Saturday, 25 August 2012

Do you speak ingrish?

Verlede Vrydagaand was ons saam met 'n paar vriende na die Barry Hilton optrede on Sydney, gereel deur die Afrikaanse Klub Australië en dit was weereens heerlike ontspanning. Ons het lekker gelag. Ook maar goed so, want die res van die naweek het ons hard gewerk. Ons het so hard ge-'spring clean' dat daar skaars 'n glimlag oor was teen die einde. (Ma Annalie kom in Oktober hier kuier, maar dis nie die (enigste) rede dat ons nou al begin skoon maak nie. Ons trek dalk nog na 'n skoner plek intussen. :-))
Net toe ek dink ons is klaar ge-'spring claen' ('Spring' is nog eers oor 'n paar weke.) toe stel Jeanelle voor dat ek die bank stofsuig. "Ek het klaar."..."Nee, ek bedoel haal die kussings af en stofsuig tussen hulle ook...." :-|
Ons, by Barry se optrede in Sydney. 17/8/2012
Motifering by die werk het wipplank gery hierdie week. Met ons nuwe tyd allokasie doen ons nou net soos die 'telle-marketers" 5 keer 'n week "cold-calling". Meng dit met die gevoel dat ek beter kan doen en dan verduidelik dit waarom ek ten minste nou twee werksaansoeke 'n dag uit stuur. Daar is in Australië nou 'n 'app' wat jy van die internet kan aflaai wat jou toelaat on sommer met jou foon vir poste aansoek te doen. Jy kan besluit watter CV jy wil stuur en druk 'Done'.
Gepraat van 'n 'app'. Ma Annalie het uiteindelik 'n iPhone gekry en Ma Gerda het sommer 'n nuwe iPad gewen! Nou kan ons Viber en Facetime by die ander kommunikasiekanale tel. (Ons is moeg gesukkel met Skype en is amper meer opgewonde as ons Ma's oor hulle nuwe tegnologie).

Ons gaan hierdie naweek ons IELTS-toetse skryf. Dis Engelse toetse wat jy moet slaag om PR ('n Permanent Residente Visum) te kry. Hulle toets onder andere of jy kan luister, spel, skryf en praat. Daar is luister toetse, aanwysings, diagramme, spel toetse, dialoog,....lots and lots of pain... Die uitstappie duur van 08:00 tot 12:00 Saterdag, met 'n mondeling van 10 minute wat enige tyd van 12:00 tot 18:00 kan wees. So dit vat die heel dag.
Oulike advertensieveldtog in NZ en AUS
Met die vooruitsig vir die naweek maar bleek, kon ek nie vandag help om dinge minder erenstig op te vat en maar net te lag nie. Soos Barry Hilton sê, dis nie dat hy hard probeer om snaaks te wees nie, hy sien sommer net die humor in alledaagse lewe raak en dit was waarop ek vandag ingestel was.
Spotprent uit ons MX-dagblad
wat gratis op die stasies uitgedeel word.
Jeanelle het vandag(Vrydag) die kar gebruik vir 'n besoek in Wollongong(so 90km Suid van waar ons bly) omdat dit haar kanse om op die trein 'karsiek'/'treinsiek' te raak, verminder. Ek het publieke vervoer met google se nuwe aanwysings vandag probeer.
Geluk was nie aan my kant nie; kredietkaart fasiliteite by die kaartjie vensters was buitewerking en die elektroniese sisteem was so stadig dat ek die trein verpas het waarop ek oorspronklik wou wees, met die volgende trein(wat na my werk gaan) wat eers 15 minute later kom. Almal klim gelyk van die trein af en dit vorm dan basies 'n ry mense wat, vanaf die stasie, al langs die sypadjie af stap na hulle onderskeie werke toe. Sou een jafel vanoggend dink dat dit 'n goeie idee is om te loop en rook!?! So asof al die mense wat agter hom loop ook saam wil rook. Ek het vinnig geloop om verby te kom, maar my maag wou/kon nie eens op dadie stadium eers 'n windjie oplewer nie. (Ek wou ook nie té hard probeer nie.)
My eerste afspraak was so 10 km vêr en ek het gou google aanwysings gekry om met 'n kombinasie van bus en trein van ons kantoor af, binne 30 minute daar uit te kom. (Wanneer jy moet kies tussen 'cold-call' of pendel is 30 minute vinnig.) Wat ek nie op my foon kon sien nie, was dat dit nie die bus is wat stadig is nie, maar die 22 moontlike busstoppe oppad na die vergadering toe wat die rit vertraag. Nodeloos om te sê dat die gebruikers van publieke vervoer in Sydney, hoofsaaklik die ou mense is wat nie meer kan/mag bestuur nie, (nie juis die top gebruikers van google nie) en daar is geen haas nie.
Nog 'n oulike advertensie.
Ek vind myself, later die oggend, in 'n styfgepakte hysbak vol mense, toe my maag homself wou bekendstel. En terwyl ek aan die "Almal poep skelm" T-hemp dink, kyk ek op na 'n klein babatjie wie se ogies nog half toe is. En terwyl ek dink dat almal in die hysbak se ogies dalk binnekort so gaan lyk, word ek byna blou soos ek knyp uit vrees dat die klein outjie nie so 'n chemiese oorlog sal oorleef nie. Gelukkig gaan die deure oop op die vloer waar ek wou wees. :-)

