag (ek kon in in die reën stap, maar ek het ‘n kerkvergadering in die aand gehad waarvoor ek nog moes vars lyk). Terwyl ek besig was om my familie-grootte-sambreel op te slaan, sien ek ‘n ander passasier op die bus klim met ‘n spaan en toe weet ek: ons sal 'ok' wees. 
Die aand, oppad na die kommitee vergadering, hol ek by die trappe op na die straat. By die laaste twee trappe onthou ek van ‘n spinnekop wat die vorige dag gemaak het dat ek ompad loop. Met die klim en koes, haak my voet vas en ploeg(val/slet) ek met my skouer/bors op die sypaadjie neer soos ek probeer om my bril en die agenda van die vloer af te hou. Behalwe vir ‘n paar skraapmerke op my knie en hand is ek 'ok'. Ek kon wel met behulp van bietjie Mecurochrome, so bietjie ekstra versorging by die huis geniet.
Skraap merke aan my hand, na die val. (Die agenda het gelukkig nie 'n skrapie op nie).

Ek het eers 01:30 die volgende oggend (toe Divvie voed) gevoel dat my hele bolyf styf is en van die Voltaren gedrink wat ek verlede week vir Jeanelle gekoop het. 
Donderdag oggend het ek voor werk gou gestryk, gestofsuig, skottelgoed gewas en toilet skoongemaak, voordat die agent later die dag kom inspeksie doen het. Sy het net 'n kaartjie gelos met die woorde: "Thank you", so ek neem aan dit was 'ok'.

Eerskomende Maandag kan ons die SA Hoëkommisaris in Canberra bel om te hoor of het hulle al Divvie se id nommer het. Sodra ons dit het, kan ons vir sy tydelike paspoort aansoek doen en kom kuier. 

Ons kan nie meer wag om te kom kuier nie! 
Baie Liefde en Groete

Johann

Thursday, 4 April 2013

Paasfees, koekfees

(29 Maart - 4 April 2013)

Dit was die begin van Paasnaweek. (Dis een van baie min langnaweke in Australië.)
Ons kerk het Donderdagaand reeds nagmaal gehad, ‘n ‘Maude’-diens wat die laaste avondmaal voorstel.
Laaste Avondmaal - Leonardo da Vinci

Ons sou teen Woensdagaand al 3 dienste in 5 dae bygewoon het, so ons het die Donderdagaand diens oorgeslaan. Vrydagoggend het ons die Goeie Vrydagdiens bygewoon. Dit was 'n pragtige diens waarin die dominee ‘n video gespeel het van die kruisiging wat nogals sal maak dat enige iemand heeltemal van die paashaas en die 20 weggesteekte sjokolade paaseiers in die woonstel sal vergeet en so bietjie nadink waaroor paasfees regtig gaan.
'n Geskenk van die Koreaanse Kerk (wat in ons kerk se gebou vergader)
Gekookte eiers met 'n boodskap/prentjie om ge'shrink-wrap'
Divvie raak al hoe grooter onder ons oë. Sy doeke het so bietjie verander en is nou groen van kleur met ‘n reuk wat al hoe meer na bloukaas ruik.
Saterdag het Jeanelle ‘High Tea’ saam met ‘n vriendin gaan drink, terwyl Divvie aan sy pa se genade oorgelaat is. Ek was vanplan om hom te laat slaap terwyl ek bietjie tyd spandeer aan my stokperdjies (web ontwerp en blog, om maar ‘n paar te noem). (Verrasing!) Ons (ek en Divvie) het Jeanelle gaan aflaai voordat ek ‘n paar inkopies wou gaan doen.

