Monday, 30 April 2012

Ons tweede gas & Canberra naweek

Om by te las by verlede eek se storie.... "ons" verlang na 'n baie langer lys mense as net familie en die Albasters, maar vir nou moet ons dit maar as die "royal plural" gebruik.

Dis net 'n week voor Jeanelle 'n oudit het by een van haar 'sights', so dinge gaan super dol by haar werk. Ek het self 'n eksamen wat in die horison wink en groot druk by die kantoor omdat verkope maar stil was in April, met al die vakansiedae. 

Jeanelle het Maandag by die huis gewerk voordat sy haar pa, wat by ons kom kuier het, by die lughawe gaan haal het. Die vlug was twee ure vertraag, maar pa Anton het veilig in Sydney aangekom. Die arme man is so 'gecoach' voordat hy op die vliegtuig geklim het en ook blykbaar weer toe hy geland het oor Australië se tekort aan 'ousies' en dat ons alles self in die skottelgoedwasser moet sit; toe hy na aandete vra wat moet hy met sy bord en glas doen, wou ek nog sê: "Los dit sommer net hier, Jeanelle sal dit nou kry...", toe is dit reeds in die skottelgoedwasser.

Dinsdag het Jeanelle hom op 'n vinnige toer van Sydney gevat. Hulle het behoorlig die stad rooi geverf.
3D Video voor hulle in die Sydney Tower op gaan.
Woensdag was 'n vakansiedag in Australië, ANZAC dag (Australia and New Zealand Army Corps) dag. Die dag het oorspronklik Australie se toetreede tot die Eerste Wêreld-Oorlog herdenk, maar het later verander na 'n dag waarop almal wat vir Australië (en New Zealand) geveg en gesterf het herdenk. Die herdenking het in die 1970's 'n laagtepunt beryk, maar is nou een van die gewildste vakansiedae. Byna soos Geloftedag in Suid Afrika, word daar ook 'n "Dawn Service" gehou. Anders as Geloftedag, wat meer 'n kerklike/gewyde dag is, sluit Anzac dag 'n perade, voorlees van gedigte en two-up dobbel (glo baie gewild onder soldate) in.

Oppad na Watsons Bay toe om die 'North point' en 'South point',(ingang na Sydney se hawe) en 'Doyle's Fish & Chips' te besoek, het ons 'n paar mense gewaar oppad na die Anzac geleenthede toe. Meeste van die mense het medaljes gedra vir alles van 'Bravery' tot 'Showing Up'. Vir my is dit soos Pensioenarisdag by Brooklyn Mall, op steroides! Dis juis een van so 'n 'veteran' wat toe later die dag saam met my by 'n krip staan, en toe (terwyl ek aan al die urinaal etiket voldoen: vermy oogkontak, moenie rond kyk nie...) vir my vra "Big day isn't it?" Daar is min goed so steurend as iemand wat gesêlsies by 'n krip maak. Terwyl ek geen idee het waarvan die man praat nie, met die mense op die strate wat lyk of hulle sonder ouers groot geword het al wat ek aan kon dink, het ek maar geantwoord: "Yes, glad the weather is holding up.", my hande woes vinnig gewas en voordat hy nog 'n druppel verby sy prostaat kon druk, was ek weg.
'n Uitbeelding van 'n veldslag tydens die Eerste Wêreldoorlog
Donderdag en Vrydag het soos 'n hele lang week gevoel met koue oggende wat opstaan al hoe moeiliker gemaak het. Ons het Vrydag aand gaan 'Avengers' in 3D kyk, baie aksie en 'n ongewone groepie helde. Saterdag oggend het ons 06:00 opgestaan en na 'n Franse ontbyt in ons ou woongebied "Blues Point" het ons die pad gevat na Canberra, die hoofstad van Australië, 300km Suid-Oos van Sydney.
Canberra is soos Pretoria, 'n administratiewe stad, waar daar nie veel gebeur nie, met minder om te sien. Ons was maar moeg en lui, maar daar was min tyd vir rus, met baie om in 'n Saterdagmiddag en Sondagoggend in te pas. Ons het 'n toer van die War Memorial & Museum gedoen en dit het goed aangesluit by Anzac dag vroër die week. Dit skyn bietjie lig op hoe oorlog regtig is: Glad nie 'glamarous' nie, dis modder en dood en op die oueinde wen niemand regtig nie.
South African High Commission Canberra
Ons het ook ons ambasade, die Australiese Parlementsgebou en Canberra Glas Blasery besoek.
Dit was bietjie van 'n ekstreme naweek, voor nog 'n bitter besige week, veral vir Jeanelle. Pa Anton gaan op 'n paar georganiseerde toere en ek besoek weer die tandarts op Maandag en Woensdag, Jeanelle gaan na Wollongong en ons beplan ook om daar 'n draai te maak, sjoe!