Die seisoene is haastig besig om te draai in Sydney. Ons het Donderdag 'n hittegolf gehad, met temperature tot 25grade celsius.

Hou duime vas dat ons darm 50% vir die Standard 6 Engelse toetse kry.
Volgende week is dit ook ons 19 weke 'scan' en die laaste toetse vir PR, mediese toetse. :-(

Liefde en Groete

Johann

Friday, 17 August 2012

Augustus Winde

Net 'n regstelling/ontwikeling na verlede week se blog: Oscar kon toe deelneem aan die spele, nadat die olimpiese komitee ingegryp het (ons was ge-'trip' in die uitdunne). 

Verlede Donderdagaand het 'n ysige Augustus-wind deur Sydney begin waai. Vrydagaand (die aand voor my verjaarsdag) het ek 21:00 vir Jeanelle op die lughawe gaan haal, net om uit te vind dat die vlug, as gevolg van 'n te sterk wind, ge-'divert' is na Melbourne. Qantas het kliëntediens vervolmaak; in tye van krisis los net twee personeellede (wat vir minimum vergoeding werk) by die toonbank. As dit nie werk nie, sluit die toonbank om 22:00. Sydney lughawe maak 22:00 toe. 23:00 is dit 'ligte uit'! lol
Wind het tot 90km/h gewaai
Jeanelle het nie die lekkerste aand gehad nie; nadat sy al die pad van Sydney na melbourne in trane was, moes sy in 'n tou wag sodat twee lugwaardinne almal se name op 'n papier kon neerskryf. daarna moes sy in 'n tou wag dat die 3 toonbanke die 3 internasionale vlugte se paspoorte kon stempel. Nog 'n tou wat wag vir 'n bus na die hotel en asof hulle onverwags opgedaag het; nog 'n tou om by die hotel in te teken. Teen daardie tyd was dit amper 23:45 en die bus terug na die lughawe het hulle reeds 4:00 die volgende oggend kom haal. 
Na 'n baie lang besoek met 'n draai by Auckland se noodgevalle op Woensdagaand (agv. medisyne wat in Sydney gebly het) was sy uiteindelik Saterdag 08:30 weer in Sydney. 

Ons moes die vingerafdrukke ook weer aanpak. Almal in Chatswood Polisiekantoor was verbaas oor die polisieman wat vroeër die week 'n nota gemaak het op ons form, maar hy het nagskof gewerk tot 07:00 en niemand wou hom skakel om seker te maak dis regtig sy handtekening nie!?! Wat ek wel kan sê is dat ek en Jeanelle (swanger + 3ure slaap) soos 'n episode van "how to tame your dragon". Met borgtog toegestaan het ons maar 'n ander kantoor probeer wat ons binne 10minute gehelp het en die vingerafdrukke terug gegee het. 

