Thursday, 19 February 2015

Uit die bloute

Daar is 'n paar goed wat net te verlore sal raak as ek dit nie neer ink, of sê maar tik, nie;

Verlede naweek het ons alle obligations afgesit en tuis gebly. Dit was tyd vir 'Potty Training'.

Baie raad van alle ouers, boeke en websites. Ons vat toe alles wat sin maak van al die bronne en begin. Niks bou jou water op soos 'n vroeg oggend swemles nie. Sondag aand was ons hande in ons hare. Het ons die hele naweek gemors? Of dalk verkeerd benader? Begin ons volgende naweek voor?
Ons laai hom Maandag by die skool af en wens vir die juffrou "Good Luck" toe. Toe ons hom die middag gaan haal, het hy glo, die hele dag, net een glips gehad. Van Dinsdag af is hy 'ge-train'?!

Vanoggend kom hy om die bed se hoek met pak maternity pads uit ma se hospitaal tassie en sê:"Mamma, boek lees". (Hierdie storie is nie vir jou ore nie my kind.)

Mannetjie is nou in die sing ding in, met 'Oupa Anton het 'n plaas' aan die top van die versoeklys. Dit het sy ouers 'n ruk gevat om 'vielom' te vertaal, maar 'Wheels on the Bus' en 'Baa Baa Black Sheep' maak die res van ons top drie uit.

Na eet en bad is dit gewoonlik so 18:45 en net mooi tyd vir die slaap roetine; die hasie- (Peter Rabbit) en die skapie (Shaun the Sheep) -stories, nag sê vir mamma en pappa, storieboek lees en bid, wanneer ons net mooi lê, dan wil ons piepie?! en begin die storie van voor.

Bid is die nuutste byvoegging maar iewers het iemand vir hom gewys om sy handjies bymekaar te slaan en dan te roep:"Snap". (Onthou die kleinste glimlag en jy begin weer voor.) Ons bid veral vir koekies, en moo's en sodat liewe Jesus ons sal soet maak en vir koekies en dat die moegheid ons sal oorval en koekies. Snap. Amen.

Thursday, 9 January 2014

Voorspoedige 2014!

(3 - 9 Januarie)

Voorspoedige 2014! Ek hoop dat die jaar baie voorspoed en geluk vir julle sal inhou.

Die vakansie was heerlik! Ons het die naweek vir oulaas na Watsons Bay gegaan met die 'ferry' vir bietjie vis en skyfies op die strand en Divvie het in en uit die seewater gekruip op die klein strandjie sonder golwe. Hy het baie gegroei en geleer in die twee weke met sy ouers. Hy het nou al 4 tande bo en twee onder. Weet nie vir wie was dit die moeilikste om hom weer skooltoe te vat nie.
Divvie op die strand in Watson's Bay
Na 'n heerlike rustige 2 weke vakansie, by die huis,(kortste twee weke van my lewe) met baie son, strand en kos, moes ons ook weer terugkeer na die rotresies. 
Jeanelle het Maandag by 'n nuwe werk begin waar dit baie goed gaan, die atmosfeer in die kantoor is beter as de vorige slawetrein en dit lyk op die oog af of almal tenminste lekker werk en of die maatskappy in hulle mense belê en omgee vir hulle welstand. Dis so 5km van die huis af en Jeanelle sal binnekort die pad met haar nuwe fiets aandurf, ons moet net eers 'n toetslopie doen oor die naweek. 
Net toe ek moed opgee, na 5 e-posse en 2 oproepe sedert 25 November en nog geen aanduiding nie, kry ek uit die bloute 'n epos wat sê dat ek toelating ontvang het om hierdie jaar te mag Honneurs swot. Vandat die registrasiegelde betaal het, is ek sommer benoud. Maar wie is bang! 
Divvie het 'n bietjie van 'n slegte gewoonte ontwikkel hierdie week; om 15 minute voor my wekker wakker te word en sy bottel te wil hê. Dis alles goed en wel, ons is/was uitgerus na die vakansietjie, maar ek het besef dat ons stadig maar seker weer aan die reserwes begin gebruik, toe ek vanoggend die ketel in die mikrogolf probeer sit het.