Hoop dit gaan goed met julle almal,

Baie Liefde en Groete,

Johann

Monday, 23 April 2012

Stadige Blog, Photo Shot en die Tandarts

Ek voel baie skuldig oor die blogs so stadig kom. Ek sal iets anders eerder bietjie meer afskeep en meer tyd aan my blog spandeer. As jy nie by hou nie, hierdie blog is laat, maar nie so laat soos die een wat ek nounet ge"backdate" het nie. (16-25 April)....

Maandag was dit uiteindelik tyd vir my tandarts afspraak by die 'No(smaller)-Gaps' tandarts. vir dieselfde prosedure waarvoor ek $120 moes uitvurk, het dit my nou net $22 gekos. Weg was die TV teen die dak, die yskas vol koeldranke in die wagkamer en die moderne Xtraal masjien wat sommer dadelik die Xtrale op die rekenaar skerm en ipad vertoon, sodat die tandarts jou kan wys wat verkeerd is, voordat jy weer die brille opsit, sodat die lig nie jou oë beskadig nie. Ek lê op my rug in die stoel wat in die 2m x 3m kamertjie se hoek staan. Toe die stoel sak toe verskuif my aandag vanaf die afdruk van 'n skildery van 'n Griekse eiland na die 'mobile' ('n ding wat gewoonlik bo 'n kot/baba bedjie hang) teen die plafon. Langs my lê 3 tooltjies wat ek nie presies uit 'n geseelde sakkie sien kom het nie. (Al wat ek kon dink is dat dit hopelik afgespoel is en indien nie 'moet net nie sluk nie!') Die Xtrale word nog op regte xtraal skyfies geneem wat jy vas byt, terwyl die tandarts se assistent die lood komber op jou borskas gooi en dan agter die tandarts aan hardloop na veiligheid. Die Xtraal ontwikkel dan stadig soos 'n 'polaroid' foto!? Ek dink ek en die tandarts het mekaar eers verkeert opgefryf. My inisiële benadering het dit laat klink of ek eintlik 'n snob is wat baie beter tandartse gewoond is en net 'n tweede opinnie soek om my tandarts te toets. Toe dink sy ek soek optimum waarde vir geld en uiteindelik het sy begin verstaan dat ek net my tande wil reg hê en my Medibank net vir die werk wil betaal en nie ook vir die TV teen die dak en 'gratis' koeldranke in die ander praktyk nie. (bv. Kroon kos $2300 in ander praktyk, vs. $1200 by haar) [Ja, as jy klaar is met my tande, draai my net om en pluk die geld wat op my rug groei.]