Ek is lekker bederf so tussen die vingerafdrukke en 'n reënerige en yskoue tennis les. Ek kon ook uiteindelik my geskenk oop maak (ek was van plan om Jeanelle Vrydagaand wakker te hou tot midernag, maar toe is sy nie daar nie). Ek het 'n vreeslike goeie kamera by my vrou gekry, met al die toebehore wat 'n professionele fotograaf kan nodig hê. Ek wou oorspronklik voorstel dat sy nie vir my 'n geskenk koop nie en dat ons eerder 'n goeie kamera moes kry, maar wie sou nou kon raai dat ons so eenders dink. :-) Omdat die geskenk van Amerika se Amazon af kom, het ek geen idee gehad wat ek kry nie, omdat die kamera ook in Australië beskikbaar is, net nie met al die aanhangsels nie. Ook dié dat ons Sondag oggend op 'n road trip moes gaan om my nuwe kamera uit te toets. Jeanelle moes net die heeltyd ander lense aangee. Ek is nog nie 'n 'pro' nie. (Ek het oorspronklik gedink ek kry 'n H.A.T. toe ek die instruksie handleiding sien). Met die eerste probeerslag lyk die fotos sommer reeds baie goed. (Die blog se fotos het nogals die laaste tyd 'n afdraande neiging getoon.) Hier is een van die Great Pacific Drive wat ons Sondag gery het.
Great Pacific Drive - Snelweg is amper in die water

Hierdie foto was voordat Jeanelle besef het die voël is agter haar naartjie aan.

Meeste van die pad is deur bosse.

My bestuurder het nie regtig 'n helde ontvangs by die groot-baas gekry toe hy Maandag terug was nie. Ons verkoop gewoonlik so die halfte van die masjiene wat die ander kantoor (met 30 verkoopsmanne) verkoop, maar teen Maandag was dit 10 vs 60. 
Ek het gelukkig my kant gebring en teen Donderdag sovêr een masjien elke dag verkoop. Sonder dat ek hard probeer het, lyk die 'bonus'-lyn nou amper haalbaar. 
Ek moes al Donderdagmiddag se afsprake om die ginekoloog se kantoor maak. Jeanelle was teen Donderdag goed siek(migrane en naar) agv. werk, stres en bekommernis oor wat verkeerd kan gaan.
Die dokter het die skerm laat stil staan en gevra wat ons sien. Dis 'n seuntjie! (Hy het eintlik vir die woord penis gewag, maar ja, sy ouers het alby biologie gehad.)
Moeilike aansig, maar daar sit hy. :-)

Ons gaan vanaand Barry Hilton kyk vir 'n bietjie komiese verligting!

Dankie vir al die verjaarsdagwense! Hoop julle het 'n rustige naweek.

Baie Liefde en Groete, 

Johann


Thursday, 9 August 2012

Bier, Polisie, Vlieg en Vulkane

My woorde was nog nie koud nie, toe verdubbel Australië hulle goue medaljes. Wel gedaan!
Jeanelle sê ek moet eerder aan die einde van die week blog as oor naweke, aangesien naweek tyd so kosbaar en min is. My vorige blog het ek ongelukkig/gelukkig so bietjie van 'n blank geslaan met die einde van verlede week, so ek het nog om by te las.

Dit was verlede Vrydag my werk om te kyk dat daar bier is vir Vrydag middag na werk drankies. Toevallig was die sales-baas en altwee die bestuurders op verlof en dit los toe net die groot baar aan stuur van sake. Hy het heen en weer tussen die kantore gery om te kyk dat almal darm opgedaag het vir werk en niemand vroeg loop nie. Hy was so besig met micro-management, dat hy seker nie eens opgemerk het dat ek, onder aan my dagboek vir Donderdag (wat ons daagliks vir hom moet 'forward' sodat hy dit met die GPS data kan vergelyk) nagelaat het om "Check beer levels" uit te vee nie.
Ek wou graag Suid Afrikaanse bier koop (die beste Suid Afrikaanse bier kom eintlik van Namibië af) maar plaaslike bier moes maar die ding doen, aangesien ek te laat die middag nog afsprake gehad het. Met my geluk is daar toe 'n botsing oppad terug kantoor toe, en ek kom toe eers 17:15 daar aan. Ek kon die ander se frustrasie verstaan, aangesien ek ook toe al van Maandag af na die bier uitsien. (Toe ek sien die verkeer hou my terug en dit word 17:00, het ek self oorweeg om maar solank een in die kar oop te maak.) My bestuurder is al vir byna 2 weke in die Verenigde Koninkryk, toevallig vir die twee weke van die Olimpiese Spele en glo ook vir 'n troue of iets. (Hy weet blykbaar hoe om vir verlof aansoek te doen.) Terwyl hy weg is kan die ander bestuurder al die bestuurders-kommissie vat, maar tot nou toe was daar nog net 9 masjiene verkoop (twee daarvan deur die uwe). Ek het hierdie week die ander Bestuurder (Ja, die Australiër) na 3 afsprake gevat maar ons kon niemand sien nie, want een het vergeet, een het siek geword en een was 'n uur laat vir ons afspraak. Joy! Soos die bestuurder sê:"Shit happens."

