Thursday, 14 March 2013

Lang vergaderings

(8 - 14 Maart 2013)

Ek het Donderdagaand se 02:00 voeding oorgevat. Ek het al 'n vêr ent gekom, want ek kan hom al voed en in die bed kry in 1 uur, sonder om myself so te ontstel dat ek sukkel om weer aan die slaap te raak.
Steeds het ek die volgende dag by die werk 'n bietjie 'amps' getrek. Ek is gewoond om by die huis te voel of die water wat uit die kraan uitkom koud is voordat ek 'n glas vol tap om te drink. Om een of ander rede (blameer maar die gebrek aan slaap) druk ek toe na middagete my hand onder die werk se  "zipp-tap"('n kookwater/yswater kraan) met die verkeerde opsie gekies. Gelukkig kon ek die hand vir 'n ruk onder die "zipp-tap" se yswater ook hou. (Toe is ek darem wakker.)

Die dominee het my mooi gevra om Maandag by die kerk se lede vergadering te wees. Hy het Sondag al gevra of ek sal omgee om die bestuurkommitee se voorsitter te wees (hy ken my duidelik nie). (Ek is tradisioeneel 'n rusbank-lidmaat en het al baie keer vir Jeanelle voorgeseê om op haar hande te sit. Ek was huiwerig om ja te sê, maar die dominee het my persoonlik genader en my verseker het dat daar geen verskuilde agenda is nie.) Die kerk se ledetal het in die afgelope jaar met meer as 50% afgeneem en dit is duidelik dat daar baie is om te doen en te verander en dat daar mense nodig is wat 'n verskil kan maak. Self is ek 'n groot kritikus as dit by die kerk en dominees kom en nou word ek vir my opinie gevra. Ek besef dat die kerk regtig hulp nodig het en dat ek moontlik 'n verskil kan maak. (Indien ek nie kan help om 'n verskil te maak nie, behoort daar gelukkig oor 'n jaar niemand oor te wees om oor die slegte voorsitter te praat nie.)

Maandag sit ek in die vergadering en word ek as lid van die bestuurskommitee genomineer. Geen besware nie... en daar is ek 'n lid. :-] Die dominee sluit die byeenkoms af deur te sê:"Baie geluk aan almal wat lede is. Die eerste vergadering is môre aand. Sien julle dan." (Ek wou mos.)

Dinsdagaand se vergadering het goed verloop met almal wat maar nuut is. Daar is 'n opwindende gevoel onder almal en mense is almal gretig om te help en vol idees.

Ons het uiteindelik vir Jeanelle 'n stoel gekry om in te borsvoed. Ek was oorspronklik daarteen gekant, ons het mos oral stoele, maar ek het nie besef hoe gereeld die outjie gaan drink nie en dis belangrik dat sy ma gemaklik is. Ek soek nou ook een vir voor die televisie.
Die nuwe eetkamer.
(Divvie op sy ma se nuwe voed-stoel.)
Baie gemaklik, min plek vir voetjies om teen te trap en die stoel kan
 uitskop vir lang rustige sessies.
Baie liefde en Groete

Johann

No comments:

Post a Comment