Baie Liefde en Groete uit Sydney
Johann

Thursday, 7 November 2013

Amper daar

(1 November - 7 November)

Dit was 'n snaakse sensasie Vrydag. Die einde van die week, maar die begin van die nuwe maand. Dis duidelik dat almal by die werk 'n bietjie gatvol is. So ook die seun wat saam met my werk en Vrydagmiddag dit byna verloor het oor die foon omdat hy vir 'n kliënt iets probeer verduidelik en sy praat net bo-oor hom, terwyl hy al hoe harder vra dat sy wag, stop en teruggaan. Hy het nie besef dat sy foon op mute is nie. Daar is ook 'n rede waarom 'n mens verlof kry.

Ons was Saterdag saam met vriende (K&L) vir ontbyt by Sonoma Bakkery, 'n koffiewinkel binne 'n industriële bakkery. Na ontbyt het ons/iemand besluit dat ons na 'n groot slaghuis (soos Helga's in Pretoria) waar restaurante hulle vleis koop, sou stap. Dit was 1.5km vêr. (Dis hoeka dieselfde vriende wat vroeër die jaar saam met ons in Brisbane so baie gestap het. Jy sou ons nou nie as mense beskryf wat baie stap as jy ons sien nie.) Daar kom ons toe op nog 'n bakkery af, Grandma's Little Bakery, en stop toe sommer weer vir 'brunch'. By laasgenoemde word alles in die bakkery gemaak, tot die roomys. (Natuurlik kan 'n mens roomys vir 'brunch' eet.) Die pad terug kar toe (weer 1.5km) was bietjie langer, as gevolg van die vleis wat ons saamgedra het. (Iemand het nie hier gedink nie, of sou ek sê niemand.)
Ek was so bietjie verbaas oor die dik sening wat ook in die middel van die stuk vleis geloop het. Dis die grootste sening wat ek nog gesien het. Dit hou seker 'n bees se voor- en agter-kante aanmekaar.

Na'n kort aandjie tuis moes Jeanelle vroeg Sondagoggend lughawe toe gaan vir 'n 3.5 dag besoek aan Auckland en Hamilton in New Zealand.

Die begin van my week het ek myself hoofsaaklik jammer gekry omdat ek (tydelik) 'n enkel ouer was. Ek het nie meer 'n pak klere wat nie weet-bix op het nie en daar was geen tyd vir stilsit nie. Dinsdag ry ek om vir Divvie by die skool af te laai en op 'n tyd besef ek dat almal stadiger ry, behalwe ek natuurlik. Sal nog sien of ek binne die grasie-spoed van die verkeerskamera was. Dit was blykbaar my dag vir bots met die gereg, want ek het later ook 'n parkeerkaartjie vir $101 gekry, al het ek elke 2 ure gaan kyk dat die verkeersbeampte nie met bordkryt 'n tyd op my wiel geskryf het nie. (Dis een van hulle maniere om te sien wie parkeer te lank in die gratis area. Die ander manier is met 'n kamera wat ek, tot nou toe, nog gedink het net 'n mite is.)

Divvie was redelik moeg gespeel in die middae en hulle gee ook nie regtig vir hom 'n middagslapie by die skool nie, met die gevolg dat hy te moeg is in die middag om te eet. Of so het ek gedink, totdat ek een middag vir hom 'n ekstra 30 minute middagslapie gegee het. Laas toe ek iemand so bevoeterd na 'n middagslapie gesien het, was toe ek sy ma een middag na 'n halfuur slapie wakker gemaak het.
Na die middagslapie het hy instede van 18:30, tot 20:45 wakker gebly. Die volgende middag het ek agter gekom dat dit nie moegheid is nie, maar hierdie week se puree wat die probleem was.

