Dit was 'n snaakse sensasie Vrydag. Die einde van die week, maar die begin van die nuwe maand. Dis duidelik dat almal by die werk 'n bietjie gatvol is. So ook die seun wat saam met my werk en Vrydagmiddag dit byna verloor het oor die foon omdat hy vir 'n kliënt iets probeer verduidelik en sy praat net bo-oor hom, terwyl hy al hoe harder vra dat sy wag, stop en teruggaan. Hy het nie besef dat sy foon op mute is nie. Daar is ook 'n rede waarom 'n mens verlof kry.
Ons was Saterdag saam met vriende (K&L) vir ontbyt by Sonoma Bakkery, 'n koffiewinkel binne 'n industriële bakkery. Na ontbyt het ons/iemand besluit dat ons na 'n groot slaghuis (soos Helga's in Pretoria) waar restaurante hulle vleis koop, sou stap. Dit was 1.5km vêr. (Dis hoeka dieselfde vriende wat vroeër die jaar saam met ons in Brisbane so baie gestap het. Jy sou ons nou nie as mense beskryf wat baie stap as jy ons sien nie.) Daar kom ons toe op nog 'n bakkery af, Grandma's Little Bakery, en stop toe sommer weer vir 'brunch'. By laasgenoemde word alles in die bakkery gemaak, tot die roomys. (Natuurlik kan 'n mens roomys vir 'brunch' eet.) Die pad terug kar toe (weer 1.5km) was bietjie langer, as gevolg van die vleis wat ons saamgedra het. (Iemand het nie hier gedink nie, of sou ek sê niemand.)
Ek was so bietjie verbaas oor die dik sening wat ook in die middel van die stuk vleis geloop het. Dis die grootste sening wat ek nog gesien het. Dit hou seker 'n bees se voor- en agter-kante aanmekaar.
Na'n kort aandjie tuis moes Jeanelle vroeg Sondagoggend lughawe toe gaan vir 'n 3.5 dag besoek aan Auckland en Hamilton in New Zealand.
Die begin van my week het ek myself hoofsaaklik jammer gekry omdat ek (tydelik) 'n enkel ouer was. Ek het nie meer 'n pak klere wat nie weet-bix op het nie en daar was geen tyd vir stilsit nie. Dinsdag ry ek om vir Divvie by die skool af te laai en op 'n tyd besef ek dat almal stadiger ry, behalwe ek natuurlik. Sal nog sien of ek binne die grasie-spoed van die verkeerskamera was. Dit was blykbaar my dag vir bots met die gereg, want ek het later ook 'n parkeerkaartjie vir $101 gekry, al het ek elke 2 ure gaan kyk dat die verkeersbeampte nie met bordkryt 'n tyd op my wiel geskryf het nie. (Dis een van hulle maniere om te sien wie parkeer te lank in die gratis area. Die ander manier is met 'n kamera wat ek, tot nou toe, nog gedink het net 'n mite is.)
Divvie was redelik moeg gespeel in die middae en hulle gee ook nie regtig vir hom 'n middagslapie by die skool nie, met die gevolg dat hy te moeg is in die middag om te eet. Of so het ek gedink, totdat ek een middag vir hom 'n ekstra 30 minute middagslapie gegee het. Laas toe ek iemand so bevoeterd na 'n middagslapie gesien het, was toe ek sy ma een middag na 'n halfuur slapie wakker gemaak het.
Na die middagslapie het hy instede van 18:30, tot 20:45 wakker gebly. Die volgende middag het ek agter gekom dat dit nie moegheid is nie, maar hierdie week se puree wat die probleem was.
Ek het batterye in 'n speelding gesit en gou agter gekom dat Divvie nie veel gepla is met die liggies en musiek nie, maar meer hou van die wielletjie wat draai as hy dit kap. Ek onthou toe 'n 'activity board' wat nou nog in my ma se kas is (net ongelukkig 12000km vêr). 'n Vinnige "Wanted"- advertensie later op die "North Shore Buy Sell and Trade" Facebookblad en ek het een vir $4.
Dis toe juis die eintste speelding wat Divvie so opgewonde het die volgende oggend dat hy sommer dadelik op sy hande en knieë kom en soos 'n wurmpie nader skuif, voordat hy een knie voor die ander sit en begin kruip.
Hier is 'n paar van die 'blooper' videos, soos ek probeer het om 'n kruip op kamera vas te vang.
Dis die begin van die einde. Ek kyk om my rond en raak skielik bewus van al die double addaptors, boeke, ornamentjies en alles wat kniehoogte is. Dit is ewe skielik nie meer 'n een-mens-werk om hom op te pas nie. Ek gaan net gou skoene in die kamer haal en toe ek terug is in die leef vertrek, het Divvie klaar 'n bordspel en twee boeke uit die boekrak gehaal. Gelukkig is Jeanelle nou ook weer terug!
Ek het ook besef dat; as jy iemand se pa/ouer is, is jy ook per implikasie sy rolmodel en sy held en daar is geen tyd vir helde om hulself jammer te kry nie! (Daar is geen rede om nie elke oggend uit die bed te spring nie!)
Baie Liefde en Groete
Johann