Dinsdag...(Toemaar, die storie raak korter soos dit aan gaan)...vind ons uit dat ons 'n photoshoot gewen het by die Paas-Skou en sommer Donderdag aand moet gaan fotos neem. Jeanelle is in Adelaide of êrens tot Woensdag aand en ons het skaars tyd om dit te bespreek, voordat ons letterlik met 2 tasse en 3 mandjies/sakke vol 'props' by die 'studio' opdaag! Dit lyk soos die groot trek. Oor die telefoon het die man gesê bring iets saam wat julle beskryf, afsonderlik en saam. 'Deeglikheid' is al wat duidelik deurgekom het. Daar is boeke(byna die hele rak), rekenaar drade, wyn glase, 'n bottel goeie wyn (as bottel in foto moet wees) en cheap wyn as ons dit moet oop maak, Sjampanje glase, duur sjampanje vir fotos, cheap sjampanje vir oop maak, bier as dit soos sjampanje moet lyk, maar ons nie lus is vir 'n hele bottel nie, klere, hoede, verskillende kleure klere, kombuis toebehore, bakke, meel, jellytots!?

Intussen (Lyk my toe nou nie die storie is so kort nie, jammer) het dit Woensdagoggend begin stormrëen in Sydney. Hard en aanhoudend. (Nie idiaal vir iemand wat 5 afsprake vir Woensdag gehad het nie).

Oppad na vergadering (Nie my eie foto nie, maar jy kry die idee)

Besig om vir parkering te soek (Nie my eie foto nie, maar jy kry die idee)
Saterdag kon ons na die fotos van die 'shoot' gaan kyk het, geprojekteer teen die muur. Hulle het self die beste 30 gekies en jy kan nie die digitale afdrukke/fotos kry nie, jy kan net ten duurste kunswerke met die fotos op koop. 'Starting from as low as $320each...(Dis amper soos 'geldmaak pille', dit werk net nôg beter). Gaan kyk gerus na Verve se webwerf. Ek is al hoe meer seker dat almal die photoshoot wen.

Verve Photo Shoot

Ons verlang vreeslik Suid Afrika toe! Kuiers saam met die Albasters, projekte saam met Wian en sommer net kuiers by ons ouerhuis met koekies en koffie....

Jeanelle se Pa kom Maandag vir ons kuier. Die itinerary is reg, die menu beplan en ek hoop net hy het gemaklike skoene! 

Met 'n GROOT verlang wens ek julle 'n lekker week toe.

Baie Liefde en Groete

Johann






Monday, 16 April 2012

Dis die kort wekies wat langste voel...

Om bietjie uit te brei oor die Powerhouse museum, daar is interessante uitstallings, bv. Robot wat kan dans/blokkies skuif/speletjie speel, maar die uitstallings is soms bietjie ingewikkeld vir enige iemand met ADD of enigie iemand onder 13 jaar. Van die projekte; soos die 'walking robot' en interaktiewe sjokolade vertoning was stukkend en die museum was oortrek met honderde onmoontlike kinders waar jy kyk wat net al die knoppies druk en dan belangstelling verloor! (voorbehoeding wat weke sal neem om te vergeet) Dis seker ook nie die slimste plek om te besoek op 'n langnaweek in 'n skoolvakansie nie.

Na so 'n rustige erfaring, het ons met alle geweld die 4 dag week, na die paasnaweek, aangepak.

Jeanelle het, teen die Dinsdagmiddag, die laaste paashasie gekry. :-)

Ek weet nie wat het gebeur het nie, maar die week was te kort om alles gedoen te kry en ons het letterlik geslaap, gewerk, geeet, geslaap, gewerk, geeet... Daar was net 4 werksdae, maar steeds 5 dae se werk.
Jeffrey (die Yaris) is Vrydag oggend 07:30 vir sy eerste (en seker laaste) 10000km diens. Toyota maak hier 17:30 op 'n Vrydag middag toe, nie 17:40 nie, 17:30! Jeanelle was net betyds om Jeffrey te kry, anders sou ons die heel naweek met die "courtesy car" moes ry, 17:33 het hulle die ligte afgesit. (Gaan almal Vrydae vroeg huistoe, of is dit net ons wat laat werk?) Teen Vrydag aand was ons amper huilerig van moegheid en het ons het 8uur voor die TV op die bank aan die slaap geraak.

