Friday, 18 November 2011

Cruising

Hierdie blog is twee keer geskryf en een keer verloor as gevolg van tegnologiese probleme, maar ek het nou 'n makliker app om mee te blog, Blogsy. So kom ons kyk of dit beter werk.
Verlede naweek was hoofsaaklik toegewy aan studies, behalwe Saterdagaand, to ons gaan 'cruise' het. Dit was byna 'n uur se kar-trein-taxi om by die boot te kom. Die boot het net soos op die kaartjie gelyk. Ek het gedink dit is die enigste prentjie wat hulle kon kry, nie 'n direkte uitbeelding van die boot nie.
Die 'cruise' is deur een van my nuwe kollegas gereël. Hy speel self in die Regae orkes. Ons het twee van Jeanelle se kollegas, die Britse meisie en haar New Zeelandse man en een van my ou kollegas, Russiese ou en sy meisie genooi. Nadat die Russiese outjie vir ons vertel het dat dit net 30 minute van sy woonstel tot by die boot is, moes ons vra dat die boot so paar minute langer moet wag vir hulle om te arriveer.
Die musiek was redelik goed. Die kroegman het self bietjie weggelê, en later verniet drank begin weggee. Die buffet aandete het bestaan uit 5 slaaie (tamatie blokkies, koolslaai, pit mielies, Griekse slaai en Griekse slaai met avo in), heel gaar, on-skoongemaakde prons en 'n paar heel gestopte 'rotisserie chickens' waarvan jy jou eie stuk kon afbreek.

Die ding van 'n 'cruise' is; jy is op die boot. Selfs na 20 minute, as jy klaar geeet het en eerder graag sal wil gaan slaap, kan jy nie. Nee. Jy is op die boot. Dis nou nie die tipe skip waarmee die Le Rouxse tans toer nie. Vermaak is redelik beperk. Jy gaan nêrens tot die boot weer laat die aand vasmeer nie. Dit verplig jou half om lekker te kuier, wat ons wel gedoen het. Nagereg was baie gesond. Waatlemoen en Spanspek snye. Ons het dit baie geniet. $55 per persoon baie? Mmmm?!?

Maandag was die groot slagting. Ek het later gewens ek het 'n R50 by my gehad om agter in my antwoordstel te sit. Dit behoort enige Prof/Onnie se salaris te kan verdubbel. Nie die R50 nie, maar as dit 'n 'trend' raak.
Dit was ook die begin van die hormonaalste week wat die weer in Sydney aanbetref. Maandag het dit kompleet gevoel of iemand jou met 'n haardroër in die straat af blaas, so warm was dit buite, al het die wind gewaai.
Teen Woensdag was dit so koud dat jy 'n trui moes dra. Dit het darem teen Vrydag meer gestabiliseer in warm en bewolk, terwyl ek byna 4km tussen afsprake, in die hitte, in my pak klere moes rond loop. Nog niks verkoop nie, maar het al 'n paar lyne in die water.

Hierdie naweek (wat nou al verby is) het ons hard probeer ontspan, maar meer daaroor op Vrydag. Sal harder probeer om my Vrydag Blog op Vrydag te doen.

Geniet julle week. DeVilliersies, geniet julle vakansie. Le Roux's geniet julle cruise. Moolmans, geluk met die lening!
Bothmas, ek hoop die voorgeboorte klasse kom goed aan en dat julle die toetse sal deur kom. Bothas, julle kan ook nou maar begin werk, neem aan dis darm amper Maandag by julle. Vir die res, Groete en liefde.

Johann

No comments:

Post a Comment