Sunday, 23 October 2011

Kom skat, ons trek II

Ek is nie 'n week vroeg nie, die vorige blog was 'n week laat, agv. die belaglike week.
Ons het verlede Vrydag tot 0:30 gepak. Na 'n kort laaste slapie in ons ou woonstel was ons vroeg weer op om yskas uit te pak, ens. Die ketel was klaar gepak, gelukkig is daar 'n plekkie op in die straat met vars Croussante en Pan au Chocks. Die 2 outjies en hulle trokkie (darm nie die op die foto nie) het klokslag 07:00 daar aangekom. Ek dink nie hulle het verwag dat alles, selfs die klein goetertjies in sakke en bokse verpak sou wees nie. Dink dit sou ons 2 weke gevat het om alles te trek. Hulle het 4.5 ure getrek, toe is alles in die nuwe plek. Hulle was sopnat gesweet, maar met hulle 'Colgate smiles' en "we've got it all this morning" energie, is hulle daar weg, oppad na hulle volgende trek.
Daar was nie veel tyd vir skoonmaak voor die tyd nie, so daar was 'n klompie rond skuif betrokke. Die vloere was maar net die begin. Ek deel 'n Before en After foto met julle.

Let wel dat hierdie vloer nie homself geskrop het nie. Ek het met 'n dek-borsel aan 'n stok, een vir een teel en 'grout' moes skrop. Ons het soos goedkoop arbeiders gewerk. Ek het 'n $200 vloer polisher gekoop met die hoop dat die borsels sou help met die skrop, maar dit was 'n speelding. Dankie tog vir die Australianse verbruikerswet wat sê dat jy enige iets mag omruil binne 14 dae as dit nie vir jou werk soos jy gedink het dit sal nie. Ek verwag nie om gou weer afslag te kry by daardie verkoopsman nie.
Dit het ongeveer 4 ure se skrop geneem voordat ons besluit het dat daar 'n makliker manier moet wees om die sement weer wit te kry. Mr.Muscle was uiteindelik tot die redding. Ewe skielik kon ons met 5 trekke van die besem, net soveel vuilheid af kry soos 10minute se geskrop. Ek was redelik ontsteld oor ek eers na 4 ure se skrop daarvan uitgevind het. Dit was ook nie so 'n goeie idee om kaalvoed en sonder handskoene te werk nie.
Dit het baie room gekos om ons hande en voete weer reg te kry na al die 'heavy duty' seep, maar teen Dinsdag was die swellig darm minder.
Vir die res van die week het ons soms moes kies tussen slaap en nes skrop. Ek het perongeluk ons, 75cm deersnee, ronde, sfeer, glas, visbak gebreek, so die vissies is nou in 'n baie kleiner bakkie in die kombuis. Al die lego pas ook nie meer in die bak nie, die fake plant moet nou maar doen.

Teen Donderdag het ons sterk verlang na, die grillerige, gedeelde wasgoed geriewe van die vorige woonstel. Winkels is net van 9 tot 5 oop en as jy van 8:30 tot 17:30 werk is dit moeilik om wasmasjiene te koop. Donderdae is winkels darm tot 21:00 oop, maar ek was reeds op 'n pers hemp en pers das met donker blou sokkies by my swart pak. Ek het sommer gou in my middagete gereel dat die winkel daardie aand nog ons wasmasjien en droër moes aflaai.
Teen middernag, het ek weer wit hemde en swart sokkies gehad wat skoon en droog was.

Die woonstel is noi redelik skoon. Dit lyk al of hier mense woon. Dis nog nie perfek nie; tv antenna werk nie, hier en daar is nog 'n spinnerak, 'n paar fotos hang nog nie, maar ons werk daaraan.

Hierdie naweek moet daar bed gekoop word, sodat ons eerste gas, hierdie week, plek het om te slaap. Ons soek ook 'n braaier, want ons het amper verlede Saterdag, met die rugby, in ons eie spoeg verdrink toe almal om ons braai. Ek weet nie hoe ons so lank sonder 'n braaier/stoep kon oorleef nie. Sit maar 'n ekstra tjoppie op die rooster hierdie naweek en dink aan ons.

