Thursday, 6 December 2012

Amper pouse

Vrydag middae is ek nog gewoond aan my ou werk waar almal Vrydae met 'n bier afgesluit het, maar die helfte van die mense was nog in 'n vergadering teen 17:30. Ek kon toe kies tussen: Die enigste ou wees wat sit en bier drink, of die ou wees wat 'n ekstra 30 minute, op 'n Vrydag, rond hang net vir 'n bier. (Albei aanvaarbare keuses as jy nie die nuwe werknemer is nie.)
Saterdagoggend het ons soos mal mense rond gehardloop om 'Skyfall' te gaan kyk, die huis aan die kant en skoon te maak, inkopies te doen en koek te bak voor ons gaste by ons kom braai, maar toe ek twee ure voor die kuier hoor of hulle nog kom, toe is hulle in die berge! Ons het toe lekker gebraai en sommer met mekaar gekuier in ons skoon woonstel.
Nie die tipe polisie vir wie jy wegjaag nie.
Met vroulief in die 33ste week van swangerskap, brand sy die kers aan albei kante om al haar werk gedoen te kry voordat sy met kraamverlof gaan. Sondag is sy na Auckland tot Dinsdagaand. Woensdag by die huis vir die dag (vir werk) en weer Donderdag na Brisbane. Ek chauffeur net tussen die woonstel en die lughawe. (Dit voel amper soos YCT. :-) ) Op een stadium probeer ek 'n sms vir Jeanelle stuur want ek sien my foon se battery gaan dit nie maak nie, maar ek bestuur en probeer toe vir Siri gebruik. Ek sê "Sorry for using Siri, but I am busy driving." en die sms lees: "Sorry for using Siri. I am busy conniving." toe los ons dit maar.

Enigste 'pêrk'; ons kon darem Donderdag-oggend vir oulaas in die 'Qantas Lounge' 'breakfast'. Vir oulaas want dis die laaste keer wat Jeanelle moes vlieg voordat sy met kraamverlof gaan. Dit beteken nie sy is nou rustig nie. Alles behalwe. Sy het nog sewe 'site'-besoeke voor kersfees. Sy moet boonop na allerhande kommentaar luister wat mense hier kwyt raak; "Your huge!"(net wat 'n swanger vrou wil hoor), "I am tired just looking at you."...en my gunsteling..."You are not having that baby in my cab, are you?"
Ons was Woensdag by die 'Pyn-beheer gedurende die geboorte proses' antenatal klas en dit sou nie 'n antenatal klas gewees het as hulle ons nie nog 3 geboortes gewys het, reguit 'n 'horror-fliek' uit nie.

Die Albasters het Donderdag 'n middagete gereël en hoewel ek met die beste intensies vir die drankies wou betaal, was die afstand, gekoppel met die restaurant se onvermoë om tegnologie te implimenteer op die spesifieke geleentheid net teveel gewees. (Ma, ons werk aan daai website!) Groot was my teleurstelling toe ek Vrydagoggend nie eers 'n sms, viber, skype of whatsapp het nie! (Niemand het eers van my vermeende bedoelings geweet nie. Maar toemaar, die geld is nou by iemand wat dit hopelik by sy 'iPhone fonds' kan sit. ;-) )

By die werk gaan dit heel rustig. Pendel vat my 'n skamele 30 minute, heen en weer, en my bestuurder is 'n familie-man wat goeie werk-gesinslewe balans aanmoedig. Ek vind die oopplan kantoor waar almal stil sit en voor hulle kyk 'n bietjie nuut. Dit lyk of almal werk, maar intussen sit almal en skype boodskappe stuur vir mekaar. Ek sit langs my bestuurder, dan moet ek hom skype as ek iets wil vra?! Ek werk saam met mense van 'n verskeidenheid kulture. Ek is nog onseker watter kultuur oopmond kou en winde opbreek terwyl hulle eet, maar daar is minstens een van hulle ook. My middagete het amper in my keel vasgesteek.

Ons het 'n paar uitstappies vir die naweek beplan en (omdat ek so bietjie laat is met hierdie blog kan ek nou al voorspel dat), volgende week se blog propvol interessante stories is.

Baie Liefde en Groete
Johann

No comments:

Post a Comment