Ek het so goed gevoel oor die vorige oggend se stappie, dat ek sommer weer werk toe gestap het. Ek het gereël om die Vrydag 'n bietjie vroeg by die werk te loop, want ons het die naweek bietjie Hunter-vallei toe gegaan. Jeanelle kom genoeg uit die huis uit, maar ek het gedink dit sou almal goed doen om bietjie uit die eentonige roetine en bekende omgewing te kom. Die Hunter Vallei is net so 150km buitekant Sydney, maar met die verkeer en 'n voeding langs die pad, vat dit toe 'n uur en 'n half om net op die snelweg te kom.
Met al die ontwrigting aan sy roetine en met 'n bed wat ons sommer op die kombuiskas vir hom gemaak het, het Divvie van 21:00 tot 06:00 deurgeslaap. Ons het die laaste 3 ure elke 30 minute opgestaan om te kyk of hy nog asemhaal.
Die oggend het ons begin met ontbyt by die hotel. Die koue kontinentale ontbyt was by die verblyf ingesluit. Indien jy 2 worsies wou by hê was dit $3. Vir 2 eiers was dit $9.50!?
Ons het 'n hele paar wynplase besoek en Jeanelle kon (gewoonlik direk na 'n voeding, om dit kans te gee om uit te werk voor die volgende) ook bietjie wyn proe. Ongelukkig vir Divvie was die wynplase baie naby aan mekaar en is hy gereeld in en uit die karstoeltjie gelaai.
Terug by die huis het ons ons inkopies oor die internet bestel om te laat aflewer.
Daar is huidiglik so baie werklikheids programme op Australië se televisie: "The Block"(bou en opknapping), "My Kitchen Rules"(kosmaak), "Mastershef"(kosmaak), "Biggest Loser"(oefening), om maar 'n paar te noem, dat 'n mens nie kan byhou nie.
Die werktoe stap ding gaan goed aan, maar Maandag was bietjie warem en ek as sopnat gesweet toe ek by die werk aankom.
Ons het die week by die dominee se huis gaan eet en 'n interessante ou ontmoet wat nogals iets waar gesê het: Die probleem by die kerk is dat daar te veel Afrikaanse mense is. Hy het gekla omdat die een dominee een Sondag na die groot trek verwys het in die Engelse erediens (heeltemal buite gevoel met die gehoor) en dat hy sommer die rooi nulle kon sien toe hy by die kerk instap en sien daar is 2 dominees en 20 lidmate. Dit het my skielik laat besef dat deur na kerk in groepies te staan en Afrikaans te praat ons besig is om Engelse mense uit te sluit en onwelkom te laat voel en in Australieë kan jy nie bekostig om iemand uit te sluit as jy 'n kerk wil laat groei nie.
Terwyl Jeanelle se moedersgroeppie Donderdag op die gemeenskapsentrum se gras bymekaar gekom het, het 'n televisieverslaggewer vir hulle 'n paar vrae gevra en hulle was die aand op die nuus! Hulle is nou bekendes!
Baie Liefde en Groete
Johann