Liefde en groete,

Johann

Friday, 21 October 2011

Kom skat ons trek I

Verlede Saterdag was huis soek Saterdag. Ons was 07:00 al op. Eerste apartment was al 09:00 op skou. Dit was 1 van 12, of so iets. Dis nou die wat beplan was, die ander het ons sommer raak geloop of gesien terwyl ons gewag het. Ons was vasbeslote om die regte plek te kry, maar na die eerste 4 plekke was ek reg om in die ou woonstel te bly. Ons moes by tye na verskillende woonstelle gaan kyk want hulle was gelyk op skou.

By ander tye, was ons besig om tussen woonstelle te jaag, met 3 bestuurders in die kar; ek, die GPS en Jeanelle. Die probleme kom in wanneer ek nie na die GPS luister nie. Gelukkig het die tweede helfte van ons dag, 12:00 tot 15:30 beter verloop en ons het 3 plekke gehad waarvoor ons aansoek gedoen het.

Verlede Vrydag het een van die ouer Sales ouens by my werk gesê dat die baas al iemand ge'fire' het net oor hy laat gekom het vir die Maandag oggend 08:30 Sales meeting. Maandag oggend is ons kar vir die eerste keer gediens, net 'n check up. Die ekstra uur wat ek gedink het voldoende sou wees is gou verby. Eers vat die GPS my op 'n joy-ride, nadat hy my verloor het. Ek moes eers langs die besigste snelweg, oppad lughawe toe, stop om die GPS aan en af te sit. Toe is ek weer oppad, op die ompad. By Toyota aangekom was ek natuurlik 15minute laat vir my diens waarna die nuwe trainee my probeer in-book het op die vreemde sisteem. 08:00 het hulle geoffer om vir my 'n taxi te bespreek. 15 Minute later het ek nog gewag. Die kantoor was net 1km in die straat af. 08:30 was ek besig om 'n kredietkaart te soek, waarvoor ek nog die pin onthou, om die taxi te betaal.
Ek het nog my werk...

Die agent het eers teen Dinsdag oggend laat weet ons het wel ons eerste keuse plekkie gekry. Trek mense"Best movers" is gereël. Ons vat nie weer kanse met hernias en bokse optel nie. Hulle het Vrydag middag gebel om te hoor of hulle 07:00 kan begin trek.

Liefde en groete,

Johann

Friday, 7 October 2011

Nuuskierigheid, Afskeid en Kort wekie

Ek voel eintlik skuldig as ek sê "ek is moeg", omdat ek net 'n 4 dag week gehad het. (Dit was Maandag 3 Oktober, Labour Day in Australië, 'n vakansie dag en hoewel ek tegnies werkloos was, kry ek by my nuwe werk vakansie dae af).
Boonop het my naweek ook al begin, toe meeste van julle nog oppad werk toe was. (Verlede naweek het ons "daylight saving" begin, daarom is ons nou 9ure voor Suid Afrika en om 8:30 SA-tyd is dit dus al 17:30 in Sydney).
Die daylight savings maak dat ons nou weer in die donker opstaan, maar 20:30 nog in die buite lug kan sit en lees.

 Verlede naweek het ons hoofsaaklik, vir my, werksklere gekoop. Natuurlik nou op 'uitverkoping' teen 2 maal die prys wat dit 3 maande gelede was. Op dieselfde dag was ons ook by DFO, 'n "factory outlet" waar alles op 70% afslag is, maar nogsteets, na afslag, dieselfde kos as in die groot winkelsentrums in Sydney. Weet nie wat hierdie winkels se definisie van "Special" en "Sale" is nie.

Sondag was ons eers by ons Kerk-afsluitingsdiens gehou. Dit was nag. Sommer 'n doop en nagmaal en een lang uitgerekte 1.5ure diens in een, waarin al die kinders gelyk begin huil het, toe ek uit die bybel moes voorlees. Teen daardie tyd, het die vrou wat vir 2 minute gesukkel het, darm haar kind se pakkie tjips oop gekry. Die man voor my met die 3 kinders het heeltyd sy donkerbril op sy kop gehad. Na die diens het ek gedink ek moet ekstra geld in die kollekte sit, omdat ek darm ook 'n sirkus vertoning addisioneel gekry het. Afskeid was natuurlik nog 30 minute se na-erediens-tee by die tyd gevoeg.

