Ek wil net eers om verskoning vra vir hierdie laat inskrywing. Ek het, na hierdie dol week, 'bloggers-block' gehad, maar sal bietjie my sokkies optrek. Gepraat van sokkies... wanneer mens elke dag 'n denim werk toe dra, en meer so wanneer jy meer as een paar van 'n sekere kleur sokkie in die was het, raak dit met elke was moeiliker om pare bymekaar te kry. Veral wanneer dit net die hoeveelheid wasse is wat sommige sokkies se kleur variasie veroorsaak. Dit help ook as daar nie na 'n was 3 onpaar sokkies oor bly nie. Vir my is dit nou, gelukkig, vir eers, die einde van hierdie probleem.
![]() |
Blou Sokkies |
![]() |
Galaxy Pants |
Dit was Vrydag my laaste dag by my ou werk. Op die eerste dag, klap al die huidige werknemers hande, wanneer nuwe werknemers vir die eerste keer deur die winkel na agter loop. Let wel dat daar tot 50 mense op 'n keer aan diens kan wees en dat kliënte(ook altyd 20+) gewoonlik heel verskrik rond staan. So het ek ook die hele winkel tot stilstand gebring met my 'departure'. Ek neem afskeid van 'n baie diverse groep talentvolle, en in baie gevalle onderbetaalde mense en neem saam met my vele lesse, wyshede en gelukkige tye.
Ek deel ook 'n foto wat ek met my nuwe "Top Spy" app geneem het, terwyl ek nog daar gewerk het. (Die App laat jou toe om fotos te neem sonder dat dit dit lyk of jy fotos neem. Hopelik kan ek nou baie meer met julle deel.) Die foto is van een van die meisies wat by die winkel werk se 'intergalactic galaxy tights'. Dit staan nogals uit. Skoene pas nie daarby nie, maar dit raak mens gou gewoond hier, waar mense so bietjie modieus uitgedaagd (challenged) is. Sy hoef darem nie soos ek te sukkel met onpaar sokkies nie. En ja, hulle moet dit eintlik net in S en XS grotes verkoop.
Ons nuwe kar ry baie lekker, of so sê Jeanelle. Ek kon nog net 20km vêr bestuur, voordat sy hierdie week na Newcastle en Wollongong toe is, 2 stede, 200km noord en 100km suid van Sydney.
Ons nuwe verhurings agent het laat weet dat ons nou eers 20 November kan intrek, omdat die sement-kanker erger is as wat hulle oorspronklik gedink het. Joy. Nou staan ons maar bakhand en vra of ons nog so 5 weke langer in die huidige woonstel kan bly. Natuurlik teen die verhoogde prys, waarvoor hulle na 3 weke se skou, nog nie huurders kon kry nie. Ons bure is seker nou al net so moeg vir hierdie weeklikse 07:00 Saterdag oggend stofsuig soos ek.
Ons planne vir die naweek: Na huis skoonmaak, gaan ons eers fliek. Crazy Stupid Love, vir bietjie mode inspirasie. Daarna gaan ons werksklere koop.
Stuur maar gerus vir Jeanelle al julle simpatie boodskappe. Ja, ek moet nuwe skoene ook kry. :-)
Na al die afskeid, slegte nuus en alleen aande van hierdie week, het ons dit darem, op 'n hoë noot, afgesluit met 'n Placido Domingo konsert. 'n Ware belewenis, so op die 50ste herdinking van die man se opera loopbaan.
![]() |
Placido Domingo and Katherine Jenkins |
Baie geluk weereens aan Wian en Leoné wat Sondag vir Simoné doop. Ons harte is by julle. (Wens ons kon die dag met julle deel. Weet net dat julle die heeltyd in ons gedagtes is.)
Amper vergeet ek dat die Dopper kerk ook môre vir ons afskeid hou, omdat ons mos, vir alle praktiese doeleindes, hierdie week trek.
Ek is so bietjie benoud maar opgewonde oor wat hierdie week en my nuwe werk alles mag inhou.
Hoop julle het 'n lekker naweek en week wat voorlê.
Liefde en Groete,
Johann
No comments:
Post a Comment