![]() |
themonkeytail.com |
Ek was gou Saterdag vir 'n uur of twee na 'n kolega se verjaarsdagpartydjie. Dit moes 14:00 begin, maar teen 14:10 was ek nog die enigste persoon daar. Hy bedien toe solank vir my 'n glas van sy tuisgemaakte bier. Dit het my laat terug dink aan die keer toe ek self bier in my ma se kombuis en yskas gebrou het. lol
Hy het duidelik nie 'n ma of 'n vrou nie. Ek het eers na die eerste glas gesien waar hy dit brou. Hy gebruik 'n ou yskas om die brousel (wat darem in 'n plastiese emmer is) warm en donker te hou. Nodeloos om te sê dat die binnekant van die yskas heeltemal gemuf is en 'n redelike klankie deur sy kommune stuur elke keer as hy die yskas/broukas se deur oop maak. (My ma sou haar bewussyn verloor het as sy dit gesien het) Die bier was nie sleg nie, maar ek sou verkies om nie te weet waar dit vandaan gekom het nie.
Ek het dit oorleef en Maandag was ek weer op kantoor. (Nie heeltemal opgewonde nie, want ek wou al Vrydag bedank het.) Daar was geen nuus nie en ek moes weer vir 3 ure 'cold-calling' doen (60 - 80 oproepe) om afsprake te probeer kry wat ek elkgeval nie self sou kon bywoon nie. (This is my happy face :-| )
Eers Maandag aand, na 'n hele (ekstra) dag se werk, het ek my aanbod gekry. Dinsdag oggend was ek vroeg op kantoor om te bedank. Dit was tyd vir "Four Seasons" se "final check-out". Toe ek uit die sales-baas se kantoor kom kyk my kolega, wat langs my sit my verskrik aan. Hy wys my 'n koevert waarop hy die bestuurder se naam op geskryf het. Dit maak eers nie vir my sin nie, omdat dit lyk soos 'n koevert wat hy saam met 'n boks kerskaartjies gekry het ('So much for DL size'), maar toe verduidelik hy dat hy ook vanplan is om daai selfde dag te bedank. Ek voel bietjie ('n baie klein bietjie) sleg om deel van so 'n massa eksodus te wees. Hy het gelukkig gewag totdat ek uit die kantoor is. lol
Ons antenatal klasse het Woensdagaand begin. Dis maar 'n ongemaklike storie as so 'n klomp mense uit verskillende omstandighede, met een ding in gemeen (almal is swanger), bymekaar gegooi word. ("This will be your friends!" :-) ) (Ai. Dink ek toon ernstige anti-sosiale neigings.) Ons het in die eerste klas net die geboorte proses behandel en 'n paar videos van gewone geboortes gesien. Hulle gebruik nou nie juis modelle/akteurs in die videos om die proses te romantiseer nie. Op een stadium kyk ons na die res van die klas en almal sit verskrik en kyk na die video met hulle hande oor hulle monde (en oë). Ons het baie geleer. (Gebreide uterus en al.) Ek dink dit is die ideale klas om jou tiener dogters heen te vat. Vir tiener seuns sal ek voorstel dat hulle die 'budget' uit werk. lol.
Ek begin Maandag by die nuwe werk. Dit is net 3km van ons woonstel af. Ek het gedink ek sal maklik te kan fiets ry werk toe, maar toe en die roete probeer toets het was ek reeds stokflou nadat ek net my fiets se wiele gepomp het. Na twee bulte wat ek moes uit ry, kyk ek op my iPhone waar ek is en sien dat ek net 2 blokke van die straat af is wat voor ons huis verby gaan. Ek ry toe dadelik stasie toe en gaan koop vir my buskaartjies ('n 'travel-ten') sodat ek nie Maandag oggend hoef te sukkel nie. Hierdie fiets ding gaan nog eerd do 'n bietjie kaartwerk en oefening kos.
Gepraat van oefening... Ek het 'n paar weke/maande gelede 'n 'app' ('application'/program) op my foon gelaai wat jou help/aanmoedig om te oefen (Couch-to-5km)... a picture says a thousand words...
Lees wat die mannetjie hier onder sê om te sien waarom ek so gou uitasem raak na 2 bulte met 'n fiets. |
Hoop julle het 'n lekker naweek!
Baie Liefde en Groete,
Johann
No comments:
Post a Comment