Saterdagoggend het ons besluit dat 'n stil naweek by die huis, net nie gaan opmaak vir so 'n mal week, waar ons mekaar skaars gesien het, nie en ons het vinnig gepak en die pad Orange toe gevat. Dit was 'n bietjie spontaan en onbeplan,(baie ongewoon vir ons). Om naby Sydney te ry is amper soos om deur die wildtuin te ry, dit vat altyd langer as beplan. Die 300km sou ons net 2.5 ure in Suid Afrika gevat het, maar hier, tussen die 60km en 80km zones, was dit nader aan 4.5 ure. By tye was die spoedbeperking 80km/h, die voorgestelde speod vir die draai 50km/h en jy moes spesiaal opgelei wees om die draaie teen vinniger as 35km/h te vat.Dele van die pad, was soos 'n roller-coaster, jy sien 'n pad wat 45 grade opdraande langs jou teen die berg op gaan en dan sien jy dis dieselfde pad waarop jy is, net na die haarnaald draai.(Sien Google Maps).

Hoskins Memorial Church, Lithgow, NSW
Oppad na Orange, NSW.

Dis herfs in Orange

Duntryleague Guest House, Orange, NSW
Daardie aand 18:00 was ons nog besig om van gastehuis na gastehuis te ry en hotelle te bel om te hoor of daar vir ons plek is om te slaap. Al was daar niks op die 'Food Festival' kalender vir die naweek aan die gang nie, het elke gastehuis wat ons gebel het gesê hulle is vol as gevolg van die 'Food Festival'. Dream on!
In 'n laaste oproep voordat ons na 'n peperduur motel toe gaan, kry ons toe 'n 'heritage room' in 'n baie netjiese gastehuis. Die 'heritage' verwys seker na die dekor, een muur was 3 kleure groen en die matras was harder as die vloer, maar ons was teen daardie stadium nie baie vol strooi nie. Ons het heerlik geeet in een van die dorp se gewildste restaurante, waar al die disse gelyk het of dit uit 'n tydskrif kom. Ons wou nog fotos neem, maar toe ons weer sien, was al die kos op.


Die plan was om vroeg middag terug in Sydney te wees, maar ons het gou eers een van Orange se parke, 'n teetuin en 'n bye boerdery besoek, voordat ons terug Sydney toe is met die 'roller-coaster' pad.

Dit was maar 'n kort wegbreek, maar dit het ons die wêreld se goed gedoen. Ek beplan sommer solank vir die volgende 'road trip'. Ons sal net seker maak dat ons volgende keer 'n plek om te bly.

Ons het uiteindelik ook kans gekry om met Stefan te Skype. Ons is bly om te hoor dit gaan goed en dat hy klaar bevorder is na die eerste maand. Dis bietjie verwarrend vir iemand wat in die stad grootgeword het, maar Stefan onderhou die spulpunte by 'n melkplaas, en Rikus is glo hierdie week besig om saad te tel?
Dit was lekker om ook bietjie met die Le Roux's te Skype.

Baie geluk aan Laffies en Naomi met die geboorte van Lize op Dinsdag 10 April, ons hoop dat sy vir julle baie vreugde sal bring en ek voel nou skuldig om oor die chaos in my oggende te kla, as ek dink aan oggend in die Moolman huis. (Seker julle het dit onder beheer :-) )

Aan al die vriende en familie: Pas julself mooi op!

Liefde en Groete

Johann

Tuesday, 10 April 2012

Warrel Week


Net 'n bietjie van 'n 're-cap' uit verlede naweek se Costco uitstappie...

Oppad daarheen is ons behoorlik op die pad beproef; hier is 'n sjinese vrou wat bestuur met wit
handskoene, 'n masker en iets wat soos 'n sweisbril lyk, seker vir son bestraling!??!

The trolly from hell: met plek vir jou tweeling.

'n Stewige werksbank wat by Costco tekoop is.

Vanuit Costco: Daar is nie baie verskeidenheid nie, maar daar is iets van alles; yskas, boks vrieskas,
blomme, wyn, treadmill, koekies, yogurt, tv's, juwele,....jy kry die idee.
 Ek was hierdie week by 'n potensiële kliënt se kantoor, op die water. Hulle is 'boat broakers'.

