Thursday, 13 December 2012

Hair today, Gone tomorrow!

Vrydag was dit deel van my 'training' om 'n video te kyk om te leer hoe 'n deel van die sagteware, wat my nuwe werk vervaardig, werk. Ongelukkig het die man se stemtoon en verduidelikings nie regtig my aandag getrek nie en ek moes aanhoudend sukkel om wakker te bly. Ek het begin deur alles te probeer wat die video verduidelik het. Die video was 1 uur en 50 minute lank. Die eerste 50 minute van die video het my van 08:30 tot 15:30 geneem om deur te werk. Dit is toe dat ek besef dat die res van die video my tot 16:30 sou vat (glo die ontduikende 'bier tyd' in my nuwe kantoor) en ek het play gedruk, my kop gestut en aan gekyk. 16:31 En om te voorkom dat almal gelyk opspring, wou ek net voorstel dat ons 'n netjiese ry agter my vorm, toe die vrou wat die 'training' koördineer is langs my kom sit en vra of ek dalk deur die vorige dag se oefeninge wil gaan. "Sekerlik"(Ek is mos nie moeg na 'n week se training nie.) 17:10 Was ons klaar deur die antwoorde gewerk en dit was net die departementshoof wat in die kombuis gesit en bier drink het. ('Bad idea!') Ek het elkgeval 'n jeukkerige vrou by die huis gehad, so dit was reguit huistoe met my!

Die jeuk oor die hele bolyf het al so 'n week of wat terug begin en dryf Jeanelle teen die mure uit. Ons het al verskillende sjampoe, seep, kosse, verandering omgewing; stede(Adeleide) en lande(NewZealand, Auckland) en 'n oats bad (Ai!) probeer en niks wou help nie. In moedeloosheid soek ek toe op die internet vir raad.
'Dr. Google', maar, sodra jy vir "severe itching" en "Pregnancy" soek, wys alles na 'n lewer kondisie waarvoor ons ook al getoets het, maar haar lewer en gal makeer niks. Sonder "pregnancy" wil dit toe voorkom of dit dalk 'n yster tekort kan wees en ek kry dadelik die top 10 kosse met hoë yster: Top 10 Foods highest in iron. Die lys bevat onder meer tiemie, kaviaar, oesters...en 'n hele rits goed wat baie moeilik sal wees om vir Jeanelle te oorreed om te eet. Nommer twee is wel kakao (100g = 200%RDA) en dit gee my toe kans om twee koppies 60ml kakao te maak. Toe twee sakkies aspartaam nie die brousel se bitter wou stil nie, toe deel ek maar die karamel-sous wat ons vir roomys gemaak het vir ons daarby. Dit was drinkbaar. :-) Met twee slukke van my kakao oor, dink ek dit goed om maar net ook te 'google' wat 'n oordosis kakao kan veroorsaak. (Oeps!) Gelukkig het Jeanelle nog net 'n halwe slukkie gevat, want teveel kakao is glo sleg vir swangerskap en veroorsaak slapeloosheid, omdat dit glo ook kafeïen bevat. 'Ons' gaan toe eerder inkruip om te keer dat 'ons' onsself beseer. (Wawyd wakker en op 'n effense 'sugar high').

Ek was vir lank trots op die feit dat my hare nie so vinnig uitval soos meeste van my vriende nie, maar ongelukkig, in 'n onlangse bloutjie met 'n middel wat veronderstel is om haarverlies te verminder, het ek myself sleg teruggesit. lol. :-| Gepraat van krap waar dit nie jeuk nie. Ek hoop maar dit groei bietjie terug, voordat ek moet vrede maak met die onvermybare. Hein, jy moet maar laat weet watter haarprodukte vir jou werk. :-)
Niks meer wonderkure vir my nie. Dis is die resultaat van die
afgelope 4 weke.
Saterdag... (Ja, ons het wel die aand oorleef, hoewel ek in die middel van die nag die matras na die sitkamer moes skuif vir die lugversorger, want dit was te warm. Wat mens nie alles vir jou swanger vrou sal doen nie. :-) )...was ons na die 'Flemmingtons Markets', Sydney se varsprodukte mark. Dis 'n ware belewenis en 'n goudmyn vir goeie, goedkoop en vars vrugte en groente.
Hierdie stalletjie verkoop hoofsaaklik gras-uie

Die Flemmingtons Markets: Sydney
Die blommemark is ook langsaan en hulle was moeg verkoop en het blomme vir $1 'n bos weggegee.
Jeanelle met haar blomme.

Enige kleur orgidee is beskikbaar by die Sydney Blommemark
Ek sal meer fotos volgende week hê, omdat ons weer hierdie Saterdag na die mark toe gaan vir die week se groente.

Jeanelle was ook by 'n gemmerbroodhuisie bou dag. Gemmerbroodhuisies is baie gewild tydens kersfees in Sydney. Die 'before' fotos is op Jeanelle se Facebook.
Die gemmerbroodhuisie was ook baie gewild in ons huis.
In ander nuus het 'n Australiaanse radio stasie 'n poets oproep na 'n hospitaal gemaak en die koningin nageboots het. Nie baie wys in 'n Britse kolonie nie. Nog erger wanneer een van die slagoffers van die 'grap' later selfmoord pleeg en die stasie binne 2 ure, meer as 7000 aanmerkings op hulle gesigboek(facebook) bladsy kry nie.

Die week was maar steeds 'n geleerdery by die werk. Dit was gelukkig vandag die maatskappy se jaarafsluiting, so daar het nie veel gebeur nie en dit was bietjie van 'n studiebreuk! Net toe ek dink dit is verby, toe kom sit die maatskappy se eienaar tussen my en die ander nuwe-ou. Dis 'n vriendelike man en ons het lekker gekuier. Hy vra op 'n tyd vir ons hoe oud ons is en ek sien hy wonder hoe 'n dertigjarige man so min hare kan hê. lol.

Ek kry nie meer my hoop op vir 'n bier, saam met die kantoor se mense, aan die einde van die week nie. (Lyk my dis meer 'n 'sales' ding.) Maar 'n mens mag hoop.

Ons gaan hierdie naweek ook na twee kerssangdienste, by die Afrikaanse en Engelse kerke. (Dis nie oor ons tweetalig probeer wees nie, dis twee verskillende gemeentes.)

Aan almal wat met vakansie gaan en die langpad aandurf; Mooi ry!

Baie Liefde en Groete
Johann

No comments:

Post a Comment