Ma se toer van Sydney het voortgegaan hierdie week ( 3 - 9 November 2012) met 'n besoek aan Watsons Bay se Doyles (wat is soos ons Mariners Wharf) oor die naweek.
Maandag(5de November) was my 3de onderhoud by 'n maatskappy wat net 3km (te fiets) van ons woonstel af is. Die feit dat ek verlede week Maandag en Vrydag vakansie gehad het, het vir my die bynaam "Four Seasons" by die werk gekry. (Hulle sê ek 'check' net in en uit wanneer ek wil. lol) Tussen die onderhouse moes ek nogsteeds besig lyk en ek het soos iets met hondsdolheid rond gehardloop sodat niemand onraad vermoed wanneer ek vir 'n uur by 'n onderhoud is nie. Gelukkig vir my is die onderhoud in my verkoops area, so 'wat ek daar maak' is maklik om te verduidelik(sou iemand vra). Ons het Maandagmiddae altyd 'n vergadering wat 17:00 begin. Ek is die oggend ingelig dat die onderhoud dalk 'n toets ook kon insluit, maar niks kon my voorberei vir die 1uur en 45 minute onderhoud nie. Dit het geeindig toe die bestuurder, met wie ek die onderhoud het, vir my die aanleg toets gee en sê ek het 20 minute. (Toe was dit reeds 16:25 en ek het nog ten minste 20 minute nodig gehad om by die kantoor te kom. Maar dit was vir 'n goeie saak.) Die toets was belaglik! Dit toets induktiewe redenering, vooroordele en rekeningkundige kennis. Daar was meervuldige keuse vrae oor 'wat is die volgende figuur in die reeks?
 |
Soortgelyke vraag as die in my onderhoud.
(Dis seker B vir die wat wonder.) |
(Regtig, 'n mens wil nie 16:30 na 'n lang dag se werk en, op daardie stadium, reeds 1.5 ure lange onderhoud, met sulke goed sukkel nie.) Verder was daar ook raaisels:
'n Seun en sy pa is in 'n motor ongeluk waarin die seun se pa oorlede is. Hy word na die hospitaal gejaag, maar in die operasiekamer sê die dokter: "Jammer ek kan nie aan hom opereer nie, want hy is my seun." Hoe is dit moontlik? (Niemand is aangeneem nie.)
Ek moet erken dat ek hierdie antwoord self 'blank' moes los. Na 'n bietjie 'google' het ek geleer dat die dokter (heel logies) die seun se ma was.
Jy kom by 'n busstop met jou motor wat net 2 sitplekke het. Daar is drie mense wat vir die bus wag: Jou beste vriend wat al jou lewe gered het, die perfekte 'partner' waarvan jy nog altyd gedroom het en 'n ou tannie wat lyk of sy op haar laaste is. Wie laai jy in? (Leidraad: Almal kan gelukkig wees!)
...Jy stuur jou vriend om die tannie te gaan aflaai en wag saam met die perfekte 'partner' vir die bus natuurlik. :-)
3. Die ander een het gevra hoe 'n baba uit 'n 20 verdieping gebou kan val en oorleef...
Hier is ander laterale denk toetse wat jou vooroordele toets, met leidrade en antwoorde. (Ek het gedink die vrae lyk bekend en sien nou dat hulle vir my vrae 1, 2, 3, 4 en 6 gevra het.) As ek na die antwoorde kyk het ek net die een met die kar reg geantwoord. :-)
Dan was daar 'n reeks vrae oor rekeningkunde. Ek was baie goed in rekeningkunde. Tot in graad 12! Dit was byna 12 jaar gelede en in Afrikaans. Ek het verseker nie die 'watter joernale word geraak deur die volgende transaksie?'-vrae reg beantwoord nie. (Ek weet hoe dit werk, maar ek gebruik nou net van die kredietkaart.) Ek het gedoen wat ek kon en omgekyk en vir die man gesê dat ek ongelukkig nie tyd het vir die langer vrae nie, want as hy nie vir my die werk gee nie, moet ek nog probeer om op een of ander manier my huidige werk behou (wat 20 minute ver is) maar wat my oor 10 minute verwag. lol.
Dinsdag en Woensdag (het ek verlof gehad) om 'n bietjie saam met my ma tyd te spandeer. Ons het die Melbourne Cup ('n Perdewedren wat die hele Australië tot stilstand bring en waarvoor daar spesiaal 'n vakansiedag in die staat Victoria, waarvan Melbourne die hoofstad is, is) heeltemal misgeloop. Ons was by KrispyKreme se 'doughnut' fabriek, die Pyrex factory store,
'Establishment 218' ('n groot slaghuis), IKEA....
 |
Binne IKEA; elke boks het 'n meubelstuk in. |
... waarna ons vir Jeanelle opgelaai het en toe na 'n opvoering by die Opera Huis gaan kyk en die aand met koffie en nagereg afgesluit by
Guillaume at bennelong (een van Sydney se spog restaurante binne in die Sydney Opera Huis).
Woensdag het ons die Sydney vismark besoek en salmon gekoop om die aand te braai.
 |
Sydney Fish Market |
Donderdag moes Jeanelle vir 'n 2 ure glukose toets gaan, waarvoor sy vastend moes bly voordat hulle vir haar 'n soet oplossing gegee het om te drink en toe 3 keer, op die uur, bloed moes trek om haar glukosevlakke te toets. Wenresep vir naar word, maar gelukkig het sy nie, want dan moes die toets oor gedoen word. Om daarvan te help vergeet, het sy en ma daarna vir 'pedicures' gegaan. Net voor ma gedink het die week was besig genoeg, was hulle ook Vrydag na Featherdale natuurpark, om na die ongewone diere wat in Australië te vinde is, te kyk.
Al die plekke waar ek vir onderhoude was het gesê dat hulle my teen Vrydag sou laat weet, maar ek het niks gehoor nie.
Dit is ma Annalie se laaste naweek van die besoek en ons wil bietjie die naweek uit die stad kom, met 'n besoek aan die Hunter Vallei wynlande.
Ons het ook ons kersboom opgeslaan!
Liefde en Groete
Johann