Ek het batterye in 'n speelding gesit en gou agter gekom dat Divvie nie veel gepla is met die liggies en musiek nie, maar meer hou van die wielletjie wat draai as hy dit kap. Ek onthou toe 'n 'activity board' wat nou nog in my ma se kas is (net ongelukkig 12000km vêr). 'n Vinnige "Wanted"- advertensie later op die "North Shore Buy Sell and Trade" Facebookblad en ek het een vir $4.
Dis toe juis die eintste speelding wat Divvie so opgewonde het die volgende oggend dat hy sommer dadelik op sy hande en knieë kom en soos 'n wurmpie nader skuif, voordat hy een knie voor die ander sit en begin kruip.

Hier is 'n paar van die 'blooper' videos, soos ek probeer het om 'n kruip op kamera vas te vang.



Dis die begin van die einde. Ek kyk om my rond en raak skielik bewus van al die double addaptors, boeke, ornamentjies en alles wat kniehoogte is. Dit is ewe skielik nie meer 'n een-mens-werk om hom op te pas nie. Ek gaan net gou skoene in die kamer haal en toe ek terug is in die leef vertrek, het Divvie klaar 'n bordspel en twee boeke uit die boekrak gehaal. Gelukkig is Jeanelle nou ook weer terug!

Ek het ook besef dat; as jy iemand se pa/ouer is, is jy ook per implikasie sy rolmodel en sy held en daar is geen tyd vir helde om hulself jammer te kry nie! (Daar is geen rede om nie elke oggend uit die bed te spring nie!)

Baie Liefde en Groete

Johann

Thursday, 31 October 2013

Hallowmas

(25-31 Oktober)

In die verlede is vergaderings gedurende die dag gehou en die hulp-oproepe is hanteer deur 'n ander departement of deur die antwoordmasjien, maar deesdae probeer hulle ononderbroke telefoon hulp verseker. As gevolg daarvan is ons tweeweeklikse vergadering om 7:00am op 'n Vrydagoggend. Dit klink redelik, behalwe vir die feit dat ek 04:30 moet opstaan om die 5:25 trein te kry om betyds te wees. Dit foeter 'n mens se hele dag op, om nie eers van Vrydagaand te praat nie.
Ja, dis die maan en 'n ster.

Maar wie is bang? Ons het nog Vrydagaand gou 'n fliek ingewerk, terwyl vriende (D&N) na Divvie gekyk het. Ons het meer gaan fliek oor die geleentheid daar was, eerder as om 'n spesifieke fliek te kyk, maar ons het 'About Time' vreeslik geniet. Ons wou nie die hele arm gryp as die pinkie aangebied word nie, so ons is reguit na die fliek terug om vir Divvie te haal en ons was so skuins na elf in die bed.
Daar was geen tyd vir slaap inhaal nie, want Saterdagoggend het ons 'n vroeë (08:30) ontbyt saam met vriende (C&E) gehad by 'Kitchen by Mike'. Ons het almal maar bietjie gesukkel om wakker te word. Ons het ook 'n uur lank gery om 'n storieboek vir Divvie op te laai vir $4. (Dit het oorspronklik na 'n winskopie gelyk.)

Divvie het Sondagoggend bietjie laat skrik toe hy net voor kerk 'n allergiese uitslag en toe-neus kry, maar na 'n bietjie TLC en slaap het dit vinnig opgeklaar.

Die week was lank. Baie lank. (So lank dat ek tyd gekry het om gou te blog. Al is dit net om te seê dat ons nog leef.) Ek was tot Dinsdag nog ontsteld oor Vrydag se vroeë oggend.  Kliënte het nog sterk deurgeloop en dit was die verkeerde nommer om te bel vir diegene wat oor die weer wou gesels. Antwoorde was direk. Wat is die probleem?...Sekerlik, ek epos vir jou die oplossing.

Teen Woensdag kon ek amper weer glimlag.