Jeanelle was net een aand weg, maar net 100km vêr, in Woolongong, toe ry ek sommer deur vir die aand. Volgende oggend het ons ontbyt geeet in 'n koffie winkel wat van 06:00 oop is. Kyk hierdie koffie koppie op die toonbank.

Na ontbyt het ek agtergekom dat die Yaris('Jeffrey') 'n pap wiel het. Ek is seker dat 'n formule1 span self 15minute sal neem om 'n Yaris se wiel om te ruil. Dis nie 'n baie gebruikers vriendelike spul nie. Om 'n voorbeeld te gee; die 'jack' is onder die passasiers sitplek, en jy moet dié bietjie 'af-jack' om uit te kry.
Dit het my(en my formule 1 span) 20 minute gevat.

Ek was darem nog betyds vir my eerste afspraak, waar ek uiteindelik na twee oproepe en 'n adres verandering uitkom en met 'n vluisterende ontvangsdame, wat my nie kan laat inkom nie, want hulle laat nie vreemdes in die kantoor toe nie. Sy is nuut en weet nog nie regtig wat aan gaan nie. No Sale!

Later, in die hitte van die dag, by my tweede afspraak, terwyl ek sukkel om my baadjie aan te kry en ek onder die sitplekke soek vir die kar se sleutel besef ek dat ek in die kougom, wat ek vroër by die venster uitgegooi het, getrap het. Ek kon nie help om vir myself te lag en terug te dink aan wat ek verlede week gesê het nie: "Die lewe is snaaks genoeg." 

Paaseiers en paas-hase was oral beskikbaar. Die groot 'Golden Bunny' is 1kg Lindt sjokolade, vir $69(R550).
'Lindt Gold Bunny' in enige 'size'
Ons was die naweek super rustig en het soveel moontlik tussen 14:00 en 17:00 elke dag probeer inpas. Onderandere 'n strand uitstappie, wat verander het in 'n piekniek wat op die ou einde sommer verander het in koffie by die huis met 'n DVD.

Ons was Saterdag bietjie uit na die 'Royal Sydney Easter Show' net om te sien hoe 'n skou in 'n ander land is. Daar was hope variëteit...enige iets van pampoen, honde, kalkoene, hout kap of perd ry. Meer fotos op Facebook.

Sydney Royal Easter Show 2012
Maandag was ons by die Sydney Powerhouse Museum. Dis amper soos die Transvaal museum, net minder georganiseer met die helfte van die uitstallings en twee maal die 'hype'. Dit was lekker, maar as jy nie die Harry Potter uitstalling bygewoon het nie.

Nou is dit 'n kort wekie wat voorlê. Ons het Donderdag kaartjies om American Pie: Reunion te gaan kyk, verder hoop ons op 'n rustige week.

Liefde en Groete

Johann

Tuesday, 3 April 2012

Running nowhere slowly

Na verlede naweek se tee, was daar maar min van die naweek oor en Jeanelle het reeds Sondag oggend na Aucland(New Zealand) vertrek.

Dit was lekker toe Jeanelle Dinsdag en Woensdagaand kom oorslaap het, voordat sy weer Donderdag oggend 05:00 lughawe toe is vir 'n vlug na Perth, 'n 6 ure vlug oor 4 tydzones, dus 4 ure nader aan SA. Teen middagete (in Sydney) het Jeanelle net daar aangekom, nog betyds vir 'n tweede ontbyt en werk in Perth, en toe ek gaan slaap, was sy net oppad hotel toe.  Die hotel was nie heeltemal op standaard nie, al was dit die beste wat haar maatskappy se begroting toegelaat het, en terwyl sy sommer dadelik by die hotel omgedraai het en lughawe toe gegaan het, was al wat ek gedink het: "Kry vir julle" :-)
So land my vrou toe na 'n 24 uur dag weer 06:00 Vrydag oggend terug in Sydney.

