Na so 'n rustige erfaring, het ons met alle geweld die 4 dag week, na die paasnaweek, aangepak.
Jeanelle het, teen die Dinsdagmiddag, die laaste paashasie gekry. :-)
Ek weet nie wat het gebeur het nie, maar die week was te kort om alles gedoen te kry en ons het letterlik geslaap, gewerk, geeet, geslaap, gewerk, geeet... Daar was net 4 werksdae, maar steeds 5 dae se werk.
Jeffrey (die Yaris) is Vrydag oggend 07:30 vir sy eerste (en seker laaste) 10000km diens. Toyota maak hier 17:30 op 'n Vrydag middag toe, nie 17:40 nie, 17:30! Jeanelle was net betyds om Jeffrey te kry, anders sou ons die heel naweek met die "courtesy car" moes ry, 17:33 het hulle die ligte afgesit. (Gaan almal Vrydae vroeg huistoe, of is dit net ons wat laat werk?) Teen Vrydag aand was ons amper huilerig van moegheid en het ons het 8uur voor die TV op die bank aan die slaap geraak.
Saterdagoggend het ons besluit dat 'n stil naweek by die huis, net nie gaan opmaak vir so 'n mal week, waar ons mekaar skaars gesien het, nie en ons het vinnig gepak en die pad Orange toe gevat. Dit was 'n bietjie spontaan en onbeplan,(baie ongewoon vir ons). Om naby Sydney te ry is amper soos om deur die wildtuin te ry, dit vat altyd langer as beplan. Die 300km sou ons net 2.5 ure in Suid Afrika gevat het, maar hier, tussen die 60km en 80km zones, was dit nader aan 4.5 ure. By tye was die spoedbeperking 80km/h, die voorgestelde speod vir die draai 50km/h en jy moes spesiaal opgelei wees om die draaie teen vinniger as 35km/h te vat.Dele van die pad, was soos 'n roller-coaster, jy sien 'n pad wat 45 grade opdraande langs jou teen die berg op gaan en dan sien jy dis dieselfde pad waarop jy is, net na die haarnaald draai.(Sien Google Maps).
Hoskins Memorial Church, Lithgow, NSW Oppad na Orange, NSW. |
Dis herfs in Orange |
Duntryleague Guest House, Orange, NSW |
In 'n laaste oproep voordat ons na 'n peperduur motel toe gaan, kry ons toe 'n 'heritage room' in 'n baie netjiese gastehuis. Die 'heritage' verwys seker na die dekor, een muur was 3 kleure groen en die matras was harder as die vloer, maar ons was teen daardie stadium nie baie vol strooi nie. Ons het heerlik geeet in een van die dorp se gewildste restaurante, waar al die disse gelyk het of dit uit 'n tydskrif kom. Ons wou nog fotos neem, maar toe ons weer sien, was al die kos op.
Die plan was om vroeg middag terug in Sydney te wees, maar ons het gou eers een van Orange se parke, 'n teetuin en 'n bye boerdery besoek, voordat ons terug Sydney toe is met die 'roller-coaster' pad.
Dit was maar 'n kort wegbreek, maar dit het ons die wêreld se goed gedoen. Ek beplan sommer solank vir die volgende 'road trip'. Ons sal net seker maak dat ons volgende keer 'n plek om te bly.
Ons het uiteindelik ook kans gekry om met Stefan te Skype. Ons is bly om te hoor dit gaan goed en dat hy klaar bevorder is na die eerste maand. Dis bietjie verwarrend vir iemand wat in die stad grootgeword het, maar Stefan onderhou die spulpunte by 'n melkplaas, en Rikus is glo hierdie week besig om saad te tel?
Dit was lekker om ook bietjie met die Le Roux's te Skype.
Baie geluk aan Laffies en Naomi met die geboorte van Lize op Dinsdag 10 April, ons hoop dat sy vir julle baie vreugde sal bring en ek voel nou skuldig om oor die chaos in my oggende te kla, as ek dink aan oggend in die Moolman huis. (Seker julle het dit onder beheer :-) )
Aan al die vriende en familie: Pas julself mooi op!
Liefde en Groete
Johann
No comments:
Post a Comment