Saterdag vas dit die groot regmaak vir 'die braai' by ons. As gevolg van my verkeerde berekeninge moes daar gou nog vleis gekoop en gemarineer word. Ons het net 8 van alles gehad en sou 10 mense in totaal wees. Ja, dis nogals 'n groot groepie, maar na so 'n lang ruk sonder onthaal, was ons seker 'n bietjie gretig. Gretig en uit oefening. Tien mense is baie om voor voor te berei met 'n kombuis wat uitsluitlik vir twee toegerus is. Dit het tot 14:00 geneem om genoeg eetgerei, glasware, opskep bakke, bestandele ens te koop.
Tussen al die verskeidenheid, was daar op hierdie dag net 3 opskep lepels om van te kies. |
Ten spyte van die bietjie roeserigheid, was die braai baie lekker. Twee mense het nie opgedaag nie, en sal ook nie gou weer genooi word nie. Daar is nogals 'n groot verskil tussen 8 en 10 mense wanneer daar net 9 blokkies tert in 'n bak pas. Met braaivleis, boerewors en Marmite/Vegimite-tert en Malfapoeding met vla, was niemand honger huistoe nie. Ons sal net volgende keer 'n ogie op die tyd hou, om seker te maak dat ons nie nagereg eers teen 23:00, direk na ete, bedien nie. Dis seker omdat dit eers 21:00 hier donker raak. (Ongeag van hoe hoog die son is, is tussen 18:00 en 19:30 'n goeie tyd vir aandete)
Ons was 2:00 in die bed en het die res van die naweek hard probeer om die verlore rus in te haal.
Daar kan 50 mense sterf as gevolg van iemand wat perongeluk 'n verkeerde knoppie druk, maar as daar nie 'n Australianer in gevaar was nie, dan hoor ons dit gewoonlik nie in hierdie nuus nie. Ek glo dat dit ook net te danke aan die gly-gevaar vir Aussies was, dat ons van hierdie week se oorstromings by die O.R. Tambo lughawe gehoor het. Dit is lekker om die lughawe 'n bietjie in die nuus te sien. As gevolg van die afgelope paar jare se shuttel bedryf, is lughawens (veral ORTIA) nou nie juis vir my vreemd nie.
Met al Jeanelle se reise, raak ek ook nou al hoe meer vertroud met Sydney se (Kingsford Smith) Lughawe (Vernoem na die eerste man wat in 1928 direk van Amerika na Australia gevlieg het, asof daar nou plek was om te land tussen in). Sy was hierdie week van Maandag tot Donderdag in Adelaide.
By my werk het die baas hierdie week vier mense in die ander kantoor afgedank. Sedert ek daarvan te hore gekom het, het vrees as aanmoediging, my toegewydhied om te leer en die beste verkoopsman te word byna verbygesteek en waar ek voorheen die teiken van 60-80 oproepe gemaak het, het ek hierdie week 120 gehandhaaf. Seker dìe dat die baas ook 10 van die 15 telesales mense afgedank het. Oor die algemeen begin ek dit nou net regtig geniet en vir Kersfees sal ek tevrede wees as ek net nog my werk het.
Dit was maar anders 'n lang en alleen week. Ek het nie besef hoe alleen dit was, totdat ek Woensdag alleen na die Engelse Dopper Kerk se Kerssangdiens gegaan het nie. Ek was effens laat, omdat die gemeente hoofsaaklik uit ou (70+) nie werkendes bestaan en hulle reeds om 17:30 op 'n Woensdag middag begin het. Ek moes gaan, want ek moes 'n geskenk oplaai wat 'n tannie (die oudste lidmaat se vrou) vir ons gestuur het. (Gelukkig reis hulle op die oomblik deur Europa en stuur sy dit toe saam met iemand anders, want ek moes vir haar, haar man(die oudste lidmaat, 90, ook nie soveel ouer as die res van die lidmate nie), en 'n ander, dierbare, dowe tannie, geskenke vat en het in die trein met al die gejaag haar naam vergeet en 'n ander naam op een van die geskenke geskryf.)
Ek het so tussen deur ook vir Jeanelle iets oor die internet bestel, maar weet nie of dit betyds vir Kersfees/ooit hier gaan aankom nie.
Vrydag aand het ons, ons werk (vir die wat toe nog daar gewerk het) se Kersafsluiting gehad. 19:00 tot 24:00 op 'n Vrydag aand, sonder metgeselle. (Dit was nogals moeilik vir iemand wat nog skaars sy vrou hierdie week gesien het.) 'n Spoggerige affêre, met 'n 2 keuse, 3 gang maal, en die ding wat Aussies die meeste waardeer, 'n 'open-bar'?! Seker omdat dit nou hier ($40) R350 vir 24xbiere/'n bottel brandewyn kos.
Ek hoop dat julle ook stadig maar seker die werk vir die jaar afhandel en bietjie meer tyd saam met vriende, familie en julle gesinne hierdie feesseisoen kan spandeer.
Liefde en groete,
Johann
No comments:
Post a Comment