Ons 2de tennis les is agter die blad. 11:30-12:30 op 'n Saterdag voeter die hele dag op, veral omdat ons oorspronklik dit gebruik het om ons aan te moedig om nie so laat op Saterdae te slaap nie. Nou help dit niks, behalwe dat ons nou al hoe beter word met die tennis. As ek moet lys watter flieks ons almal in die afgelope jaar gekyk het, sal ek skaam kry. Ons gaan fliek heeltemal te gereeld. (Elke keer as ons bietjie wil ontspan, maar te lui is om aan iets anders te dink.) Soms gaan ons sommer net fliek, sonder dat daar iets is wat ons wil kyk, maar met al die spaar vir PR(Visa aansoeke) en die baba en Fliek wat hier 'n minimum $10 per persoon kos + $8 vir 'n 'popcorn' + $4 vir 'n Coke, was ons op die end-of-the-week-salticrax hierdie afgelope naweek. Dit het ons aangemoedig om Sondag 4km ver te stap om piekniek in 'n mooi park langs die water te gaan hou. Ons het nogsteeds ons fliek 'fix' vir die naweek in met 'n DVD, mikrogolf 'popcorn' (pofkoring!?), koeldrank, sjokolade en die hele toetie.

Baba Nuus: Ons gaan volgende week vir die 16 weke 'scan' en dan sal ons dalk kan uitvind of dit 'n hy/sy is. Dit behoort dit baie makliker te maak om oor hom/haar te praat. Sy/Haar gehoor moet ook nou ontwikkel, so ek het reeds vir Jeanelle gesê sy moet nou minder vloek.

Ek het reeds vertel dat my geskenk Maandag afgelewer is. Dié staan in die spaarkamer, sodat ek net kan sien dit is nog daar as ek in die gang af loop.

Ons moet vingerafdrukke laat neem vir ons Visas, maar dit is 'n grootter stryd as wat julle sal glo. Omdat ons agente die polisie 'clearance' kan 'fast-track' ('n diens waarvoor ons reeds $140 betaal), moet ons die vingerafdrukke vir hulle gee, nadat ons dit deur die polisie laat teken het. Dit klink maklik, maar hier neem die polisie net op naweke tussen 9 en 1 afdrukke, gewoonlik elektronies en hulle wil dit self na die betrokke regering stuur, nie vir ons gee nie. Die NSW regerings kantoor wat ons kan skakel om te verduidelik dat hulle dit wel mag/moet terug gee (want hulle mag dit glo net vir Suid Afrika doen) is net gedurende werksure Mandag tot Vrydag oop. lol 'lots and lots of pain' Ek dink op hierdie stadium gaan ek net saam om my vrou rustig te hou en om die praat werk te doen. Ons het die vingerafdrukke gou Dinsdag probeer inpas in my etens-uur, maar my tyd was te min en toe ek Jeanelle later daar moes los, was ek net bly dat hulle haar, na die 2 ure wat ons ons tyd gemors het om te probeer verduidelik, nie daar gehou het nie. Ons gaan weer Saterdag oggend probeer. :-)

Dinsdag was die laaste keer wat ons in die week kon probeer, want Jeanelle is Woensdag oggend vroeg Auckland toe, tot Vrydag aand 20:00. Dis nou as die vulkaan, wat vroeër die week in New Zealand begin as uit spuit het, bedaar het. Anders vier ek aleen verjaarsdag Saterdag.


Ek beplan om môre aand vir Jeanelle te gaan haal, so ek blog nou.

Ons is baie jaloers op julle vakansiedag(Vrouedag) vandag, omdat ons volgende vakansie dag eers in Oktober is. Ja, hier is maar min vakansiedae. Ons is nie jaloers oor die weer nie, met gerigte dat dit so koud is in Suid Afrika dat dit selfs in Pretoria gesneeu het? Ek het uitgevind toe Annemie (in SA12:00) vir Rikus (in Canada 07:00) wakker bel en hy perongeluk vir ons (in Sydney 22:00) bel toe sy vinger gly. 'n Bewys dat nuus vinnig om die wêreld kan versprei.

Jammer dat Oscar Pretorius nou nie eens 'n kans gaan kry om aflos te hardloop in die olimpiese spele nie.

Julle moet 'n lekker naweek hê.