Ek is verseker nie 'n rasis nie, maar julle moet verstaan dat ek selfs sukkel om 'n engilse tandarts te vertrou, en al die afrikaanse en Suid Afrikaanse tandartse in Australië is hier om genoeg geld te maak sodat hulle Woensdae kan golf speel en Vrydae kan af hê, nie om 'probono' of 'no-gaps' werk te doen nie. Nadat ek deur die hele 'no-gaps' lys van Li's en Wang's gesif het en uiteindelik die tandarts (wat ook 'n potensiële kliënt is) skakel, vat hy net nuwe pasiënte as hulle verwys is deur 'n ander tandarts. Ek maak toe 'n afspraak by 'n Dr. Ash maar moes dit later verander toe ek uitvind dit staan vir Ashlam Mahal Badalandabad. Dink ek gaan nou na sy kolega, 'n Dr Jenny.

Met Sydney se onlangse tekort aan sonskyn en warm weer, was ons hierdie week hard opsoek na 'n 'treadmill' en na vele ure op die internet (hoe ken julle my), het ons op 'n pakhuis afgekom wat treadmills gedurende werksdae in werks-ure verkoop, aan die ander kant van die stad. Die eienaar het ingestem om tot 18:30 vir my te wag, maar laat middag verkeer was so erg dat ek maar omgedraai het na 30 minute en na 'n uur se ry, was ek weer voor my kantoor. Ons probeer toe weer Vrydagmiddag (in Sydney se sirkel snelweg, die ander kant om) ry en kom net voor 18:30 daar aan. Dis toe nie heeltemal wat ons soek nie en dis die dat ons toe Saterdag by Costco uit kom. Lang storie kort: Nadat ons die assistent weer van die grond af opgehelp het het en hy na die lag, sy asem terug gekry het, het ons die treadmill in ons Yaris gepas. 'n Buurman wat gesien het ons sukkel om die 130kg masjien by die trap op te kry (hernia en al) bied toe aan om te help dra, lol. Toe daai treadmill grond raak voor ons 1ste verdieping voordeur, is die man weg.
Dis ook baie moeiliker om te bou as wat ons eers gedink het. (Moeiliker as enige Ikea meubelstuk) En ons was behoorlik moeg en nat gesweet teen die tyd dat die masjien gebou was. Voor julle vra: Ja, ek het al 1.465km gedraf en Jeanelle 2km, teen hierdie tyd.

Stefan is in Texas. (So hoor ons, 'via the grapevine') En ons kan hom nie blameer dat hy nog nie gebel het nie, ons het so vinnig na die naaste dorpie op Google-Earth gekyk en verstaan waarom hy nog nie 100% op die lug is nie. Hoop hy geniet dit!
Met al hoe meer vriende en familie wat vir verlengde tye in die buiteland werk/kuier, is dit interessant om te weet dat "kultuurskok" eintlik nie net 'n sê-ding is nie, maar 'n ware vorm van disoriëntasie wat ervaar word deur mense in 'n nuwe land/situasie. Gaan lees gerus meer daaroor op Wikipedia of lossesintranslation as jy 'n tydjie kry. Dis baie interessant en het ons gehelp om te besef en te verstaan waardeur ons gaan.

Agv. 'n tekort aan fotos hierdie week, deel ek graag 'n advertensie wat my baie aan ons en 'kanp' laat dink:


Met Jeanelle by die huis, raak ek nou amper weer gewoond om saam met iemand te bly.

Ten spyte daarvan dat ek die hele Sondag die nuus vir April-gek grappe dopgehou het, het ek keer op keer gedink: dis belaglike nuus, maar dis te onsmaaklik om 'n grap te wees. Dit het my net laat besef dat meeste nuus belaglik is en die regte lewe so snaaks is dat ons amper nie grappe nodig het nie, net 'n sin vir humor.

Ons het ook 'n welkome ekstra uur by ons Sondag gevoeg gekry te danke aan 'daylight saving'.

Baie Liefde en Groete en sterkte met die week(wat daarvan oor is)

Johann