Vandag het Divviese se skool 'n halloween/'trick-or-treat fancy dress' by die skool gehad. Ons het die hele week gesoek vir idees. Die winkels het almal die vreeslikste bebloede kostuums gehad en goeters wat jou hare sal laat opstaan. (Daar is iets fout met die sê-ding!?) Net voordat ek moed opgee sien ek toe die oulikste kersfeespakkies. (Is dit dan nie die 'scary'ste ding as iemand by halloween as kersvader opdaag nie?)
Divvie se halloween pakkie.
As gevolg van ons visa wat deur 'n maatskappy geborg is, is ons effens tot ander se genade oorgelaat in Australië. As enige iets sou gebeur en Jeanelle verloor haar werk, het ons 90 dae gehad om terug te keer Suid Afrika toe. Dis nie die idiaal om met daardie swaard oor jou kop te werk nie. Ons het reeds in Julie aansoek gedoen vir ons PR (Permanent Residancy), maar toe Jeanelle Woensdag bel om te hoor hoe vêr dit is, was ons aansoek nog nie eens ge-allokeer aan 'n ondersoekbeampte nie.
Hulle moes blykbaar skielik wakker geskrik het, want vanoggend het hulle die dokumente gestuur. Ons PR is goedgekeur! Dit beteken onderandere: Ons kan werk waar ons wil. Ons is amper 'citizens', ons mag net nie stem of weermag toe gaan nie. (Net nie dit nie.) Ons is wel geregtig tot alle voorregte wat Australianers geniet, insluitend die +-R70000 kleuterskool 'rebate' wat 'n duik behoort te maak in Divvie se ($500)+/-R5000 per week kleuterskool fooi. Woohoooo!

Volgende week gaan Jeanelle na New Zealand tot Woensdag. Ek is nog nie seker watse pret ek en Divvie gaan hê terwyl sy weg is nie.

Hoop julle het 'n heerlike naweek!

Baie Liefde en Groete

Johann

Thursday, 9 May 2013

Enkel ouer

Dis verseker met 'n glimlag wat ek hierdie blog begin. Vrydag aand was ons wakker tot middernag om alles gepak en gereed te kry vir Jeanelle se week in San Francisco. Ons het nog 'n laaste voeding op die lughawe ingekry, voordat ons afskeid moes neem en die week begin.

Ons was bedrywig gewees die naweek; oppad terug van die lughawe af is ons (ek en Divvie) by vriende langs vir koffie en aandete(dis nou hier waar ek hoofsaaklik na myself verwys as dit by ete kom). Hy hou daarvan as sy pa nie later as ses uur tuis is om hom te bad en in die bed te sit nie en ek het ampertjies op die verkeerde voet afgeskop. Dankie aan Karel en Lindi vir die heerlike aandete wat ons moes vervroeg, sodat Divvie (wie se volgende voeding in 'n bottel by die huis was) ook betyds kon eet.

Sondag oggend kon ek nie laat wees nie. Die dominee het vroeër die week die program gestuur wat wys dat die ouderlinge reeds aan die begin voorgestel word. As ons oudergewoonte na die aankondigings en eerste lied daar opdaag, sou ek dalk die hele ouderlinge seremonie misgeloop het. Ons was 3 minute vroeg.

Divvie het sommer vroeg al na sy ma verlang en het ontroosbaar begin huil toe hy haar stem oor Facetime hoor.

Die naweek is verder gevul deur 'n braai piekniek na kerk, waarvoor ek met Divvie in die een arm my gasbraaier opslaan en by twee verdiepings se trappe afgedra het, want hy wou nie alleen wees nie. :-)

Vir my was die ergste verby; die tyd tussen voedings in die dag. In die aand slaap hy deur, maar bedags wil hy speel tussen voedings en sy pa raak uit idees uit. Ek hoop nie hy gaan vir die res van sy lewe 'n agterstand hê oor sy pa nie genoeg met hom gespeel en gesels het hierdie week nie.