Baie Liefde en Groete,

Johann

Tuesday, 7 August 2012

Silwer is die nuwe goud!

So het ek nie 'n enkele masjien verkoop in Julie nie. Dit het seker bygedra tot die feit dat ek solank 'n paar CV's uitgestuur het. lol. Dis nie dat ek slap gelê het nie, ek het net met grootter maatskappye gewerk wat nie sommer oorhaastige besluite maak nie. (verskonings...verskonings...Seker die Aussie wat aan my afsmeer) Daar is baie verkope in die pyplyn, maar niks het in Julie verkoop nie. Woensdag (1 Augustus) kon nie gou genoeg kom nie. Die bord is skoon gevee en almal was weer op nul. Augustus lyk sommer baie meer belowend, aangesien ek sommer op 2 Augustus reeds twee masjiene verkoop het. En nou amper voel of ek hard genoeg vir hierdie maand gewerk het. (ook baie gevaarlik)

Tuis was Jeanelle hard besig om te konkel vir my verjaarsdag geskenk. Dié kom glo van Amerika af en sy kon dit net daar kry!?
In 'n brokkie tegnologie nuus; Baie webwerwe wat produkte verkoop, lewer net in Amerika af. Om hierdie struikelblok te oorkom, het ons 'n Bongo US adres gekry, naby New York. Dis 'n 'mail forwarding' adres en laat ons nou toe om enige pos, produkte of pakkies te ontvang, te groepeer en na enige ander adres aan te stuur.

Jeanelle het my geskenk Maandag bestel en die geskenk was reeds Vrydag oppad na Sydney. Ek probeer baie hard om nie uit te vind wat dit is nie. :-)

Ek het my LinkedIn opgedateer en soek hard na wat almal soek: 'n 'big break'! (minder werk & meer geld)

Verder was die week gevul met die vermaaklikheid van die olimpiesespele en in Australië is silwer nou die nuwe goud. Hulle vas heel blasé nadat hulle in die vorige olimpiese spele, 19 goue medaljes net in die swem gewen het.
Die atleet is nog nie op die baan of in die swembad nie, dan praat hulle al oor wie tweede (na hom/haar) gaan wees. Dis 'the missile', 'the kookaburras', 'the silver fox'..., ek weet nooit na wie daar verwys word nie. Al Australië se atlete verwag mos om goud te wen en is baie verbaas en teleurgesteld as hulle dit nie kry nie. (So bietjie donker humor: Dis baie meer vermaaklik as Australië verloor, want hulle vat dit nie goed nie. Dit sou seker lelik gewees het om dit te sê as hulle nie so windg@t was voor die spele nie. Hier is 'n smakie van wat ons moet verduur.) Die komentaar gedurende 'n gebeurtenis is ook skreeu snaaks; "Hulle het vinnigste gekwalifiseer...die grootste kompetisie sal die span van Britanje/VSA/xxx wees...hulle vat dit rustig vir die begin...hulle is net 'n kort kop agter...die laaste 500/100/50m is die belangrikste...hulle moet nou begin inhaal...(lol. lyk my hulle vat dit nogsteeds rustig)...dis nog moontlik as hulle...hulle het dit net net net nie gemaak nie... hulle kan trots wees dat hulle in 'n goeie tyd klaargemaak het, al het hulle laaste/tweede/derde laaste geeindig." Na die tyd, dan begin die analise oor wat verkeerd gegaan het. Het die ander span gekroek? Sou die tyd genoeg gewees het vir goud in 'n vorige olimpiese spele? Hoe klein was die gaping regtig? Een honderdste van 'n sekonde!?!? Was daar iemand wat slegter as Australië geeindig het?

As die olimpiese spele nie net twee weke lank was nie, sou ek lankal 'Foxtel' (Australië se weergawe van DStv) gekry het, net vir neutrale sport komentaar.

Dis 'n stil week wat voorlê, behalwe dat ek eerskomende Saterdag verjaar. ;-)

Geniet julle week.

Liefde en groete

Johann

PS. My geskenk het Maandag oggend hier aangekom. Ek weet nog nie wat dit is nie. :-) Ek weet hoeveel moeite Jeanelle gedoen het, so ek gaan nie eers probeer uitvind wat dit is nie. Aangesien baie van julle saam gekonkel het, gaan ek liewers geen uitlatings maak oor wat ek dink dit is nie.
Ek weet: 1.Dit kom van Amerika af. 2.Dis nie hier beskikbaar nie.