Die res van die Sondag. (Dit wat daarvan oor was) het ons bietjie "home shopping" gaan doen.
Dit lyk nou of hier mense bly. En ons het 2 visse gekry.... lang storie.

Eerste paar dae by die werk was heel lekker. Ek het die dag voor die tyd gevoel soos iemand wat vir die eerste dag skool toe gaan. Die gemerde sokkies het heel goed gewerk, behalwe dat ek elke dag deur al die sokkies moes soek vir die degte paar, omdat dit die weeksdae se name op het.
Met die inval was daar 'n sales-meeting. Het oorspronklik gevoel of ek tussen 'n klomp veg-honde sit, terwyl die baas almal aan gemoedig het om verkope te verhoog voor die stiller kers-seisoen. Verder het ek baie geleer oor die produkte, bietjie bygesit by die Telle-sales span, (ek het respek vir wat hulle daagliks doen) en ook, saam met een van die reps, kliënte gaan sien. Dit lyk nogals na 'n belowende werk. Ek het al 4 dae oorleef.

Ons het ongelukkig hierdie week uitgevind dat ons nou eers 26 November kan intrek in die nuwe plek. Na ons daarheen gery het om weer te kyk, was ons nie so seker of dit die wag werd is nie. Ons gaan môre, gou weer, 'n string plekke kyk. Hierdie keer sal ons hard probeer om nie weer dadelik op die eerste plek verlief te raak nie.
Jeanelle was gou Donderdag in Adelaide en gelukkig is Quantas se strike uitgestel, so sy kon darem betyds huistoe kom.
 Sterkte aan afstand-weduwee Bothma, ons sal mooi na jou man kyk as hy later (na die rugby) hier langs kom. Ons wens hy het jou ook saam gebring. Mr. Le Roux, wat maak jy alleen in die Karoo? Lafarge, ek is nog besig om seker te maak dat jou verjaarsdag net een keer per jaar op ons kalender is, maar hoop dis 'n vrugbare jaar.

 PS. Uit 'n ander venster: Die woonstelle hier in North Sydney is so naby aan mekaar, dat ek net my kombuis venster kan oop maak en suiker by die buurvrou in die blok langsaan kan leen. (Of sommer myself kan help as sy dit op haar kombuiskas los). Onder my buurvrou, wat ook op die tweede verdieping woon, woon daar 'n ou tannie. Hierdie tannie staan elke oggend 5uur op. Sy droog af met haar badkamervensters wa-wyd oop. As ek die ketel by die kraan gaan vol maak, my oë fokus gelukkig nog nie, dan loer sy gewoonlik uit. Uit en op, na my 2de verdieping, want my kombuislig vang seker haar oog. Ek weet nie of ek moet bloos, waai, om verskoning vra of in die aand reeds die ketel moet vol water maak nie. (Ek het altyd gedink gordyne is sodat mense nie kan in sien nie, maar ek sal nogals nie omgee om gordyne aan ons kombuisvenster te hê nie.) Nadat sy droog is, kan jy haar gewoonlik van so kwart voor ses, tussen die twee woonstelblokke se ingange kry, besig om haar hare uit te borsel. Ja, sy weet alles van almal, in altwee komplekse. Jou hond kan nie hier op die gras bol, sonder dat sy dit weet nie. Ek heg 'n foto aan van haar vensters, nadat sy my gewaar het. (Anders was hierdie nou dalk 'n porn site, lol.)

Thursday, 6 October 2011

Steve Jobs 1955-2011


Hierdie is nie my weeklikse Blog nie. Dis meer 'n tipe lofrede.
Die volgende 'link' het onder my aandag gekom na Steve Jobs gister oorlede is. Dis 'n toespraak wat hy in 2005 by Stanford Universiteit gelewer het.

'n Uittreksel vir die wat nie nou dadelik tyd het om alles te lees nie: (Onthou dan om die res te kom lees/luister/kyk wanneer jy meer tyd het. Dis nogals inspererend.)

 "If you live each day as if it was your last, someday you'll most certainly be right."..."Remembering that I'll be dead soon is the most important tool I've ever encountered to help me make the big choices in life. Because almost everything — all external expectations, all pride, all fear of embarrassment or failure - these things just fall away in the face of death, leaving only what is truly important."


Hier is die volledige Video vir dìe wat wil kyk/luister en die Geskrewe toespraak vir dìe wat wil lees.