Maandag oggend was 'n leerkurwe. Ons (ek) moes eers observeer om die tydsberekening reg te kry. Ek het gedink dat ek gou 05:45 sal kan stort voordat Divvie wakker word ('bad idea'). Dit was voed, doek, hom aantrek, tyd op sy maag (terwyl hy AppleTV 'movie trailers' kyk) en ek gou sy bottels vir die dag pak, tyd op sy rug terwyl ek aantrek en skeer en toe vat hy 'n slapie en onthou ek Jeanelle het gesê ek moet na myself ook kyk en ek gryp gou 'n bak pronuto terwyl ek my middagete pak en sy sak gereed kry. Ons het 08:00 begin stap. Dit het soos die groot trek gelyk soos ons die straat op trek. Die stappie wat my gewoonlik 25 minute vat om by die werk te kom, vat toe 30 minute tot halfpad (tot by Divvie se 'skool' wat toevallig op dieselfde pad is.)
Die 'skool' waarheen hy gaan is net van 08:30 tot 16:00 oop en ek het reeds twee weke terug gereël om daagliks 'n ekstra half uur te werk om op te maak vir die korter werksdae, want ek het net van 09:00 tot 15:30 gewerk hierdie week(by my vrygewige werkgewers). Dit was meer van 05:45 tot 18:30.

Toe ek vir Divvie Maandag by die 'skool' gaan haal, het die meisies, wat na hom kyk verduidelik dat hulle sy klere moes ruil, omdat sy doek aan die kant uitgeloop het. Ek het net geglimlag omdat ek dit nie moes skoonmaak nie. Ek het so iets verwag, want dit was die eerste keer sedert Saterdag dat sy maag gewerk het. (Hulle moes verkeerdelik my uitdrukking geinterpreteer, as dié van 'n pa wat nie regtig omgee nie.)

Ek het begin beskuit bak die aand, maar halfpad deur die resep het ek besef dat ek besig was om die hele resep aan te maak en ons mengbak kan net-net die helfte van die resep hanteer. Ek het dit vir 'n oomblik oorweeg om die beskuit in die bad of in die wasmasjien aan te maak.

Teen 22:00 in die aand het ek nie juis gesukkel het om aan die slaap te raak nie. Ek dink ek het elke aand my bewussyn verloor wanneer ek gaan lê het.

Dinsdag oggend was sy bottel reeds warm toe hy wakker word en toe dit by sy slapie kom is hy sommer reguit stootkarretjie toe. Ons was 15 minute vroeg.

Divvie drink een bottel melk in die oggend. Hy moet 3 bottels deur die dag drink en weer een voor hy gaan slaap. (Vyf in totaal as julle telling verloor het.)
Dinsdag het ek vir Divvie 8 doeke, 3 bottels borsmelk en een bottel met formule gepak vir ingeval die borsmelk iets oorkom. Toe ek Dinsdag vir Divvie by die 'skool' kry, sê die meisietjies dat hulle dink hy kry tande agter in sy mond, want hy was onstuimig. Hulle het ook vir hom al sy bottels gegee, al vier!? (Lyk my hulle het hom elke keer as hy huil gevoer om hom stil te kry.) Hy was stokstyf. Die arme kind het byna gekreun as hy asem haal. Sy doek was ook so styf om sy lyf, dat sy bene byna blou was. Hulle moes ook seker 'n spaar doek gehad het, want daar was steeds 8 doeke in sy sak. (Hulle voeter met sy pa se skedule.) Die arme outjie se maag het gewerk, seker om plek te maak vir al die melk. Sy pa was glad nie tevrede nie.

Ons moes jaag om formule te gaan koop en 'n skottel vir beskuit en om vir Divvie gebad te kry voordat ons na die pastorie toe is vir aandete. Die dominee se vrou het vir Divvie opgepas, terwyl ek by die ouderlinge vergadering was. Ek dink dit was net die aandag, speel, gesels en liefde wat hy nodig gehad het.
Die ouderlinge vergadering kan amper 'n blog op sy eie wees. Hulle het nou een van die grootste kritikuste deel gemaak van die groep wat die besluite neem. Nou is dit my verantwoordelikheid om 'n verskil te maak.
Dinsdag aand was ek bietjie later in die bed want ek moes eers bottels steriliseer en gou vir Jeanelle wakker bel.

