Jeanelle moes Dinsdag oggend vroeg by die lughawe wees(die naarheid het bietjie baie geraak toe ons in die tonnel in ry, al het ek op my mooiste probeer bestuur. Ek dink ek het 'n chauffeur vir die volgende paar maande. Ons het sommer 'n 'lounge'-ontbyt ingewerk voor ek werk toe is en sy na Adelaide. Dit was 'n harde week om enige iemand in Sydney vir 'n afspraak te kry, want as gevolg van eerskomende Maandag se vakansiedag (the Queen's Birthday, 11 Junie) is almal in vakansie-'mode' gewees. Boonop het daar die middag 'n 90km/h wind in Sydney begin waai met 'n reënbui. Die reën het van oral gekom en my groot sambreel het nie in die wind gewerk nie.
Die vroeë oggend het sy tol geëis en ek het na my na-ure 'training'-sessie (gelukkig al effe droog) 'n paar kwotasies vir Woensdag oggend gelos. Woensdagoggend was koud en nat en dit het maar gesukkel, ek is net 15 minute vroeër werk toe. Ongelukkig was die 'Database refresh' (wat ek gedink het net 'n 'af-en-aan-skakel' van die hoofraamrekenaar sou wees), 'n 'training'-sessie. 'Surprize!'
En daar is my hele skedule opgeneuk. In my beplanning sou ek gou die kwotasie doen en dan 8:45 die trein vat na die middestad waar ek 10 minute sou hê om by my 9:30 afspraak te kom.
In werklikheid was die kwotasie 9:00 net klaar en ek besluit toe om halfpad te ry en dan die trein net te vat oor die brug, want daar is nie parkering in die stad nie. Ek het gelukkig die vorige dag gesien dat parkering onder die stasie vir een uur gratis is as jy $5 in die sentrum spandeur en ek is juis lus vir 'n koffie. (Bargain)
Nadat ek vir 10 minute parkering soek, kom ek agter my parkeerkaartjie is weg en dit vat 'n vêrdere 10 minute om die kaartjie te kry. Die kliënt was 'n bietjie haastig toe ek 9:50 daar opdaag (natuurlik het ek vooraf gebel en gesê ek gaan laat wees, so 'no hard feelings'), nietemin was dit eerste 'sale' van die maand. Die papierwerk het my so bietjie terug gehou. Ek het nog 'n vergadering in die stad gehad, maar moes eers my kar gaan skuif. Die man by die koffiewinkel het gesê ek sal steeds 'n uur gratis parkering kry al parkeer ek langer daar, so 10:40 kry ek 'n koffie en croissant vir $6.50, voordat ek op en af by die hysbak vir my kar soek. 10:55 kom ek by die betaal hokkie. 1,5 ure, min 1 uur gratis = $20!!?! lol. Dis die laaste keer dat ek daar parkeer!
Ek parkeer toe 6 blokke verder en stap weer stasie toe vir die trein na die volgende vergadering.
Dit het vir my gevoel of ek twee weke gelede laas 'n naweek gehad het, so die naweek was baie welkom.
Ons het onsself bitter rustig gedra. Ons was Saterdag aand na Vivid Sydney, met kunswerke van lig gemaak wat die stad ophelder. Ongelukkig het ons die laaste Saterdag van Vivid Sydney gekies en daar was duisende mense wat die koue trotseer het saam met ons, maar dit was baie mooi.
Daar was duisende mense! |
3D was die tema van hierdie jaar se Vivid Sydney |
Ma-Gerda is as een van die top 4 finaliste in die Huletts 2012 Koeksister Kompetisie. Die wenner sal by die Innibos Kunstefees tussen 27-30 Junie bepaal word, so gaan ondersteun gerus!
Op die baba-front: Ons gaan Woensdag vir ons eerste 'scan'. Ons sal nog terug raporteer.
Die naweek was so bietjie langer vir ons, agv die vakansie dag. Ons het 05:45 opgestaan vir 'n skype wat ek heeltemal ge'mis-calculate' het. Na Croissants vir ontbyt het ons weer in die bed geklim en verder geslaap tot 10:00. Ek dink ons is nou uitgerus. Die koue en reën gaan voort...
Liefde en Groete
Johann
No comments:
Post a Comment