Dit gaan goed. Donderdag aand het ons bietjie laat gaan slaap. So laat, dat ek nadat ek die volgende oggend geskeer het, my hand uitgesteek het om die handeroom uit die kas te haal en besef het dat ek reeds my hande met naskeermiddel ingevryf het. (Nog nie aan my gesig nie.) My tuisgemaak-en-bevrore middagete het ek uit die vrieskas laat val (seker oor my toe gladde hande) en eers toe die hele mikrogolf (by die werk) vol Groen-Thai-kerrie sous was, het ek die gat in die plastiekbakkie waarin dit was gewaar.
My werk gee my darem 'n bietjie van 'n afleiding van die roetine. Ek het altyd skuldig gevoel omdat ek net 'n 10 minute busrit van die werk af bly, maar hulle het hierdie week aangekondig dat my departement moontlik gaan skuif na 'n voorstad wat 'n uur se treinrit vêr is, oor 'n paar maande. :-| (meer afleiding as wat ek graag wil hê.)
Divvie se geboortesertifikaat is al geprint maar moet nou geproeflees word en dan na ons gepos word.
Ons (veral Jeanelle) se week is in 56, 3 uur intervalle verdeel. Ek dink dis baie eentonig en dis seker net die 9 maande se 'bonding' (en hormone wat ek nie het nie) wat maak dat sy nie van haar kop af raak nie. (En om eerlik te wees spaar Jeanelle my van die meerderheid nagvoedings en laat my toe om 'n volle nagrus te kry.)
Met berigte uit Europa dat daar perd in baie van die bevrore etes gevind is en berigte uit Suid Afrika dat perd die laaste ding is waaroor Suid Afrikaners hoef bekommerd te wees, het ek redelik langtand aan my bevrore Spaghetti Bolognese hierdie week geëet. Die bestandele lys het gelukkig gewys dat daar in elkgeval (on)gelukkig net 6% vleis in is. Sowel as 'n hele lys bestandele wat die illusie skep dat dit voedingswaardig is.
Kyk die bestandele. En dan bekommer ons ons oor perd? |
Hier is 'n paar fotos uit ons week: Die arme kind word van tyd tot tyd in sy pa se toesig oorgelaat. Twee goed is duidelik: sy pa het ingenieurs agtergrond en probeer enige kortpad om nog goed gedoen te kry terwyl hy eintlik toesig moet hou.
Hier is pêpa poging nommer 2. Oor poging een kan ons nie praat nie. ('Disclaimer:'/Ontkenning: Moenie hierdie by die huis probeer nie! Geen babas is beseer in die bogenoemde fotos nie. My vrou het my die dood voor die oë gesweer as hy val.) Handig as jy jou hande nodig het... :-)
Pêpa - Probeerslag 2 |
Simulasie van 'n drukkie |
Altwee die engeltjies, flou na 'n voeding! |
Ons het 'n kamera gekry wat beter onder water werk as die iphone en sal binnekort 'n video laai.
Die vryetyd vir blog, ens. is maar min (die pêpa ding werk nog nie so goed nie) so die blog is maar kort.
Ons mis julle vreeslik!
Baie Liefde en Groete
Johann