Dit pas ook nogals mooi in by die onlangse "Little Miss Mentor" blog inskrywing oor "Wat is geluk" en die "white picket fence".

Liefde en Groete

Johann

Saturday, 1 October 2011

Sokkies, mode en Opera

Ek wil net eers om verskoning vra vir hierdie laat inskrywing. Ek het, na hierdie dol week, 'bloggers-block' gehad, maar sal bietjie my sokkies optrek. Gepraat van sokkies... wanneer mens elke dag 'n denim werk toe dra, en meer so wanneer jy meer as een paar van 'n sekere kleur sokkie in die was het, raak dit met elke was moeiliker om pare bymekaar te kry. Veral wanneer dit net die hoeveelheid wasse is wat sommige sokkies se kleur variasie veroorsaak. Dit help ook as daar nie na 'n was 3 onpaar sokkies oor bly nie. Vir my is dit nou, gelukkig, vir eers, die einde van hierdie probleem.

Blou Sokkies
Galaxy Pants
Dit was Vrydag my laaste dag by my ou werk. Op die eerste dag, klap al die huidige werknemers hande, wanneer nuwe werknemers vir die eerste keer deur die winkel na agter loop. Let wel dat daar tot 50 mense op 'n keer aan diens kan wees en dat kliënte(ook altyd 20+) gewoonlik heel verskrik rond staan. So het ek ook die hele winkel tot stilstand gebring met my 'departure'. Ek neem afskeid van 'n baie diverse groep talentvolle, en in baie gevalle onderbetaalde mense en neem saam met my vele lesse, wyshede en gelukkige tye.

Ek deel ook 'n foto wat ek met my nuwe "Top Spy" app geneem het, terwyl ek nog daar gewerk het. (Die App laat jou toe om fotos te neem sonder dat dit dit lyk of jy fotos neem. Hopelik kan ek nou baie meer met julle deel.) Die foto is van een van die meisies wat by die winkel werk se 'intergalactic galaxy tights'. Dit staan nogals uit. Skoene pas nie daarby nie, maar dit raak mens gou gewoond hier, waar mense so bietjie modieus uitgedaagd (challenged) is. Sy hoef darem nie soos ek te sukkel met onpaar sokkies nie. En ja, hulle moet dit eintlik net in S en XS grotes verkoop.

Ons nuwe kar ry baie lekker, of so sê Jeanelle. Ek kon nog net 20km vêr bestuur, voordat sy hierdie week na Newcastle en Wollongong toe is, 2 stede, 200km noord en 100km suid van Sydney.

Ons nuwe verhurings agent het laat weet dat ons nou eers 20 November kan intrek, omdat die sement-kanker erger is as wat hulle oorspronklik gedink het. Joy. Nou staan ons maar bakhand en vra of ons nog so 5 weke langer in die huidige woonstel kan bly. Natuurlik teen die verhoogde prys, waarvoor hulle na 3 weke se skou, nog nie huurders kon kry nie. Ons bure is seker nou al net so moeg vir hierdie weeklikse 07:00 Saterdag oggend stofsuig soos ek. 

Ons planne vir die naweek: Na huis skoonmaak, gaan ons eers fliek. Crazy Stupid Love, vir bietjie mode inspirasie. Daarna gaan ons werksklere koop.
Stuur maar gerus vir Jeanelle al julle simpatie boodskappe. Ja, ek moet nuwe skoene ook kry. :-)

Na al die afskeid, slegte nuus en alleen aande van hierdie week, het ons dit darem, op 'n hoë noot, afgesluit met 'n Placido Domingo konsert. 'n Ware belewenis, so op die 50ste herdinking van die man se opera loopbaan.
Placido Domingo and Katherine Jenkins
Baie geluk weereens aan Wian en Leoné wat Sondag vir Simoné doop. Ons harte is by julle. (Wens ons kon die dag met julle deel. Weet net dat julle die heeltyd in ons gedagtes is.)

Amper vergeet ek dat die Dopper kerk ook môre vir ons afskeid hou, omdat ons mos, vir alle praktiese doeleindes, hierdie week trek.

Ek is so bietjie benoud maar opgewonde oor wat hierdie week en my nuwe werk alles mag inhou. 

Hoop julle het 'n lekker naweek en week wat voorlê. 

Liefde en Groete,

Johann