Woensdagoggend kon ek sap maak en die versapper skoonmaak en nog 15minute vroeg by Divvie se 'skool' wees. Reg om die meisies 'n les in kinderoppassing te gee (Divvie huil net as hy moeg en honger is en moet nie elke keer gevoed word as hy huil nie), loop ek sommer in die baas van die plek vas. Sy was amper ongemaklik vriendelik nadat ek my griewe met haar gedeel het en sy vir my die rekords gewys het van die vorige dag met al sy voedings en doeke daarop. (Sy kry toe ook sommer 'n les.) Hulle was daarna baie versigtig. Hulle het gesien hierdie pa 'check' hulle op. Toe el daardie middag daar aankom toe kry ek 'n verslag van wanneer hy geslaap het, hoe lank, hoeveel doeke, wat was in hulle, wanneer hy gedrink het en hoeveel.
Duidelike instruksies. ("over engineering")

Ek het nadat ek die botter in die meel ingevryf het, besef dat ek nie genoeg olie het vir die hele baksel beskuit nie.

Teen Donderdag oggend was ons al so ge-olie, dat ek vir myself kon eiers gaarmaak met kaas, tamatie en roosterbrood en nog 20 minute vroeg was by die 'skool'. Die meisies het maar lig geloop vir Divvie se pa.
Ons tel die voedings af...

Ek het nie die dae afgetel tot Jeanelle terug gekom het nie, maar die voedings. En teen Donderdag aand was dit nog net een voeding oor (06:00) voordat sy terug is.
Net om af te 'show', het ek sommer gou die beskuit klaargemaak. (Pleks dat ek geblog het.)

Baie liefde en groete,

Johann

Thursday, 2 May 2013

Possak

Vrydag (na Donderdag se vakansiedag) was dit doodstil by die werk, omdat meeste mense verlof gehad het en 'n langnaweek gemaak het, was daar min navrae.
Jeanelle het die Suid Afrikaanse Hoëkommisaris gekontak om te hoor of hulle al die week se possak oopgemaak het, maar hulle het nie tyd gehad nie. As 'n vakansiedag op 'n Saterdag val in Australië, dan is die Maandag 'n vakansiedag. Die Suid Afrikaanse Hoëkommisaris kies die beste van beide wêrelde en was Maandag toe, omdat Saterdag 'n vakansiedag in Suid Afrika was!? Teen Dinsdag was die sak nog steeds nie oopgemaak nie. (Geen haas nie.)
Hulle het ons darem verseker dat ons ten minste 'n tydelike paspoort vir Divvie sou hê oor 'n paar weke en dat ons maar ons kaartjies kon koop. Jeanelle en Divvie het sommer saam met my kom middagete eet en ons kaartjies Suid Afrika toe is gekoop!

Dit was verlede Saterdag 'n spesiale saamkoms by die kerk om die tuin reg te ruk. Hier is nie tuindienste nie. (Of miskien is hier, maar terwyl die gemeente bereid is om te help, laat hulle help.) Die dominee het die take gelys en ek het vroeg reeds gewonder wat my besiel het; gras-sny, rante, bedding 1, bedding 2, paatjies, geute... Ek wou nou nie juis iemand van hulle gunsteling taak ontneem nie en het aanvanklik gedink ek sal die muur van herindering se naamplaatjies brasso. Ek het nog vir die ketel gewag om te kook (dit was 8:30 op 'n Saterdag oggend), maar toe ek weer kyk is almal besig. Een man is besig om die gras se rante te sny met 'n skêr, 'n ander is besig om die rante met 'n lem-wieletjie af te ry en nog iemand is besig om die 'weat-eater' aan die gang te kry. (Ek was seker dat die gras se rante aan die einde van die dag gesny sou wees.)

