Thursday, 7 March 2013

Min Slaap

(1 - 7 Maart 2013)
Interessante aanhaling/beskrywing wat ek hierdie week gehoor het: "He had the appearance of one who has searched for the leak in life's gas-pipe with a lighted candle.” - P.G. Wodehouse

Dis seker die min slaap of die lang week of iets, maar teen Vrydag was my geduld op met mense wat die 'help-lyn' skakel vir dom goed, onvriendelik is (asof dit die sagteware se fout is) en dan nog onduidelik praat. So antwoord ek die foon en die dame sê iets in 'n sterk aksent (sommer net binnesmonds as jy my vra) asof dit die 300ste keer is wat sy bel :"It is Jacintafromhisteticsestetics, mypayadvicesareshowing...." na byna 'n minuut kry ek toe 'n woord in:"Who am I talking to?"
Die naweek het net betyds gekom. Net voor ek iets vir 'n kliënt sê waaroor ek sou spyt wees.
Oorkant my werk woord daar 'n nuwe gebouw gebou.
Gebou op die maklike manier: beton-panele, nie stene nie.
Ons het Saterdag by vriende gaan wors maak. Nie sommer enige wors nie, dié het bestaan uit 100% 'rump'. Dis amper soos om 'n kruisskyf te eet, net makliker(want jy hoev nie te kou nie). Ons het heerlik gekuier en was eers 00:00 in die bed. Dis laat vir nuwe ouers, wat hulle slaap nodig het. Om dit alles te kroon wou ons die volgende oggend kerk toe gaan en dít opsigself vat beplanning. Die aand het so verloop:
00:00-00:30 slaap 30min
00:30-01:20 voed
01:30-05:00 slaap 3,5 ure
05:00-06:00 voed
06:00-06:30 eet ontbyt (strategies)
06:30-07:30 slaap
07:30-08:30 voed
08:30-09:15 stort, maak reg vir kerk, laai almal in die kar
09:25 Betyds by kerk! Baie trots op onsself. (Ek het hierdie skedule eintlik vir myself hier gedokumenteer om met toekomstige beplanning te help. :-))

Divvie was Dinsdag vir sy inentings. Na 'n stroop wat hy moes drink, het hulle dit goed gedink dat die suster en die dokter hom gelyk in altwee bobene inspuit om die trauma te verminder. (Verminder?) Dit was blykbaar ook nie die dunste kortste naalde nie. Sy ma was teen die middag nog getraumatiseer. Hy was stil.
Sommer baie stil en jy kon sien dat hy iets onderlede gehad het.
Te moeg om sy kop op te tel. (Nie hoe "tummy time" moet lyk nie.)
Donderdag het Jeanelle probeer om, na die moedersgroep, by die haarsalon 'n draai te maak. Ek moes na werk daarlangs gaan en so 'n entjie met Divvie gaan stap omdat hy bietjie kriewelrig begin raak het. Stil sit en hare sny is ook net só interessant, maar dit was die eerste keer dat sy ma so bietjie tyd aan haarself spandeer in 'n lang ruk en sy verdien dit!

Liefde en Groete

Johann




No comments:

Post a Comment