Hierdie week was sowaar 'n toets. 'n Toets van ons tweetaligheid, ons gesondheid en ons geduld.
Verlede Saterdag oggend (25 Augustus 2012) moes ons 8:00 reeds by die IELTS toetssentrum wees. Die IELTS (International English Language Testing System) toets is verpligtend vir Suid Afrikaaners wat aansoek doen vir 'n PR (permanent residency) Visum in Australië.
Ons is verwelkom deur 'n bondel mense en 'n Koriaan wat op die trappe staan en roep:"Go level 3, go level 3!.." Op vloer 3 was daar 2 rye: 'surnames A-K' en 'L-Z'. Na 20 minute in die ry, duik 'n vrou wat voor ons staan onder deur die tou, want haar van het verander!? Ons kom toe in 'n vertrek waar iemand vir ons 'n plakker gee met ons naam op nadat hulle eers na ons gesigte, ons foto op die rekenaar en ons paspoort fyn bekyk het, om seker te maak ons is sowaarlik wie ons sê ons is.
Daarna bondel almal na die vertrek waar sakke gelaat word, dan weer 'n ry om in die eksamen lokaal in te kom. Dit vat weer 'n rukkie want ons moet nou eers met ons vingerafdruk opgespoor word en hulle kyk net gou weer of jou paspoort soos jy lyk, waarna 'n bleek vroutjie nou vir jou presies wil verduidelik waar jy in die lokaal sit.(nadat jy vir 15 minute in 'n ry gestaan het met diagramme teen die muur wat wys waar jy sit!?) Daarna sit ons vir 3 ure lank deur 'n luistertoets, 'n leestoets en skryftoets in 'n saal met ongeveer 200 mense van Indië, Somalië, Pakistan, China, Korea, Iran...
Met die luister toets het ons na 'n opname geluister waar twee persone praat ('n reisagent en 'n dame) en ons moes 'n lys vrae antwoord soos 'Waarheen wil sy gaan?', ' Wil sy naby die strand bly?'...(gaap)
Die antwoorde was meestal duidelik uitgespel en beklemtoon. Dit was baie vervelig en ek het ten minste een punt verloor omdat my gedagtes gedwaal het van verveeldheid.
Met die leestoets was ek so selfbewus, omdat ek gedink het ek lees dalk te stadig. Maar nadat ek alles vinnig deurgelees het en al die antwoorde beantwoord het, was daar nog 40 minute van die 60 minute toets se tyd oor. Ek kon nie help om te dink "I'm surrounded by idiots..." nie. Die skryftoets was seker die moeilikste (of ten minste die toets waarna ek die meeste opgesien het) en het ons gevra om 'n brief van 150+ woorder te skryf om 'n restaurant te bedank vir iets en ook 'n opstel van 200+ woorde oor jou opinie oor die invloed van moderende lewe op familielewe. (Dit het gevoel of ek terug op skool was.) Die opstel ek my ook laat wonder of dit regtig beter is as alby ouers werk, om meer geld te verdien, maar dan na werk en oor naweke huiswerk soos inkopies, wasgoed en 'spring cleaning' te doen, nie inbraak maak op kwaliteit familietyd/familielewe nie. Kan 'n gesin vandag met een inkomste klaarkom? Is familielewe beter met meer tyd en minder geld? of minder tyd maar meer geld? Diep, diep, heeltemal te min tyd in 40 minute en 200 woorde, sou ek sê.
Na die skryftoetse was daar nog 'n mondeling, om te toets of ons kon Engels praat. :-) Na verskeie interaksies en vrae om te kyk of ek 'n sin aanmekaar kon sit in Anglikaans, moet die eksaminator toe kyk of ek vir 2 minute aaneen, in Engels, kan praat. Van al die moontlike vrae, vra sy my toe om oor 'n stad in Suid Afrika te praat. lol. Ek kon vir 90 minute oor 'n stad in Suid Afrika praat as sy wou (sonder om haar weer 'n kans te gee om iets te sê, maar daar was ander mense wat ook nog voor 18:00 Saterdagmiddag 'n mondelinge toets wou doen.)
Morsdood-moeg, het die res van die naweek verby gesnel.