Die een vrou spring sommer in die bedding in en begin blare bymekaar maak met haar hande. (Ooh hê ê!) Ek is nog nie vertroud met al die spinnekoppe en skerpioene wat in Australië se tuine woon nie. Die eerste ding wat ek toe sien (en besef dit sal my uit gevaar hou) was ‘n snoeiskêr. Dit was die eerste keer dat ek in die tuin gewerk het in 2 jaar. Ek het hard gewerk, geen idee gehad wat ek doen nie, maar het dit baie geniet. Ek het later ‘n elektriese laning snoeier ook gekry en vir Jeanelle gesms om vir my handskoene te koop ingeval die snoeiwerk op raak en ek my hande moes vuil kry. So versigtig vir spinnekoppe soos ek is, het ek op een stadium perongeluk ‘n spinnekop nes oopgesny. (Gelukkig kon die engelse mense nie verstaan wat ek in Afrikaans sê nie!) Die kerk se bome is nou almal mooi rond gesny.

Na die tuinwerk het ons saam met die Suid Afrikaanse vriende met die drie seuntjies by die Spur gaan eet (ons werk nogals die Suid Afrikaanse restaurante in so kort voordat ons kom kuier), waarna die dominee en sy gesin aangebied het om bietjie na Divvie te kyk. Ons eerste ‘date night’ sedert sy geboorte! Ons het amper nie geweet wat om met onsself te doen nie. Divvie is gebore die aand voordat ons vir oulaas sou gaan fliek en dít is toe reguit waarheen ons gegaan het. Dit was anders. Hoewel ons verlang het, was ons altwee skielik meer ontspanne en dit het ons net 2 minute gevat om van die kar tot binne in die fliek te kom, met kaartjies en verversings. (Daar is ‘n rede waarom ‘stootkarretjie parkering’ spesiaal gemerk word in Australië. Dit vat gewoonlik ‘n rukkie vir die hele gesin om in of uit ‘n motor te kom. Ons kon na die fliek rustig gaan koffie drink, voordat ons hom oplaai. Divvie was rustig en die dominee het nie te oorgretig gelyk om hom terug te gee nie. En Divvie het heel tevrede gelyk, so ons hoop dat dit die begin van vele ‘date nights’ sal wees.

Sedert Donderdag het Divvie nog nie ‘n vuil doek gehad nie en ons het bekommerd begin raak dat daar iewers, iets sy sisteem gekonstipeer het. Om net bietjie te ‘brag’: Divvie kan nou offisieel deur die nag slaap, 18:30 tot 06:00, sonder om wakker te word vir ‘n voeding. (Sy ouers doen óf iets reg, óf hulle is net baie gelukkig!)
Sondag oggend, toe hy begin woelig raak, gaan maak ek hom gou stil voordat Jeanelle wakker word. Ek ruik toe sommer, toe ek by sy kamer inkom, dat die doekstaking tot ‘n einde gekom het. Ek kon nie help om Jeanelle wakker te lag toe ek sien dat sy doek agterstevoor aan is met die plakkers op sy rug nie. Hy was lekker (by gebrek aan ‘n beter word:) beskuit.
Sondag kon ek voel dat ek in die tuin gewerk het; my arms en bolyf was lekker seer.

Teen Woensdag het die hoë kommisaris uiteindelik die possak oopgemaak en Divvie se geboorte sertifikaat aangestuur. Donderdag het hulle ook die regte Paspoort opgespoor en dadelik vir ons gepos. (Behoort op die laatste Maandag volgende week hier te wees)!
Paspoort Foto :-)
Jeanelle gaan van Saterdag tot Vrydag San Francisco toe, so dis net ek en Divvie hierdie week! (Hou maar vir ons duime vas.)

