Daar is 'n paar goed wat net te verlore sal raak as ek dit nie neer ink, of sê maar tik, nie;
Verlede naweek het ons alle obligations afgesit en tuis gebly. Dit was tyd vir 'Potty Training'.
Baie raad van alle ouers, boeke en websites. Ons vat toe alles wat sin maak van al die bronne en begin. Niks bou jou water op soos 'n vroeg oggend swemles nie. Sondag aand was ons hande in ons hare. Het ons die hele naweek gemors? Of dalk verkeerd benader? Begin ons volgende naweek voor?
Ons laai hom Maandag by die skool af en wens vir die juffrou "Good Luck" toe. Toe ons hom die middag gaan haal, het hy glo, die hele dag, net een glips gehad. Van Dinsdag af is hy 'ge-train'?!
Vanoggend kom hy om die bed se hoek met pak maternity pads uit ma se hospitaal tassie en sê:"Mamma, boek lees". (Hierdie storie is nie vir jou ore nie my kind.)
Mannetjie is nou in die sing ding in, met 'Oupa Anton het 'n plaas' aan die top van die versoeklys. Dit het sy ouers 'n ruk gevat om 'vielom' te vertaal, maar 'Wheels on the Bus' en 'Baa Baa Black Sheep' maak die res van ons top drie uit.
Na eet en bad is dit gewoonlik so 18:45 en net mooi tyd vir die slaap roetine; die hasie- (Peter Rabbit) en die skapie (Shaun the Sheep) -stories, nag sê vir mamma en pappa, storieboek lees en bid, wanneer ons net mooi lê, dan wil ons piepie?! en begin die storie van voor.
Bid is die nuutste byvoegging maar iewers het iemand vir hom gewys om sy handjies bymekaar te slaan en dan te roep:"Snap". (Onthou die kleinste glimlag en jy begin weer voor.) Ons bid veral vir koekies, en moo's en sodat liewe Jesus ons sal soet maak en vir koekies en dat die moegheid ons sal oorval en koekies. Snap. Amen.