Dinsdag moes ons vir nog 'n toets gaan vir die PR. Die mediese toetse. Ons het 'n afspraak vir 14:15 gehad en ek het aanvankik gedink dat dit vinnig sal wees en ek dit sommer gou in my middagete-breek sal kan doen. Verrassing! Daar aangekom neem jy 'n nommer en sit in die wagkamer saam met nog 'n spul uitlanders wat visums soek. As hulle jou nommer roep, dan kan jy gaan betaal. Jeanelle was voorbereid en het solank 'n brief by ons dokter gekry wat bevestig dat sy mag X-strale kry terwyl sy swanger is. " Is julle swanger? O, nee, dan mag julle nie..." is hoe elke gesprek begin het, voordat ons met nog 'n dokter moes gaan praat sodat dié kon seker maak ons voel nie verplig on die X-strale (wat deel uitmaak van die mediese toetse) te neem nie. Alles reg en terug by die betaal punt. (Ons mag nou voort gaan.)
Nadat ons betaal het moes ons wag dat hulle ons roep vir X-strale dat hulle kan sien ons het nie TB nie. (hoes).
Daarna moes ons wag vir 'n oog toets, geweeg word, gemeet word en ook 'n uriene monster gee. "Just a little bit" resoneer in my gedagtes terwyl ek, met 'n droë mond, dink dat ek dalk meer water voor die tyd moes gedrink het. (Ek voel nogals selfbewus toe ek die lou-warm koppie op die rakkie sit, nadat ek die rante van die glasie afgevee het.)
Na dit was dit bloedtoetse waar ons deur 'n maer Filipeinse man gehelp is, wat net vertel dat hy al sy eie bloed getrek het om 'n weddenskap te wen. Bloed trek is nie my sterk punt nie. Dit het 'n bietjie onderstebo sit en sjokolade gevat voor ek weer kon regop staan en na die volgende waglokaal gaan. Ons sit en wag vir 'n dokter om ons 'general exam' te doen. Al die Britse/Australiaanse dokters rol hulle oë terwyl hulle die oosterse vanne probeer uitroep. Raai wie kry toe die Oosterse dokter. :-)
Asof die vernedering toe nou nog nie groot genoeg was nie en hulle nog nie alles van my weet nie, moes ons toe uittrek (volgens die diagram wat in 20 tale is, moes ons (gelukkig) asseblief ons onderklere aanhou). Dit was bloeddruk, en hart en longe luister. Weet nie waarom ek my broek moes uittrek nie...
Maar toe kom sy met so 'n pen nader. (Met 'n "Ag, nee miesies" uitdrukking op my gesig wonder ek waar gaan dit nou. Ek besluit solank dat ons maar eerder teruggaan Suid Afrika toe sonder hierdie PR, want dis nou wragtig net te veel.) Toe is dit eintlik 'n hammertjie om reflekse te toets!?!
 |
Mediese toerusting vir die Algemene- ( amper Finale-) Toets |
Baba-Nuus: Ons was Vrydag vir ons 19 weke 'scan' om te kyk dat alles reg is en daar is. Alles is 100%. Ons het ook 'n paar mooi fototjies gekry. (Ek het hierdie dalk al vroër die week aan verskeie mense 'gespam' sonder 'n beskrywing. Jammer, skryf dit maar af aan 'n trotse pa-to-be.)
 |
3D Scan (Dis nie 'n slurpie nie, dis sy arm. Sy kop is effens na die linkerkant van die foto gedraai. Kobus reken hy lyk soos die denker.) |
Op die oefen front: Maandagoggend het ek 05:00 opstaan en van 5:40 tot 6:00 vinnig gestap (lol, dit was inspanning). Dinsdag oggend was te vroeg na te min slaap. Dinsdag het ek 'n 'app' op my foon gelaai om my aan te moedig om te hardloop "
Couch-to-5K". (Die app stel toe voor dat ek net probeer om 3 keer 30 minute te oefen en nie dadelik 'n uur ses dae 'n week probeer nie. Dit klink makliker.) Opgewonde om my nuwe 'app' te probeer het he Woensdag oggend 4:45 reeds wakker gelê, maar toe sit Jeanelle haar arm om my en 6:20 skrik ek toe wakker, (20 minute later as gewoonlik) en 'n gejaag om klaar te maak. (Ek jaag so dat ek toe 10 minute vroër as gewoonlik by die werk is. Ai.) Donderdag oggend het ek verkouerig gevoel en Vrydag was ek afgeboek. lol. Volgende week sal ek maar byvoorbaat seker maak dat ek eers goed gesond word, voordat ek weer probeer.
Hoop dat julle 'n lekker week het. Gelukkige Lentedag! (Bly gesond met die seisoensverandering!)
Liefde en Groete
Johann