Baie liefde en Groete

Johann

Friday, 26 April 2013

On-Vriend

Ek het begin om te skryf en na 2 bladsye besef dis al ‘n 1 uur lange preek, sonder om enige sang, aankondigings of gebede in te reken. In kort was die boodskap iets van kommunikasie. Hoe maklik dit is om die foon op te tel, maar hoe ons nie altyd die moeite doen nie. Dis makliker om iemand af te skryf, of nog makliker, te ‘Un-Friend’(Facebook). Dalk is ek net so bietjie suur want Jeanelle kan nie Vrydag saam met my middagete eet nie, want sy het ‘n ‘afspraak’ met ‘n vriendin wat haar net ge-‘un-friend’ het (toemaar dis in Australië en as jy nie Vrydag ‘n middagete afspraak met Jeanelle het nie, is jy veilig).

Jeanelle het met die Suid Afrikaanse Hoëkommisaris gepraat oor ons vakansie-planne en dat ons nie juis vir Divvie wil doop as hy groot is (hy is alreeds groot, maar al loop) nie. Ons wag vir sy ID-nommer om aansoek te kan doen vir ‘n tydelike paspoort, om hom op die Visum by te voeg, sodat ons Suid Afrika toe kan vlieg. Na vele oproepe gee hulle toe vir Jeanelle ‘n kontak nommer in Suid Afrika om self te probeer. Binnelandse Sake wou nie die nommer oor die telefoon gee nie maar stel toe voor dat ons iemand in Suid Afrika met ‘n brief na ‘n tak stuur. Hulle kon ook bevestig dat hy al ‘n regte paspoort het, maar dié word in die geheim na Australië toe gestuur en niemand mag sê wanneer nie. (Hoop dis binnekort.)
Ons stuur toe vir Ma (Ouma) Gerda. (Die oumas en oupas is nou al moeg gewag om vir Divvie te ontmoet.) Terwyl die dametjie vir haar baas gaan vra of sy die ID nommer mag uitgee, leun Ouma Gerda toe sommer oor die toonbank en skryf die nommer af. Die aansoek vir sy tydelike paspoort is nou in!

Verlede naweek was dit koud en nat in Sydney. Na so ‘n bietjie gesukkel om ‘n lekker restaurant te kry wat beskutting teen die elemente het (en diens), het ons saam met vriende ontbyt geëet. Sondag, na kerk, middagete by die pastorie en voor ons ons oë kon uitvee was die naweek verby!
Ons het almal so bietjie verkoue gehad hierdie week. Arme Divvie het maar gesukkel om asem te kry terwyl hy suig, maar hy is nou weer beter. Gepraat van Divvie;  hy begin nou sy arms onder beheer kry en hy het al 3 aande hierdie week deurgeslaap.

Woensdagaand was ons vir die eerste keer na ‘Lucky Tsotsi’, ‘n Suid Afrikaanse Restaurant in Sydney. Ons het soos baie slegte ouers gevoel toe ons 19:30, uit die koue uit, in die raserige restaurant inloop met Divvie in ‘n sy stootkarretjie. Vir ‘n verandering was ons nie die mense wat gesê/gedink het: “Wat maak hierdie mense so laat uit met die babatjie!” nie, ons wás die mense. Hulle spyskaart het onder andere pap en wors, ‘bunny chow’, Durban samoosas en ‘n biltongbord gehad en ons kon groen Cream Soda en Suid Afrikaanse bier geniet. Die dekor het ons effens aan ons eie sitkamer laat dink, met allerande Afrikakkies.

Hier is 'n video wat ons op ons piekniek geneem het (Donderdag was ANZAC dag, 'n Nasionale vakansiedag in Australië en ons kon bietjie rustig wees). Divvie lek alles wat naby kom, toe span ek hom in om te help.

Jeanelle se San Fransisco trip is bespreek en ek het nog 'n week om alles te leer wat nodig is.

Die volgende stop is Facebook om te kyk of ons nog vriende is…www.facebook.com :-)

Sien julle binnekort,

Baie Liefde en Groete

Johann