Nadat ons by die eerste plek parkering gekry het en uit die karstoeltjie gekom het, was Divvie nie meer so gelukkig nie. (Ons moet tog ‘n afslaankap ry met ons volgende kind. Dit sal die proses om in en uit die karstoeltjie te kom, baie makliker maak.) Terug in die kar is ons na die Suid-Afrikaanse slaghuis 25 minute verder. Dit het ongelukkig met 10 minute met Divvie se voeding oorvleul en hy was glad nie gelukkig daarmee nie. Na ‘n voeding en doekruil in die parkeerteryn van die slaghuis, het ons gou ‘n paar produkte gaan koop wat ons mis uit Suid Afrika (onderandere Royal Bakpoeier, Pro Nutro, Biltong, Windhoek, Lemon Creams…).

Ek het ook geleer dat as mense ‘n man sien met ‘n baba in die arm, dan wil almal jou help met deure oopmaak en pakkies dra, ens. Tuis, in die motorhuis het ek gelukkig eers vir Jeanelle gebel om te hoor of sy amper klaar is, voordat ons die proses begin het om uit te klim, want sy was reg om opgelaai te word. (En so is my oggend verby, sonder enige stokperdjie tyd.)

Hierdie pizza's word deur Domino's verkoop teen $4 vir 4.
Dis 4 verskillende tipes, maar daar is te min bestandele op om hulle te identifiseer.
Toe is daar met erns gebak by ons woonstel. 50+ Wortelkoek ‘cupcakes’ en ‘n oondpan Sjokolade Koek. Sondagoggend na kerk was 'n fees! Ons het saam met griende die koek-en-tee behartig en daar is verseker niemand honger huistoe nie. Dit was so lekker dat hulle ons sommer weer gevra het om koek te bak vir die dominee se inwyding die Woensdagaand.
Dinsdagaand het ons weer tot laat koek gebak. Nadat ek die 1kg wortles deur die voedselverwerker gesit het om dit te rasper, vir die wortelkoek, het ons agtergekom dat ek perongeluk die rasperlem onderstebo gehad het en dat ek sopas 1kg wortles in skyfies gesny het. Ons het gelukkig nog genoeg wortles gehad, maar wat moet 2 mense met ‘n kilogram wortel skywe maak? (Pennie Slaai?) (Die versapper het die hele spul net so deurgegooi, sonder om dit te versap, want die skywe het deur die put-gleuf gepas.)
Koek. (Wortel & Sjokolade)

Ek het myself voorheen belowe om nooit weer na enige vorm van inlywing/intree rede/preek toe te gaan nie, as gevolg van een wat ek 'n paar jare gelede in Pretoria bygewoon het; daar was drie dominees wat almal gedink het hulle moet ‘n preek voorberei (dit was daardie dag ‘n 2.5 ure preek), maar die dominee wou graag hê ons moes daar wees en het my verseker daar sal net een preek wees. Die inlywing was toe eintlik baie lekker met nog ‘n goeie preek deur 'n doktor van die teologie kollege. Dit het 20:00 eers begin en die mense was blykbaar nie so honger na die diens soos op Sondag oggend nie en ons is met 2 halwe oondpan koeke huistoe.

Jeanelle het ‘n spier in haar nek/rug seergemaak gedurende 'n voeding die nag en ek is Donderdag middagete al huis toe om die gesin te gaan versorg. Hulle was in die woonstel vasgekeer, omdat nie een van hulle die stootkarretjie kon opslaan en by die trappe kon af kry om apteek toe te gaan nie. Ek kon gelukkig vir haar Voltaren kry om weer te kan beweeg. Divvie raak nogals 'n gewiggie. Teen 7.2kg is hy nie die ligste dingetjie om vas te hou nie en 'n mens kan maklik jou rug seermaak (dis nou tyd dat hy begin loop). Hy slaap ook nie meer die heeltyd tussen voedings nie; ek het gedink Donderdagmiddag sal 'n vakansie wees. (Toe nie.) Hy hou 'n mens nogals besig!

Ons het Donderdag na elke ete en soms tussen etes(/voedings) ook, koek geniet. Teen Donderdagaand was ons amper uitgeet aan koek. (Amper).

Liefde en Groete

Johann